
Colin Hoffmann onthou
RIV Sparks Esterhuysen!
As die woord “legende” ooit aan iemand toegedig kan word, is jy een van hulle. Die vader van See-en-Sand en iemand met ‘n ongelooflike passie en kennis vir en oor die groot blou dam.
My pad het self ‘n paar keer met dié man s’n gekruis en almal daarvan was verrykend. Sy entoesiasme oor die see was aansteeklik en sonder dat jy dit besef het, was daar altyd ‘n les daaruit te leer. Dat jy nooit ooit jou rug op die see draai nie, is een wat ek altyd sal onthou en tot vandag nog toepas.
Die eerste keer het ons paaie gekruis toe ek en Eugene du Toit in 1975 vir die See-en-Sand kursus (April en September vakansies) in Hermanus aangemeld en ons in tente in die karavaanpark gebly het. Niel du Bois, deesdae van De Vette Mossel-faam, was ook een van die kursusleiers. Wat ek daar geleer het was dinge wat ek nooit sou vergeet het nie.
Die vertroue wat jy in Sparks moes stel die dag toe ons by Fick se Poel by daai krans moes afspring (ek dink dit word deesdae Dreunkrans genoem) was ononderhandelbaar. As Sparks gesê het “spring”, dan doen jy dit! Jy weifel nie.
Die kalmte wat hy oor jou gebring om die regte brander te kies om op die rotse uit te klouter as jy per abuis in die water beland, was goud werd. Paniek was nooit ‘n opsie nie. Kalmte was altyd die wagwoord.
Op ‘n ander keer het ek ‘n verskriklike mooi Duitse herdershond aan Sparks gegee. Terwyl ek polisieman op Caledon was, is ek vroeg een aand na ‘n huis ontbied en die eienaar wou opslag hê ek moes sy hond, Sussex, “uitsit” omdat hy ‘n kind “deur die draad gebyt het”. Die hond was in die hoofslaapkamer toegesluit en so intelligent soos dié diere is, het hy aangevoel iets is aan die ontwikkel. Daar was ook geen manier dat ek van die dier sou ontslae raak nie en na ‘n delikate onderhandelingsproses het die eienaar met ‘n kort verklaring in my sakboekie, die hond aan my “oorhandig”.
Ek en Sussex het vir drie maande ‘n ongelooflike band gevorm, maar ek het geweet dit sou nie veel langer kon aangaan nie. Sparks het die hond op die ou einde oorgeneem en as ek reg onthou het Sussex op die ou einde by Stellenbosch Farmers Winers opgeëindig, waar hy in ‘n ster as volwaardige opgeleide hond met sy hanteerder ontwikkel het. Absolute pragdier gewees!
Vóór dit het Sparks Grotto strand gereeld besoek met twee Dobermanns en een veral, was soms half steeks. Hy het nooit geslaan aan die hond nie, maar so half wydsbeen oor hom gaan staan en dan aan sy oor gebyt en na die eerste tjankie sy vinger gewys waarna die brak weer deel van die program was!
Sy alleenvaart met die kano van Swartvlei tot Agulhas (as ek reg onthou) was legendaries. Hy het juis hier voor Heroldsbaai omgeslaan en sy grootste bekommernis was dat hy nie sy kamera moes verloor nie! Daarna het ons weer talle kere met die Trans Agulhas met mekaar te doen gehad waar hy die groot indoena was en die deelnemers touwys gemaak het oor wat die see alles vir ‘n mens kon inhou.
Baie anders stories soos die “bom” wat hy as kind en in die see voor die Windsor hotel in die water laat ontplof het, sy op-hande-loop op die lessenaars van Beyers Tehuis (Hoërskool Outeniqua) voor mý tyd in die koshuis en die begrafnis oor die lat wat begrawe moes word omdat sy pakke slae “‘n blywende indruk” gemaak het, is wat van dié man ‘n ikoon gemaak het.
Sy bydrae om duisende kinders van die see te leer, sal ‘n swetterjoel deelnemers aan See-en-Sand altyd bybly. Hy was uniek en ek is dankbaar ek het die voorreg gehad om ook onder sy hande deur te kon loop.
RIV Sparks, jou “legacy” sal vir altyd bly voortbestaan!
Johan Bouwer onthou
Dankie Samuel ! Jy kan gerus hierdie kosbare herinnering aan Sparks op die ‘73 Website plaas.
Ekself het gou kennis gemaak met Spark se buitengewone opvoedingsmetodes.
Ek was in sy registerklas en op sy eerste dag in Paul Roos staan hy in die klas en kyk hoe ons die klas instorm. Ek hardloop vir die plek agter in die hoek. Die sitplek wat jy op eerste dag kry kan jy behou vir die res van die jaar. Ek gil vir my vriend om by my hier agter te kom sit. Die hoeksitplek is baie voordelig , veral as dit kom by haarinspeksies want dan kan jy jou ducktail effens verskans in die hoek.
Sparks laat alles rustig gebeur sonder om ‘n woord te se. Almal sit al op ‘n stoel toe hy sê dat ons almal langs ons banke moet staan. Sonder om homself eers voor te stel stap hy rustig die gangetjie af in my rigting… Hy haak af en slaan my met volle mag in my maag met sy vuis. Ek staan sonder om n woord te sê vooroor gekrimp langs my bank. My klasmaats is heeltemal verslae.
Toe stel hy homself voor as die nuwe LO onderwyser. Hy het ook vir ons geskiedenis doseer. Al wat ek onthou is sy refreine soos bv. ‘ Maarten Luther… blaas op sy toeter…’
Later jare was ek baie trots daarop dat ek die eerste leerling was wat onder sy hardhandigheid deurgeloop het. Sy LO klasse was vir my die hoogtepunt van die week.
Ferdie Gerber Onthou
Inderdaad het Sparks onuitwisbare indrukke (en ‘n paar letsels) op my/ons gemaak. Sy passie, commitment in wat hy geglo en gedoen het (hoe skeef en krom dit ook al mag gewees het) was besonders. Dankbaar en bly my lewe was verryk deurdat ek hom geken het. RIV Sparks 🙏
