Soos die jare aanstap, vervaag sekere dinge in jou geheue en andere kom weer helder op. Ongelooflik om te dink dat amper 50 jaar al sedert ons matriekjaar verby is. Tel nog 11 jaar daarby en dit word altesame 61 jaar gelede dat ‘n klomp van ons met gemengde gevoelens by Laerskool Bloemhof afgelaai is.
Wat ek baie goed van ons formele skoolopleiding onthou, is die groot plank waarop jy jou kleiwerk vir die dag gedoen het, baie trots! Die geleidelike vordering tot by Sus en Daan was ‘n reis van ontdekking nie waar nie?
Kleintyd het sekeres van ons al groot belangstelling getoon in die meer eksotiese dinge soos mooi motors en van hulle kon later jare hierdie passies ten volle ontwikkel. Meeste van ons is maar net in die bondel saamgeneem en het daarna uitgesien om by die huis te kom waar jy verder kon speel.
Op Welgevallen-proefplaas het ek, Nickie Hanekom (later Oakdale toe), Dirkie Hanekom (Hoër Handelskool toe) en 1973-klasmaat Kobie (Cobus of Boet Schonken) in die middae ons eie weergawe van “Cowboys en Crooks” of “Cowboys en Indians” daar tussen die appel- en peerbome gespeel of met ons seepkiskarre by Oom “Hennie By” Mostert se bult agter die plaasgeboue afgejaag. So dan en wan is ons op na die Coetzenburgdam waar ons groot kleilatgevegte gevoer het. Stukkende nerwe en blou kolle daagliks, maar wonderlike tye! Selfs soms ‘n rugsak gepak en gaan “bergklim” soos wafferse ontdekkerreisigers teen die Stellenboschberg uit.
Die akademie was regtig nie eerste op my prioriteitslys nie, maar ek moes darem mik om Universiteitsvrystelling te kry, en het dit deur die genade gemaak. Sosiale aktiwiteite sou sekerlik n “A” gemiddeld gekry het vir stoutwees, suikerbossie en selfs, vandag tot my skaamte, Tollies!
Universiteitsdae was ‘n verdere magiese reis wat darem uiteindelik tot die graad Hons. B Ing (Siviel) gelei het.
Toe slaan die werklikheid toe op verskeie fronte. Meld aan by PW Botha en Seuns en doen basies in die Geniekorps en ‘n Junior Leierskursus by die nuutgestigte Inligtingskool. Ek word gesekondeer aan ‘n semistaatsinstelling, maar dien ook as inligtingsoffisier vir die Noord-Kaap by die Kimberley-kommando. Dié twee jaar was ‘n definitiewe positiewe lewensreis.
Daarna was die lewe in volle swang: goeie tye, slegte tye, hartseer, blydskap, swaarkry, maar meeste van als vormings- en lewenslesse wat saam die wonderlike ervaring van menswees skep.
Aan die huwelikskant, ontmoet ek Salome al in 1973 by katkisasie en ons trou in 1979 net voor ek weermag toe is. Ons is nog steeds saam, met die toevoeging van 3 dogters en 7 kleinkinders (die 8ste is op pad.) My oudste kleinseun deel in 2020 met my die voorreg om aan Paul Roos Gimnasium te matrikuleer.
Nou staan ons ou kant toe en word na verwys as die “ou mense”. Maar soos die gesegde lui, “oud is nog nie koud nie”. Ek merk op dat my ou maters nog aktief is met baie dinge.
Ekself werk nog en is die afgelope 12 jaar in Saudi-Arabië, waar ek op 55 begin skubaduik het. Dit is een van my passies en probeer ek my reisplanne so reël dat ek darem altyd iewers ‘n “duik” kan inkry. Ek stap baie en het sowat 3 jaar terug Kilimanjaro uitgeklim wat ‘n ongelooflike ondervinding was.
Met baie heimweë dink ek terug aan al ons makkers wat nie meer met ons is nie, maar in besonders aan my ou groot vriend, wat baie dalk sal onthou, Awie Turck. Sy moeder het die Protea-losieshuis in Crozierstraat daar naby die Carnegie Biblioteek, gehad. Awie was saam met ons in Graad 8 (die nuwe name!) maar in Graad 10 is hy oor na die Stellenbosch Hoër Handelskool toe. Awie is een van ons maats wat intussen die tydelike vir die ewige verwissel het.
Só, manne van die 1973-klas, ek sal ongelukkig nie die reunie kan bywoon nie! In gees is ek by julle en sien vreeslik uit na al die foto’s, video’s en staaltjies wat gedeel gaan word.
Semper Spendidior.
Paul Roos-groete uit Saoedi-Arabië!



