Categories
Profiele

Ferdie Gerber

Om iets oor jouself te skryf is byna soos om die tru-spieëltjie te kyk…mens kyk na refleksies op jou pad. So die vraag is: Hoe was my pad? Wel, ek het definitief tye spandeer op voetpaaie, stofpaaie, bospaaie, sinkplaat-paaie en af en toe op teerpaaie … en hoewel die paadtjies somtyds rof en deurmekaar was, onthou ek dit as huppel stappies, meestal gevul met ‘n lied in my hart.

Terug na Paul Roos. My dae het by die Laerskool Paul Roos begin in 1968 (Std 5) – met Mnr Burger as ons klas onderwyser. As nuweling het ek aanvanklik effens alleen gevoel, maar het darem gou vriende gemaak met ‘n lekker klomp maats. ‘n Hoogtepunt van daardie jaar was my deelname in die O/12B rugbyspan (ek was nogal die kaptein). Dit was ‘n besondere span – ons was onoorwonne – 12 wedstryde gespeel en almal gewen (252 punte vir en 0 teen!).  Van skool werk daai jaar onthou ek min, maar wat ek wel onthou was hoe ons na Hannes se plaas op Meerlust met die chauffeur gedrewe Cadillac van Jan Maartens se Pa teen 100 myl per uur gery het vir ‘n partytjie. Die volgende jaar (1969) was die begin van my 5-hoërskool jare by PRG. Die tye was vir my uiters genotvol, ten spyte van die vele pakslae wat ons vir allerlei kaskenades (van lang hare tot uitspring by vensters) gekry het. Ek was nie heeltemal hopeloos met my akademie nie, en ek het selfs ‘n paar pryse gewen vir Boekhou (dink niemand van die werklike slim ouens het die vak gekies nie!). Was by Mnr de Wet as ek reg onthou. Sport was egter my groot liefde op skool en ek onthou met genoegdoening die talle rugby en krieket wedstryde en oefeninge (hetsy tuiswedstryde by Coetzenburg en die “ou” Markötter velde, en weg-wedstryde by die Kaapse en ander Bolandse skole).  Deur sport het ek sterk bande met vele talentvolle sportmanne, op en van die veld gesmee. Sommige (soos Danie, Weppie, Pieter van Zyl ens) was saam met my vanaf Std 6 to Matriek in dieselfde  rugbyspan (‘56’ers’).  Ons was ‘n sterk span het selde verloor [of is die my selektiewe geheue?]. In Matriek het ons by die ou manne (55’ers) aangesluit en het ek die eerste keer saam met groot geeste soos o.a. Skip, Harry, Sampie en Niel gespeel. My maats in krieket was (en is) steeds Egmont, Nols, Barry en Pierre, om ‘n paar name te noem. Niel was ook my Simonswyk pél en ons het feitlik daagliks touch rugby (of krieket) op die parkie voor hulle huis gespeel. Tesame met Niel het ek lifesaving by Swartvlei gedoen einde ’73 – wat’n ervaring was dit! My ander groot skoolmaat was (en is) Boksie. Ek en Boks het talle kleurvolle en (somtyds) ‘romantiese’ somer vakansies met die mooi jong dames in die Mosselbaai omgewing gehad!

Na skool was dit Army toe en daarna het ek Siviele ingenieurswese begin ‘studeer’ op Stellenbosch. Met my Beetle en ons kuierplek in die Akker was universiteitslewe meestal vir my ‘n lied. Ek was definitief nie die mees toegewyde akademiese student nie, en het maar so skuur-skuur my graad behaal, so- by-so dat die laaste vak wat ek vir my graad kursus voltooi het ‘n eerstejaars vak was – die een was wat op ‘n Vrydag-middag aangebied was [die tyd dat ons Koshuis rugby gespeel het, so dood logies was ek nooit in die klas nie!].

My werksjare het in 1980 begin by en as deel van my studie beurs het ek by die Brug-ontwerp afdeling in die Kaapse Provinsiale Administrasie begin werk in Kaapstad. Die opleiding wat die KPA gegee het was uitstekend, en ek het die voorreg gehad om op ikoniese brug terreine soos die Bloukrans-brug en die Hugo-river viaduct [die brug voor Hugenote tonnel] te werk. Een van die kontrakteurs [Concor] wat die brûe gebou het, het my beurs uitgekoop en ek het myself vir ‘n paar jaar in die harde wereld van die konstruksie bedryf bevind. Min dinge kan lekkerder wees om jou eie handewerk te aanskou en ek het ‘n besige (maar gelukkige) tyd by die konstruksie firma gehad – grootliks met projekte op Worcester en in die Humansdorp omgewing [lekker gewees om op Jeffrey’s Baai te gebly in daardie tyd].

Op die heugdige ouderdom van 28 het ek die pos as (dorps) stadsingenieur op Somerset-Oos gekry. Ek was in my element, want my portefeulje het, anders as net die ingenieurs-take, ook die ontwilkkeling en instandhouding van die dorp se Parke en Natuur reservaat ingesluit. Ek kon dus, as deel van my werk vroeg-oggend die Bosberg wandelpad stap tesame met die reservaat veldwagters – alles as deel van my werk [en betaal word daarvoor!]. Ek was trots op my dorp en het o.a. selfs ‘n oornaghut  bo-op die berg gebou en gehelp met vestiging van die wild in ons wildpark. Goeie mense in daardie pragtige omgewing.  Hoewel ek reeds teen daai tyd ophou rugby speel het, het ek steeds krieket gespeel en was ek deel van ‘n aktiewe en talentvolle plaaslike krieketspan en behalwe vir die lekker gholfspeel daar was ek ook deel van die Round Tablers. Daar het ek besef hoe lief die plattelanders and plaasmense vir sport, dans en kuier is.

Vroeg in 1990 het ek gesien die Kruger Wildtuin (Nasionale ParkeRaad) adverteer ‘n pos vir ‘n Beplanningsingenieur – met basis gestasioneer in Skukuza. Ek was op daardie stadium nog nooit in die Wildtuin nie, maar die posisie het my verbeelding aangegryp en ek het aansoek gedoen … en (tot my eie verbasing) het ek die pos gekry. Terwyl ek my tyd op Somerset-Oos geniet het, was die Wildtuin ongetwyfeld soos ‘n utopia vir my. My werk was gediversifiseerd, en het dit, bo en behalwe die ontwikkeling van nuwe boskampe, toeriste fasiliteite en algemene ingenieurswerk, ook navorsing werk en ander uitsonderlike fasette (soos plasing en bou van bird hides, vislere ens.) ingesluit. Die werk en feit dat ons hele organisasie saamgewerk en saam gespeel het, het my ook in noue kontak met die natuurbewaring personeel  (veldwagters, navorsers, veeartse ens) gebring. Deur my werk het ek toegang gehad tot die gebruik van helikopters en vaste-vlerk vliegtuie en het ek deur my wedervaringe die Wildtuin goed leer ken. Die genot om op afgeleë brandpaaie te ry en die wonder van die ongeskonde natuur, in al sy glorie te aanskou, sal my altyd bybly. Wild kon ook vryelik in ons personeel ‘dorpie’ in Skukuza  beweeg. Die statige maroela boom voor my huis het menige olifant gelok en dit was ‘n gedoente as iemand die motorhek voor ons huis oopgelos het. Ek onthou met ‘n glimlag die gespottery (op pad in of uit die erf) oor wie die hek moet oopmaak, as die leeus in die pad voor ons huis gelê het! Om nie eens van my onderonsie met die spoegkobra te praat nie! Sport was eweneens ‘n groot deel van my genietinge in die Widtuin. Van die vele herinneringe en sport hoogtepunte daar was die dag (nogal op ‘n geborgde dag en voor ‘n skare toeskouers!) wat ek my hole-in-one in gholf behaal het. Krieket-speel op Skukuza was net so lekker – ons het vele toerspanne en besoekers daar gehad, en ons span het lekker toere gehad – Kaap toe. SAB het selfs vir ons ‘n Castle-Corner gebou op ons plaaslike veldjie! Menige aande voor ‘n wedstryd het ek die die ‘covers’ gaan plaas op die kolfblad (as dit gelyk het na reën), en dan moes my maat (Ben) die hyienas verjaag wat my wou vang! Ek het in hierdie tyd, soos my gewoonte steeds is, probeer om fiks te bly deur in Skukuza se dorpie en langs die gholfbaan te draf – nie seker hoe wys dit was nie, maar nou ja! Die jaarliks half-marathon wat ons daar aangebied het is opsigself ‘n unieke wedloop (en belewenis) en ek was bevoorreg om ‘n klompie 21kms in my tyd daar te klaar te maak [en dan in die Presidensie gholfdag te gaan speel]. In geheel gesien was dit ‘n groep fantastiese mense om mee te kon saamwerk – mense wat betekenis gegee aan die uitdrukking ‘esprit de corps’. Duisend ander stories om te vertel van daardie goue jare … maar vir eers genoeg.

Ek en my vrou Barbara het na vele betragtinge die Wildtuin teen einde 1997 verlaat. Dit was ‘n hartseer dag vir my met baie gemengde gevoelens … maar die Park was besig om te verander … en Barbara het ‘n hunkering gehad om haar professionele kwalifikasies as sielkundige te voltooi. Ek het my aangesluit by my broer se raadgewende ingenieurs maatskappy (Uhambiso Consult) en na ‘n aanvanlike tydperk in PE het ons onsself in Oos-Londen gevestig. My werk het my na vele afgeleë plekke in die Transkei geneem. Dit was ‘n leersame (en somtyds onstuimige) tydperk – tye van hervorming en aanpassing vir die land en ook vir my…en ek moes op die harde manier leer om met korrupte amptenare en onbeholpe politici te deel. Ten spyte van die moeilike werksomstandighede het dit my ook die geleentheid gebied en blootstelling gegee aan die waardes en tradisies van die Xhosa-mense – iets wat vir my na aan die hart lê en ‘n belangrike lewensles vir my sou word. Hoewel die raadgewende ingenieurswerk uitdagend en interessant was, was ek ongelukkig ook baie weg van die huis. Tesame met my weersin aan die ‘n niemereindiginde gejaag om fooi inkomste te verhaal het ek besluit ‘n verandering is nodig. Ek het aansoek gedoen vir ‘n akademiese pos! Die Meestersgraad wat ek in Water & Omgewings ingenieurswese behaal het gedurende my tyd in Wildtuin het nou handig te pas gekom en het my in staat gestel om ‘n senior lektor pos by Border Technikon te kry in 2001. Vandag is ek steeds in die akademie, met die Technikon wat mettertyd saamgesmelt het met andere tersiëre instansies om die Walter Sisulu Universitieit te vorm. Ek het oor die jare by die Universiteit veskeie akademiese bestuurs posisies beklee, o.a as Kampus Rektor, en Dekaan (my huidige posisie, ofskoon ek al het ek reeds ‘afgetree’ het). Ek was ook beskore om in die tyd my Doktersgraad te behaal (ten spyte van my nie-so-wafferse punte op Maties). Titels en posisies het my nooit werklik beindruk nie, maar die akademiese wêreld het my wel geleenthede gebied om wyd te reis – na ander plaaslike universiteite en oorsee – en tot vandag beskou ek die stimulasie van akademiese blootstelling aan ‘ander groepe’ en ‘anderdenkendes’ as ‘n besondere voorreg – dit het my eie denke verbreed en verryk. Om met studente (meestal swart) te werk is ‘n uitdaging opsigself… maar die genot wanneer iemand jare later jou op ‘n lughawe raakloop en sê dat jy ‘n positiewe impak op hulle lewe gemaak het is (vreemd soos dit mag klink) baie, baie bevredigend.

Soos ek ouer word het ek probeer om my lewe te vereenvoudig en deedae prober ek ‘n balans handhaaf tussen my werk en my ontspanning. Ek is siels gelukkig as ek kan gaan draf (shuffle), in my tuin kan werk, en kan speel met my honde, asook swem en watersport doen by ons lieflike plaaslike strand (Nahoon Beach). My seuns is in Engeland en Majorca en my dogter in die Paarl – ietwat hartseer om so ver van hulle te wees – maar wat saak maak is dat hulle gelukkig is. Daar is baie meer goed as sleg in my lewe en bowenal het ek het ‘n vrou duisend in Barbara!

Die fondasie waarop my lewe gebou is ongetwyfeld tot ‘n groot mate gesmee deur my ouers en deur my skool Paul Roos – en deur die waardestelsel wat ons as skoolmaats saam ontwikel en gevorm het. Die kamederie van ons as groep is steeds diepgewortel in my siel – en bly vir my ‘n kleinood.

Ek salueer my skool en my skool maats en is geëerd om deel te wees van die 1973-manne. Inderdaad ‘n uitnemende en begaafde groep wat die gees van ‘esprit de corps’ met trots uitstraal!

Semper Splendidior!