Ek is een van die ‘originals’ – Bloemhof Laer in sub A en B, daarna Laerskool Paul Roos en PRG.
Ek is op 24 Junie 1955 in Cradock gebore, waar my pa in die distrik Steynsburg op Bulhoek (Paul Kruger se geboorteplaas) met merino’s geboer en wol via PE na Engeland uitgevoer het. Droogte het hom gedwing om die plaas te verkoop en ons beland via my ouma van Bellville op Stellenbosch, waar my Pa werk kry as die kroegman van die Dros. Hy het heelparty skoolmaats van my (ook as studente aan US) as kliënte gehad. ‘n ‘Riches to Rags’-verhaal waarin my ouers eers toe ek in standerd 4 was, weer n motor kon bekostig.
Maar hierdie seun se verhaal sal onvolledig wees as ek nie die rigtinggewende rol van God in my lewe vermeld nie. In standerd 9 woon ek gedurende die US-Sendingweek ‘n diens van Ds Murray Janson by in die Studentekerk , en word daar bekeer.
My skoolloopbaan verloop soos volg:
In standerd 1 wen ek ‘dinky toys’ omdat ek eerste ‘n storieboek deurgelees het. (My onderwyseres het my eers nie geglo toe ek haar die volgende dag meedeel dat ek klaar is met my boek nie. My ma moes eers ‘n afspraak met haar maak om haar te vertel ek het die nag nie geslaap nie omdat ek gelees het!.)
In standerd 5 kry ek die laagste slaag-persentasie in Oom Sam se klas (weens persoonlike probleme, maar kom ons sê maar ek was ‘n ondergemiddelde skolier).
Die hoogste rang wat ek as rugbysspeller gehaal het, was onder-16 B. (Skip se hond het hom eendag met ‘n oefening Coetzenburg toe gevolg en moleste veroorsaak deur die bal tot in die skrums te jaag!). Ek was in matriek CSV-kringleier en wen in 1973 die 110m-hekkies in die driehoekige byeenkoms teen SACS en HHH op Coetzenburg. Dit help ons om die byeenkoms net-net te wen. Dit was my eerste en laaste wen van n atletiek-nommer! Na die hekkies-oorwinning dink Mnr O’Kennedy ek moet seker spoed hê. Hy sit my dadelik in die 4 x 100m-aflos en laat my wegspring … groot fout! Toe ek die stokkie vir Waldo oorgee, toe lê ons heel laaste!!
In 1973 kry ek toestemming van Chief om in Prima Nova-koshuis te bly en slaag matriek (deur genade van Bo!) deur verwoed te ‘spot’ tussen 08:00 en 10:00 in die saal voor ons skryf.
Gunsteling onderwysers: mnre Kapp, Wicomb, O’Kennedy, Scheltema, Oom Dirk Swart, Tant Sienna en haar man, Oom Sam, Sparks Esterhuysen en Ockie van Wyk.
Na skool:
- 1974 militêre diensplig: Voortrekkerhoogte, Bloemfontein en Militêre Akademie Saldanha; laaste kamp Operation Thunder Chariot te Lohatla in 1984.
- 1975 – 1977 Studeer BA (Regte) aan US.
- Ek het nie vir enige van my betrekkings aansoek gedoen uit eie inisiatief nie (behalwe my eerste pos by ABSA, toe ek agtergekom het dat ek maar tweederdes van ‘n data-tikster by US se salaris verdien). Die Here het vir elke pos gesorg, of iemand oor my pad laat kom wat dit vir my aanbeveel het, of iemand gebruik om my te ‘head hunt’.
- 1977 – 1981: Werk by landdroskantoor in Kuilsrivier (klerk van die hof), Wynberg (staatsaanklaer, ontmoet in 1977 my eggenote, Rita en ons is in 1979 getroud), Clanwilliam (ek het die staatsaanklaerskantoor daar geopen as die dorp se eerste Departement van Justisie-aanklaer), en Springbok (staatsaanklaer en landdros).
- 1982 – 2007: Santambank, Burgstraat Kaapstad: hoof van regsafdeling; later kredietbestuurder en verbandspesialis.
- Bank-amalgamasies: Trustbank, Goue Akker, Kaapstad. Bankorp/Absa-regsafdeling, Finansieringsafdeling, Insolvensies en bestorwe boedels; wen Absa ‘Prestige Leadership Award’ in 2007).
- 2008 – 2017: Absa Kommersiele Eiendomme (Tijgerpark Bellville en Century City Kaapstad); Credit Compliance Officer tot my aftrede einde 2017 waar ek steeds langs die Parow-gholfbaan woon.
Gesin:
Rita (oorlede weens kanker op ouderdom 52 na ‘n huwelik van 31 jaar), dogter Tanya (skoonheidsterapeut wat haar eie besigheid bedryf); seun Pieter (IT-spesialis by ‘n SA maatskappy wat uitgekontrakteerde werk vir internasionale besighede doen), sy vrou Monique (binnenshuise versierder) en kleinseun Theodore (5 maande oud).
In 2020 is ek gediagnoseer met n aggressiewe kanker in my dunderm na ek oornag ‘n noodoperasie vir erge buikpyn ondergaan het. ‘n Paar weke na my operasie het ek ‘n volle liggaamskandering gehad, wat gewys het dat daar geen tekens van kanker enige plek in my liggaam is nie. Die Groot Geneesheer het my volkome genees!
Buitemuurse aktiwiteite:
Muurbal: WP 4b-liga tot 1979;
Rugby: Van der Stel 0/21, Rundu Weermagkamp, Clanwilliam, Santambank Kaapstad, Touchies in WP Sosiale Liga tot ouderdom 49;
Atletiek: 10 km-padwedlope tot my knieë opgepak het in Junie 2021. Ek het my eerste marathon op ouderdom 50 gehardloop en my laaste een op 52.
Deesdae swem en stap ek om oefening te kry en ek werk semi-voltyds as tesourier van n NPO-Kerk, Isaiah 61 Care Ministries.



