Categories
Profiele

Pieter van Zyl

Ek is op 16 Februarie 1956 op Stellenbosch gebore as ‘n agste geslag afstammeling van Willem van Zijl, die Van Zyl-stamvader in Suid-Afrika wat van Nederlandse herkoms was. My pa (SAS van Zyl), twee broers (Theo/Baldie en Marvan) en my seun (Bertus) was ook almal op PRG, terwyl my skoonseun (Marinus Pretorius) tans ‘n onderwyser aan PRG is. Ek is in 1980 getroud met René en ons is gesëen met twee kinders en vier kleinkinders – van wie twee kleinseuns (Sebastian en Matthys) bestem word om ook oor ‘n paar jaar deur PRG te gaan!

My ouers het besluit om ons in die Engelsmedium-klas te laat onderrig, terwyl ons huistaal Afrikaans was – met die oorweging om ons ten volle tweetalig te laat grootword. Die gevolg was dat sub A en B by Rhenish Laerskool voltooi het. Saam in die klas was destyds John Donald, Alfred Downing, Charl du Plessis en Jakkie Cilliers, wat ook in die Klas van 1973 aan PRG klaargemaak het.   

My vyf jaar aan PRG was ‘n wonderlike en baie gelukkige fase van my lewe – die skool se huidige credo som dit waarskynlik die beste op, met die akroniem ‘PRG HEIR’: ‘Pride, Respect, Gentlemanship, Humbleness, Excellence, Integrity & Responsibility’. Dit is hierdie waardes wat ek by PRG aangeleer en saam met my die toekoms ingeneem het.

Vir my was Chris Kapp ‘n model-onderwyser – hy het Geskiedenis laat lewe met sy goed voorbereide lesplanne en ook gereelde flieks oor geskiedenis-onderwerpe. Ander uitstaande onderwysers uit ons era was David Taylor, John (‘Shorty’) de Vries en oom Giel de Wet.

Die sportgeleenthede aan PRG is ‘n ander baie aangename herinnering, veral rugby, atletiek en krieket wat ek beoefen het. Ons het uitstaande onder-13A, onder-14A, onder-15A en onder-16A rugbyspanne gehad, wat op ‘n enkele uitsondering na elke jaar al die spanne in die Wes-Kaap die loef afgesteek het: Paarl Gim, Paarl HJS, Bishops, Rondebosch, SACS, Wynberg, Strand en Hottentots Holland – dit was net teen HS Tygerberg dat ons elke jaar vasgeval het, maar nooit met meer as drie punte nie! In 1973 het onder-19A gelykop gespeel teen Tygerberg!! My groot teleurstelling in Matriek was dat ek die grootste deel van die seisoen op die kantlyn was met ‘n enkelbreuk en daarna rehabilitasie – maar gelukkig kon ek darem die laaste drie wedstryde van die seisoen vir die onder-19B’s speel en in die jaarlikse Old Boys-wedstryd vir onder-19A.

Na skool is ek Universiteit Pretoria toe vir vyf jaar, om BSc Stads- en Streekbeplanning te swot. Ek was vir al vyf jaar ‘n inwoner van Huis Mopanie. Ook lekker rugby gespeel, sowel in die koshuisliga as vir Tuks onder-19A, onder-20A en Fezelas. ‘n Jaarlikse hoogtepunt was die intervarsity met Tukkies teen Maties – en wanneer dit op Stellenbosch was, het dit gepaard gegaan met ‘n koshuis-rugbytoer en ‘n wedstryd teen een van die koshuise op Stellenbosch. Een jaar was dit teen Wilgenhof en ‘n ander keer was dit teen Helshoogte – en na die wedstryde is daar heerlik saam gekuier!

Aan die einde van 1978 het ek graad gevang. In 1979-1980 het ek my nasionale diensplig gedoen, eers in Kroonstad by Genieskool vir Basies/JL’s/Jong Offisiere-kursus en toe is ek as luitenant uitgeplaas na 2 Veldgenie Regiment in Bethlehem. Weereens twee jaar van lekker rugby: in 1979 wen Kroonstad Weermag die Noord-Vrystaatliga en in 1980 eindig Bethlehem Weermag tweede in die Oos-Vrystaatliga.

Die grootste gebeurtenis uit my dienspligtyd in Bethlehem is egter dat ek vir René daar ontmoet het. Nadat ons mekaar in Februarie 1980 ontmoet het, het ons in Julie verloof geraak en is op 19 Desember daardie jaar op Stellenbosch getroud. Ons dogter, Magdel, is in 1983 gebore en ons seun, Bertus, in 1986.

My professionele loopbaan as Stads- en Streekbeplanner het in 1981 begin toe ek ‘n pos in Stad Kaapstad se Stadsbeplanning Afdeling aanvaar het. Ek is in 1987 aangestel as die stad se eerste Ontwikkelingskoördineerder. In 1987 voltooi ek ook die Eiendomsontwikkeling- en Bestuursprogram aan die Universiteit van Kaapstad se Nagraadse Bestuurskool. In 1991 verwerf ek ‘n magistergraad in Stads- en Streekbeplanning aan die Universiteit van Pretoria.

In 1990 bedank ek by Stad Kaapstad om ‘n pos te aanvaar as die Uitvoerende Bestuurder: Beplanning en Ontwikkeling vir die V&A Waterfrontprojek in Kaapstad. Ek was vir 17 jaar betrokke by die Waterfrontprojek, wat sonder twyfel die hoogtepunt van my professionele loopbaan was. Ek was verantwoordelik vir ‘n ontwikkelingsportefeulje van R 2,5 biljoen, wat al die kleinhandel-, kommersiële, kantoor-, hotel-, industriële en museumprojekte ingesluit het. My werk by die Waterfront het my ook die geleentheid gebied om twee van my passies uit te leef: reis en fotografie – tot vandag toe bly dit steeds twee gunstelingtydverdrywe. Voorts was ek bevoorreg om namens die V&AW op te tree as ‘n raadgewer vir waterfrontprojekte in Mauritius, Portsmouth, Gaboen, Nigerië, Griekeland, Rusland en die Sultanaat van Oman. 

Aan die einde van 2006 is die V&A Waterfront deur Transnet en die Transnet Pensioenfondse (as eienaars) verkoop aan ‘n internasionale konsortium uit Dubai en Londen, vir die rekordbedrag van R 7,5 biljoen en die nuwe eienaars het die ontwikkelingsprogram tydelik op ys geplaas. Een van my baie hoogtepunte uit hierdie periode was ‘n ontmoeting en terreinbesoek wat eertydse President Nelson Mandela op 11 Desember 1996 met die V&AW-bestuurspan gehad het. Tydens die besoek het hy voor in my kopié van ‘Long Walk to Freedom’ geteken: “Aan Pieter, Beste wense Nelson Mandela.”

Ek het in 2007 ‘n vyfjaar-kontrakposaanstelling by Stad Kaapstad aanvaar, as Uitvoerende Direkteur: Strategie en Beplanning. Dit was opwindend om deel van Span Kaapstad te wees in die finale aanloop en tydens die FIFA 2010 Sokkerwêreldbekertoernooi. Daar was in die tyd ‘n groot aantal kapitaalprojekte wat geïmplementeer is, soos die Kaapstad Stadion, die MyCiti-busvervoerstelsel, die ontwikkeling van die Groenpunt Park en die opgradering van die Parade.

In Julie 2010 word ek genader deur ‘n Executive Placement Agency uit Dubai, oor ‘n pos as Beplanningsbestuurder by die Abu Dhabi Tourism Development & Investment Company (TDIC), ‘n staatskorporasie. Na ‘n vinnige werwingsproses, ‘n reeks onderhoude en ‘n besoek aan Abu Dhabi, word ek die pos aangebied en begin ek op 1 Oktober 2010 by TDIC te werk. René het saam met my gegaan op hierdie Midde-Oosterse avontuur. Dit was ‘n ervaring om in hierdie woestynkonteks en in ‘n Moslemkultuur te gaan werk. Die fokus van my TDIC werk was om ‘n meesterplan en uitvoerbaarheidstudie te doen vir die herontwikkeling van Abu Dhabi se historiese ou hawe (‘Mina Zayed’) vir ‘n waterfrontprojek. Die studie is in Oktober 2011 voltooi, maar TDIC het die implementering daarvan teruggehou. Hierdie plasing in Abu Dhabi het ons weereens die geleentheid gebied om baie te reis.

In Oktober 2011 adverteer die Wes-Kaapse Provinsiale Regering (WKR) die pos van Departementshoof: Omgewingsake & Ontwikkelingsbeplanning in Kaapstad. Ek is suksesvol met my aansoek en in Desember 2011 keer ek en René terug Kaap toe, vir my om op 1 Januarie 2012 diens te aanvaar. Ek het twee vyfjaar-kontraktermyne by die WKR voltooi en tree op 28 Februarie 2022 af op pensioen. Hierdie tienjaar-periode was, naas my tyd by die V&A Waterfront, professioneel die mees vervullende tydperk van my loopbaan. Een van die redes daarvoor was die uitstekende werksverhouding met my politieke hoof, Minister Anton Bredell, Wes-Kaapse Minister vir Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning. Anton is ook ‘n oud-PRG man, uit die Klas van 1983. Van die hoogtepunte uit my WKR periode was die deursien van wetshervormingsprosesse vir Grondgebruikbeplanning en Biodiversiteit in die Wes-Kaap Provinsie.

Na my uittrede verlede jaar by WKR het ek ‘n ‘sabattical’ geneem vir die res van 2022. Dit het hoofsaaklik gefokus op familietyd en eie tyd. Ek en René het in Maart tot Mei vir tien weke in Napa, Kalifornië, by Bertus en sy gesin gaan kuier en saam met hulle vir ‘n week na Hawaii gegaan. Ons het ook op ons eie deur die VSA getoer en nasionale parke soos Yosemite, Grand Canyon en Joshua Tree gaan besoek. In September en Oktober het ons op ‘n vyf-wekelange pelgrimstog na Israel gegaan – ‘n wonderlike en geestelik verrykende ervaring. Tussen ons twee oorsese reise, aan die begin van Augustus, moes ek by die Stellenbosch Ortopediese Medikliniek inboek vir ‘instandhouding’ en ‘n volle regterknie-vervangingsoperasie. Met ‘n goeie chirurg en intensiewe biokinetiese rehabilitasie kon ek teen laat September met gemak al ons staptogte in Israel aanpak.

Ek het my onlangs verbind om as raadgewer op te tree op twee ontwikkelingsprojekte, een op Stellenbosch en die ander op Mosselbaai. As ek nou terugkyk op my loopbaan en die 50 jaar sedert ons ons skoolloopbane aan PRG afgesluit het, gee ek my bemoediging aan al die klasmaats uit Jeremia 29:11 – “For I know the plans I have for you,’ declares the Lord, ‘plans to prosper you and not to harm you, plans to give you a hope and a future.” Dan is daar ook my twee ‘maxims’ wat my altyd gefokus hou: “Soli Deo Gloria” – Eer aan God alleen en “Carpe Diem” – Gryp die dag.

Semper Splendidior

PIETER VAN ZYL (Somerset-Wes) 2023