Gebore op 23 Junie 1956 in Stellenbosch, bring Kobie wonderlike kinderjare op die proefplaas Welgevallen naby Coetzenburg saam met Milky (Melchior) en die ander kinders van die plaas deur. Sub A en B word op Bloemhof en Standerd 1 tot 5 by Laerskool Paul Roos gedoen.
Koibie vertel: Die logiese ding vir ons was om PRG toe te gaan vir ons hoërskooljare. Van die akademiese kant onthou ek nie veel nie, het darem universiteitsvrystelling gekry. Ek het my rugby baie geniet en deur die jare baie goeie vriende gemaak.
Gedurende 1972 het ek een van die See-en-Sand-kampe bygewoon, waarna ek en oorlede Dawid van Niekerk by Swartvlei aan die seekant diens gedoen het. Ek het daarna elke geleentheid aangegryp om tyd by die see met swem en visvang deur te bring.
Saam met Skip, Hannes en Michael is na matriek opgeroep na 7SAI te Bourkes Luck naby Graskop. Die ander drie is vort na basies en het ek as Kapenaar agtergebly saam met volksvreemde binnelanders.
As sewentienjarige was grensdiens ‘n groot avontuur wat ek glo ‘n meer volwasse jong man van my gemaak het. Ek het ook daar besluit dat om my studierigting te verander van B Com na BSc Landbou. Na voltooiïng van my studies op Stellenbosch het ek werk as landboukundige by Sentraoes aanvaar.
Ek trou met Elsa (Weskusmeisie) in 1981 en vestig ons in Heidelberg, Kaap, waar ons woonagtig was vir 16 jaar. Gedurende hierdie tydperk kon ek my liefde vir hengel op die Breederivier uitleef.
Gedurende 1997 verhuis ons na die Napieromgewing waar ek deur ‘n maatskappy as “Estate Manager” op een van hul plase aangestel was. Hier het ek my boerderykennis geslyp en gespook om dit tot baie suksesvolle boerderybesigheid uit te bou.
Gedurende 2013 word ek na die maatskappy se hoofkantoor naby Durban verplaas. Ons besluit om ons te vestig op Scottburgh aan die Suidkus omdat dit ‘n meer landelike atmosfeer langs die see het. My werksaamhede as “Group Agronomist” neem my na Zambië, Mosambiek, Swaziland en natuurlik die Laeveld (Komatipoort).
Gedurende 2020 tree ek amptelik af en ons besluit om te verhuis na Dwarskersbos, waar ons hoop om ons oudag deur te bring. Deur die genade is ons albei nog baie gesond en geniet ons die lewe ten volle. Ons toer baie graag en is ten minste 2 -3 maande elke jaar oppad iewers heen (gewoonlik eindig ons toere meestal in Hentiesbaai om gou ‘n paar galjoene te vang).
Ons het ‘n getroude seun (in Kanada) en getroude dogter (Durbanville) met een kleindogter.





