10 Sept 2010
Jannie Hanekom se herinneringe
Nicola Freidberg het in 1972 in standerd 9 na Paul Roos Gimnasium toe gekom vanaf die ou Suidwes. Hy het standerd 8 in 1970 voltooi op Mariental, waar sy pa skoolhoof en inwonende koshuisvader was.
Die volgende jaar (1971) het hy, ipv standerd 9, na die Windhoek Konservatorium gegaan en ‘n jaar lank net klavier studeer. Hy was ‘n hoogs talentvolle pianis en het ook tydens vakansies as kerkorrelis in Maltahöhe gehelp.
Op Paul Roos het hy uitgeblink in klavier en akademies ook goed gevaar. Hy het tydens interskole (toe nog teen Hoërskool Hottentots-Holland) die singsongs op klavier begelei, saam met die ander orkeslede.
Hy was stillerig en het in ‘n redelike mate sy eie gang gegaan, maar het ‘n eiesoortige en puik sin vir humor gehad. Ek en hy het ‘n nou band gehad en kon kopstukke gesels.
Na matriek het hy B Mus aan die PU vir CHO (Potchefstroom) gaan studeer. Ek het hom ‘n paar maal op naweekpas uit die Lugmag gaan besoek.
Daarna het ons paaie effens uitmekaar geloop. Ons het mekaar wel vanaf enkele jare later, toe hy terug in Kaapstad was, dikwels by operas en simfoniekonserte raakgeloop, en dan land en sand gesels. Dit het egter met verloop van tyd minder geraak, tot ek enkele jare gelede uitgevind het dat hy oorlede is. Ek het egter geen detail, en weet ook nie presies wanneer nie.
Ons onthou hom met liefde, deernis en waardering.
