Categories
In die nuus

Jannie se humor maak van inflasie ‘n boeiende onderwerp

Jannie Roussouw, ‘n klasmaat wat weens ‘n tragiese gebeurtenis sy skoolloopbaan aan Hoërskool Menlopark in Pretoria moes voltooi, maar steeds sterk bande met PRG Klas van 1973 behou, het laat weet dat sy nuwe boek Inflation is Ungood and other Sexual Truths is in Augustus 2024 gepubliseer.

Ek is teen inflasie, skryf Jannie in ‘n e-pos aan ons.

Die boek delf in die kompleksiteite van inflasie en die impak daarvan op die ekonomie, met ‘n unieke kinkel van humor en geestigheid. Met speelse taal en prikkelende analogieë probeer Jannie om die onderwerp van inflasie meer toeganklik en boeiend vir lesers te maak.

Hy mag maar, want Jannie is ‘n vooraanstaande Suid-Afrikaanse ekonoom en akademikus. Hy is tans ‘n besoekende professor aan die Wits Besigheidskool (WBS) en in sy indrukwekkende akademiese agtergrond is daar grade in Ekonomie, ‘n MBA en ‘n PhD aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Deur sy loopbaan het Jannie breedvoerig gepubliseer oor onderwerpe soos inflasiepersepsies, fiskale volhoubaarheid en die eienaarskapstrukture van sentrale banke.

Bekend vir sy innemende en toeganklike benadering tot ekonomiese kwessies, spreek Jannie dikwels konferensies toe, neem hy deel aan besprekingsprogramme op radio- en televisieprogramme en skryf artikels vir die media oor plaaslike en internasionale ekonomiese ontwikkelings. ‘n Goeie voorbeeld daarvn is die artikel wat op 2 Maart 2024 in Beeld verskyn het.

Hy het al verskeie toekennings ontvang, insluitend die gesogte Stals-prys vir ekonomie in 2019.

“Inflation is Ungood and Other Sexual Truths” deur Jannie Rossouw is deur Naledi uitgegee en kan by vooraanstaande boekwinkels of op hul webwerwe vir R275.00 gekoop word.

Jannie Roussouw in Beeld: 2 Maart 2024