
Ek is in 1956 in die Paarl gebore. Die eerste 10 jaar van my lewe was op Middeldeurvlei, ‘n plaas buite Porterville. Standerd 1 tot 3 was ek in Pools se laerskool. Soms het die skoolbus nie opgedaag nie of het ons dit verpas. Ons het dan alte lekker in die bloekombos by die bushalte gespeel, maar soms het ons donkiekar kortpad deur die plase tot by die skool gevat.
My pa het later die plaas verkoop en ‘n werk by Tygerberg-hospitaal in die navorsingseenheid aanvaar. Ek was toe in Laerskool Kenridge en vir standard 6 in Hoërskool DF Malan.
Later het my pa by die Universiteit Stellenbosch klas gegee. Die wat chemie geneem het, sal hom as Dillard onthou. Vanaf standerd 7 is ek Paul Roos Gimnasium toe en van dag 1 af, het ek dit as ‘n awesome skool beleef. Niel du Bois was my beste maat op skool. Ons het baie goeie tye saam gehad. Hy en sy foksterriër, Buks, was onafskeidbaar.
Dikwels het ons na Vermaaklikheid gegaan waar my pa ‘n lappie grond aangeskaf het. Johan Bouwer sal daardie plaas nie sommer vergeet nie! Na matriek is ek Weermag toe te Potchefstroom. Ek en Riaan Swiegers het mekaar daar in 3 Ops Eenheid beter leer ken.
Het medies op Tygerberg gaan swot en my huisdokterjaar in Windhoek gaan doen. Aanvanklik het ek eers in die Staatshospitaal gewerk en later ‘n privaatpraktyk oopgemaak. Ek werk nog elke dag, geniet die werk maar begin al hoe meer vakansie en langnaweke vat.
Ons het vier wonderlike kinders wat aangegroei het met 3 kleinseuns! Ek hou van kamp (veral bundubashing), visvang en jag. My twee seuns kan ook nie genoeg daarvan kry nie. Lekker om sulke ‘maats’ te kan hê.
Die 50ste PRG reunie het my net weer tot die besef gebring watter voorreg en wonderlike geleentheid dit was om aan Paul Roos te studeer.
