Ek het op Woensdag 8 Februarie 1956 in Stellenbosch Home my eerste lewenslig aanskou as die eersgeborene van Louis en Elizma Heunis, toe woonagtig te Krigeville Woonstelle en later Keetstraat 5, Stellenbosch.
Ek is bevoorreg om een van ‘n handvol manne te wees wat vanaf Sub A in 1962 in Bloemhof Laerskool tot Matriek in 1973 in Paul Roos Gimnasium saam te kon skoolgaan. Tydens my skooljare aan Bloemhof Laerskool, toe Laerskool Paul Roos en later aan die PRG het ek meer gekonsentreer op sport en ontspanning as aan my akademie, tot groot onsteltenis van my ouers, maar veral my Pa. Sy woorde “Mens kan nooit te veel leer nie, maar wel te min”, bly my tot vandag toe nog by. Daardie woorde asook Juffrou Annie se inskrywing in my September 1973 rapport, het my aangespoor om ekstra hard te leer gedurende my Matriek eindeksamen (nog ‘n jaar op die skoolbanke: no go!!!!). Dit het toe die gewenste uitwerking gehad. Klaar met skool einde 1973.
Gedurende Desember 1973 het ek en oorlede Dawid van Niekerk See en Sand as Lewensredders op Klein-Brakrivier verteenwoordig. Dit was ‘n groot voorreg om die vakansiegangers en publiek van die dorp te dien. Die dissipline wat Sparks Esterhuysen ons ingedril het gedurende ons opleiding by See en Sand asook tydens LO periodes, het verseker ‘n verskil in my lewe gemaak.
My loopbaan in die finansiële sektor van byna 30 jaar het toe op 11 Februarie 1974 by Volkskas Bank Stellenbosch begin. Een van my kollegas was Steyn Hendriks (1972) met wie ek tot vandag toe nog bevriend is. Aangesien ek opgeroep is om my militêre opleiding by 5 SAI in Ladysmith Natal te gaan doen en wel gedurende Julie 1974 tot Junie 1975, het die werk by Volkskas handig te pas gekom, aangesien ek verseker was van ‘n werk na my militêre opleiding. My militêre opleiding te 5 SAI Ladysmith was, soos die uitdrukking lui: “Die lekkerste tyd in my lewe wat ek nie wil oorhê nie”. Gedurende grensdiens vanaf Desember 1974 tot Maart 1975, was ons peleton op Mpacha gestasioneer en het gereelde patrollies in en om die “Kaplyn” voltooi.
My dienstyd by Volkskas het 11 jaar beloop, onder andere by takke soos Steynsburg, Uniondale, Suider Paarl, Parow en Ou Paarlweg, en Bellville. Na Volkskas was ek ook by Ou Mutual, SWA Bank (later bekend as The Commercial Bank of Namibia), Stannic en by Boland Bank (tot 2001) werksaam.
Die jaar 2001 het op ‘n opwindende noot begin. Die vooruitsig om op ‘n uitreik na ons Kerk se sendeling in die Oekraïene te kon gaan het toe in April 2001 plaasgevind. Wat ‘n geestelike hoogtepunt was dit nie in my en Isobel en ook Kasienka se lewens nie!!!! Die geestelike hoogtepunt het in Julie 2001 verander in ‘n emosionele laagtepunt toe ek “ge-retrench” is by my werk. Voorwaar ‘n antiklimaks!!!! Op 25 Februarie 2002 is my Pa oorlede en later dié jaar het die besigheid, wat ek in September 2001 begin het, tot ‘n halt geknars. ‘n Aantal uitdagende jare het gevolg. Die gebede en ondersteuning van vriende en familie asook die genade van ons Hemelse Vader het ons as familie deur hierdie moeilike tyd gedra.
Sedert 2004 was ek onderskeidelik in diens van L & L Motors, AB Earthing, Beertjie Beskuit en sedert 2018 is ek werksaam by Paryskloof Landgoed in die Paarl. Die lewe het my geleer dat enige iets kan enige tyd met enige iemand gebeur wat ‘n mens se lewe drasties kan verander.
Op 22 Mei 1976, tydens my dienstyd by Steynsburg tak, was ek in ‘n motorongeluk betrokke wat my daarna 2 maande in traksie in die hospitaal in Port Elizabeth laat beland het. Gedurende 1977 het ek ‘n servikale fusie van 3 nekwerwels in die Paarl Hospitaal ondergaan. Hierdie keer was die tyd in die hospitaal gelukkig net 1 maand. My beskeie rugbyloopbaan was natuurlik na hierdie ongeluk iets van die verlede. Ek het my toe toegespits op krieket en het vir spanne by Van der Stel, Paarl en Allandale gespeel en toe later gholf begin speel, en was lid, eers by die Paarl en later by De Hoek). My gholfloopbaan het my na verskeie bane in die Boland gebring. Ek was bevoorreg om die Paarl asook De Hoek Gholfklub in die Brodie Liga te verteenwoordig en Paarl Gholf Klub het in 1988 en 1991 met die louere weggestap. Die 2 hoogtepunte in my gholf ekskursies was toe ek as De Hoek Gholfklub se Kampioen gekroon is 2000 en die kersie op die koek was toe ek op 12 April 2012 ‘n Albatros op De Hoek se 15de putjie behaal het. Die 19de putjie het ook baie aandag gekry, soms was die syfer baie hoog.
Ek het vir Isobel Jackson gedurende 1978 ontmoet en ons is op 16 Augustus 1980 in die NG Kerk Constantia getroud. Ons is geseën met ‘n dogter, Kasienka, wie op 26 Maart 1986 gebore is.
Vakansies het ons slegs binnelands gehou, maar net weer besef watter mooi land ons het. Hoogtepunte was die Nasionale Krugerwildtuin, Addo Olifantpark, Zimbabwe en die suide van Zambië, Kalahari Gemsbok Park en die Suide van Suidwes. Ook die Vrystaat, Natal en Lesotho. Die besoek te Lesotho (2000) het ons ook na die Katse Dam geneem. Met afdraai paadtjies het ons so baie “gems” ontdek. Lief vir die natuur en ons Land.
Ek kan ook met trots en groot dankbaarheid sê dat my PRG 1973 maats nog altyd vir my ‘n inspirasie was om altyd nederig, trots en met volharding die lewe te leef. Ons het ‘n besondere band en ek wil dit toeskryf aan die aanvaarding van mekaar. Al die reünies en saamkom geleenthede is altyd ‘n fees van “kan jy onthou, lekker lag en wat leer ons nog van mekaar”.
Die hoogtepunt van my en Isobel se lewe het gebeur in die jaar 50 jaar na 1973. Ons het titels gekry ” Oupa en Ouma”. Kasienka is op 29 Augustus 2020 met Thinus de Wet in die eg verbind en Oupa en Ouma Heunis se eersteling kleinseun, Jannes de Wet, is op 8 Maart 2023 gebore.




