
Na matriek, army toe vir ‘n jaar in 1974. Basiese opleiding saam met Danie van Niekerk en Eg Sippel by 8 SA Infanteriebateljon op Upington gedoen en daarna ‘n drywer op Walvisbaai (Rooikop), steeds saam met Eg.
Maties toe vir BCom en LLB, waar Anthony Melck (Ekonomie) en Andreas van Wyk (Regte) groot invloed op my lewe was.
In terme van my Staatsdiensbeurs en terugwerkskema, was ek 9 maande lank ‘n staatsaanklaer in die Strand, voordat ek Londen toe is om verder te swot. Iewers tussen-in is ek toegelaat as advokaat. Ewig dankbaar vir die PRG Rhodesbeurs (‘n jaar na Skip s’n en op sy voorstel!). By die London School of Economics (LSE) doen ek nagraads Ekonomie, Arbeidsreg en Arbeidsverhoudinge.
Dié keuse was na aanleiding van die Wiehahn-verslag oor arbeidshervorming en basiese regte vir alle werkers, wat voorloper was van wyer politieke veranderinge later.
Terug in SA in 1984 bestee ek ‘n jaar by die Deparement van Arbeid in Pretoria (weer eens weens beursverpligtinge) en help om die nuwe arbeidsregbedeling te vestig. Ou burokrate en nuwe regte vir almal – dit was maar ‘n moeilik jaar.
Kry toe geleentheid as arbeidsattaché in Genève, Switzerland, waar ek adviese aan SA se Dept van Arbeid oor internasionale praktyke aan die een kant moet voorsien en aan die ander kant die moeilike taak het om te verduidelik hoekom arbeidsregte in Suid-Afrika bestaan, maar waar is die politieke regte?
Terug in SA was ek navorsingsdirekteur 3 jaar lank by die Nasionale Mannekragkommissie (NMK). In die uitdagende jare hou ek my besig met arbeidswetgewing, onder meer met wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge, basiese diensvoorwaardes en werkloosheidsversekering. Met 1994 aan’t kom, ontbind die NMK en soek ek werk.
Vroeg in 1993 begin ek by die Kamer van Mynwese as arbeidsonderhandelaar en twee jaar later beland ek by Anglo American doenig net arbeidsreg en arbeidsverhoudinge. Werk saam met Bobby Godsell en later in AngloGold Ashanti (AGA) betrokke by vele arbeidsinisiatiewe, soos arbeidsbeleid, vakbonde, loononderhandelinge, voorsorg- en pensioenfondssake. Diep betrokke by eerste vakbonddeelname aan aandeelskemas in die mynbedryf en onderhandelinge oor maatskappybefondsing en beskikbaarheid van HIV medikasie (nog voor Regering dit sou doen).
Doen verdere studies in Pensioenreg (Wits), Internasionale Arbitrasie (London) en kwalifiseer as ‘n Coach by UCT Sakeskool.
Later word ek hoof van AGA se afdeling vir regs-en arbeidsverhoudinge, maar besluit op 57 genoeg is genoeg en los korporatiewe lewe vir ‘n meer rustige Tuinroete-lewe in Mosselbaai-omgewing. Doen nog konsultasiewerk van tyd tot tyd.
Saam met Isabel, my lewensmaat, het ons al jare ‘n huis en plot met bietjie wingerd, in die suidweste van Frankryk. Sedert 2020, na Covid, woon ons permanent in Frankryk. Een seun is saam met sy gesin by ons in die Franse platteland. Die ander seun is in SA.
Wat ‘n voorreg om by PRG te kon wees! Paul Roos en sy mense het vir ons beginsels, rigting en geleenthede gegee.
Semper Splendidior!
