14 Julie 1956 – 20 Junie 2023
Sy vrou, Dedrie, deel oor Enrik die volgende stukkie wat in die kerk gelees is:
Hy was ‘n baie goeie man, lewensmaat en vriend vir my. Die eerste ‘boyfiend’ en toe trou ons nadat ons albei klaar gestudeer het. Ons het mekaar in Junie 1977 op ‘n landsdienskamp in Maselspoort ontmoet, hy van US en ek van OKP (Onderwyserskollege Paarl). Van toe af was ons nog altyd bymekaar.
Ons het op 10 Januarie 1981 in Stellenbosch getrou en was daarna albei onderwysers op Darling , waar ons in die koshuis gebly het. Hy was die koshuisvader en die kinders was mal oor hom. Ons het kontak met baie van hulle behou.
Afnaweke wanneer van die kinders nie kon huis toe gaan nie, het ons met hulle langs die Weskus gaan kamp. Ai, die Here was goed vir ons want ons het nie die verantwoordellikheid besef wat ons op ons geneem het nie. Ons het nie eens toestemming van die ouers gevra nie.
Baie van die kinders het in haglike toestande by hul ouers gebly en kon nie wag om na ‘n naweek of vakansie terug te kom koshuis toe nie. Dit was een van die min koshuise in die nabye omgewing van Kaapstad wat kinders van Sub A af ingeneem het.
Ek kan onthou dat ons ‘n paar aande van hulle (wat nie wou slaap nie, gehuil en bang was) in ons woonstel, IN ONS BED laat slaap het. Was verskeie kere nat gepiepie en ons het toe nog kopluise ook opgedoen! Maar dit was alles die moeite werd en ons het altyd met groot verlange terug gedink aan daardie jong koshuisdae van ons.
Enrik was verskriklik lief vir en trots op sy twee seuns en sou berge versit om hulle ten alle tye te help in watter opsig ookal.
Enrik was altyd ‘n baie lojale en gasvrye vriend en ons huis was altyd oop vir al ons en ons kinders se vriende, watter tyd van die nag of dag ook al dit was. Die Strand Noord-kerkgronde was die speelplek van die kinders en hulle maatjies en saans was dit die parkeerplek vir ons vriende. Enrik moes gereeld pa staan vir die stoutigheid van die kinders, maar daar is altyd vrede gemaak en verder gekuier en gespeel.
In 2020 is asbestose en toe longvlieskanker by hom gediagnoseer, waarna hy stadig agteruitgegaan het.