Categories
Profiele

Niël du Bois

Party mense weet van vroeg wat hulle met hul lewe wil doen en volg die plan getrou. Dis goed so, maar dis nie vir my nie. Ek het ‘n hele paar draaie deur die lewe geloop – so uiteenlopend soos die wildspesies in Botswana. Dit is/was presies soos ek dit wou gehad het.

Na ‘n honeursgraad in Joernalistiek aan Stellenbosch Universitiet, was ek vir tien jaar ‘n joernalis by Volksblad, Oosterlig en Die Burger as onder meer Omgewingsverslaggewer. Ek moes LLB-regte opskop omdat ek drie jaar lank Latyn Spes (verpligte vak) gedop het – en elke jaar slegter gedoen het as die vorige jaar! Dit het my eie klaarblyklike té hoë dunk van my intelligensie erg geknoei!

Dis in hierdie tyd dat die lewe my geseen het met ‘n stewige skoot geluk. Ek speel vleuel in die finale rugbyproewe vir Noord-Vrystaat. Enige rugbyspeler weet dat soms, maar ver uitmekaar, huiwer twee verdedigers wat jou gelyk probeer ‘tackle’ net effens, en jy bars deur die halfhartige pogings. Dit gebeur feitlik die hele wedstryd met my. Ek druk 4 driee, en wen atsware eiehandig die A-span. ‘n Ster is gebore, skryf die koerante. Maar, sommer met die eerste wedstryd vir die Perstruie, kom hulle gou agter ek is glad nie so goed soos in die proewe met die geluksengel aan my sy nie.   

Na 10 jaar in die koerantwese, is ek vir die volgende agt jaar die media-adviseur en segsman vir drie nasionale Ministers van Omgewingsake. (As jy meer twak kan praat as ‘n politikus, moet jy ten minste goed wees in een ding!). Na 1994 het ek as media-konsultant die regering se kommunikasiediens in die Parlementêre kompleks in Kaapstad vir sowat 6 jaar verteenwoordig om die nuwe 1994-Kabinet oor media-sake te adviseer. My sterkpunt was om ‘loopholes’ in die Parlemente kompleks se streng protokol-reels uit te buit. So het ek ‘n ses-skaap spitbraai op die trappe van die parlement gereel – tot bitter ontsteltenis van die stoere ampsbekleërs.

In hierdie tyd het ek onder meer namens die Kantoor van die President (Oud-presidente Mandela en Mbeki) die media met alle Staatsbesoeke van wêreldleiers aan Kaapstad en omstreke hanteer.  Dit was met Koningin Elizabeth II se staatsbesoek in 1995 aan Suid-Afrika dat sy my met ‘n private oudisie vereer het nadat ek haar beskerm het toe ‘n horde onbeheerde skare in Langa deur die veiligheidslinie gebars, op haar toegesak en weg van haar veiligheidsmense geisoleer het. (Ek glo die Britse Koningshuis het waarskynlik die massa onbeheerde skare verwar met die Zoeloe-krygers tydens die Britse nederlaag by Isandlwana in 1879! Dit was meer van ‘n verleentheid as ‘n aanval op haar as persoon.) Hoe dit ook al sy, die eer lê daarin dat jy alleen met die Queen in ‘n vertrek is. Maar daar is reels: Onder meer, soos die paleis se protokol-amptenaar met ‘n warm aartappel in sy keel my duidelik laat verstaan het: “Speak only when spoken to.” Ek het toe maar my vraag of Lady Di wel ‘n verhouding met die rooikop major gehad het, laat vaar.

Nadat nog ‘n politikus vir die miljoenste keer laat was vir ‘n vergadering, het ek my goed gevat en geloop – na die Stompdriftdam-oord naby De Rust in die Klein Karoo. Baie brandewyn later saam met varswaterhengelaars (‘n spesie op sy eie) en opvoedkundige avontuurkampe vir die jeug (baie geniet!) is ek terug Stellenbosch toe om KWV- en ander landbou-aandele namens ‘n groep skatryk sakemanne te koop.

My liefde vir kosmaak en onthaal het egter nog altyd dik geloop. Eers het my spyseniersaak, Besotted Catering, vir die filmbedryf begin kosmaak, maar net op plekke met geen geriewe en waar ander spyseniers nie voor kans gesien het nie. Soos tussen karoo-bossies in die middel van die Groot Karoo en in ‘n afgebrande hotel op Richmond.

En toe, Desember 2004, het ek die eerste De Vette Mossel Strand Seekosrestaurant op ‘n afgesonderde strand naby Groot-Brakrivier by Mosselbaai staan gemaak. Erg spartaans en armsalig, met net een ou army tentdak, geen water, geen krag, en ‘n emmer toilet – maar feitlik op die strand. Ek was in die hemel! Na die derde dag was ons volbespreek en van toe het dit net eenvoudig mal gegaan. Agttien jaar later sit die Grootbrak-Mossel deesdae tot 550 gaste op ‘n keer en ek het intussen drie ander Mossels oopgemaak – by Hartebeespoortdam, Parys en op Hermanus. My seun, Gustave, is besig om die De Vette Mossels oor te neem. Jy is diep geseend as ‘n kind van jou saam in jou besigheid is, maar hy sukkel nog net om te verstaan dat ek altyd reg is!

Ek het by tye bloedig hard gewerk, maar feitlik altyd net gedoen waarvoor ek lus en vir my lekker was. Daarom is ek diep geseend.  

Ek het ook twee dogters, Inke en Lene, wat altwee naby my bly. Ek woon op Stellenbosch en is geskei – twee keer al. Hulle se jou derde huwelik is glo die lekkerste.