Categories
Geskiedenis

Rektore van Paul Roos Gimnasium

Die gebruik van die titel rektor vir die skoolhoof van Paul Roos Gimnasium het ‘n historiese oorsprong en is nou ‘n tradisie wat al byna 150 jaar oud is.

Dit hou verband met ‘n besluit van die skoolbestuur in die 1870’s dat  opleiding by dié skool tot op ‘n vlak van ‘n BA-graad gedoen moet word. In 1873 baan die aanvaarding van die University Corporation Act deur die Kaapse Parlement die weg daarvoor en aan die einde van 1874 word die Arts Department of kollege ‘n werklikheid. Die eksaminerende liggaam vir sowel dié kollege as die South African College in Kaapstad sou die Universiteit van die Kaap die Goeie Hoop wees.

Die skool en die kollege word in dieselfde gebou gehuisves, met die legendariese eerwaarde Charles Anderson (Oom Kalie) hoof van albei met die titel van rektor. In 1881 word die twee instellings geskei en 1887 word die kollege na koningin Victoria vernoem. In 1918 word die kollege die Universiteit van Stellenbosch.

Die term rektor vir die skoolhoof bly voortbestaan. Die titel word ook by Grey High in Port Elizabeth (Gqeberha) en Michaelhouse in die Natalse Middellande gebruik.

Die woord rektor kom van die Latynse werkwoord “regere”, wat beteken om te lei of rigting te gee. Universitêre terminologie, soos ook fakulteite, dekane en professore,  kom uit die Europese middeleeue  toe Latyn die omgangstaal onder geleerdes was.

Die skool het tot dusver 16 skoolhoofde oftewel rektore gehad:

  • 1866 – 1869: Eerwaarde William E.W. Braid van Skotland;
  • 1869 – 1879: Eerwaarde Charles (Kalie) Anderson van Skotland maar in 1867 uit ‘n predikantspos op Richmond as onderwyser in aangestel is;
  • 1880 – 1896: Mnr William Milne van Skotland;
  • 1897 – 1901: Dr Jacobus Francois (Koos) Marais 1897-1901 (verdrink naby Rooiels);
  • 1902 – 1910: Mnr William Hendrik (Willie) Hofmeyr;
  • 1910 – 1940: Mnr Paul Johannes (Polla) Roos, kaptein van die eerste Springbok-toerspan na Brittanje in 1906;
  • 1941 – 1951: Mnr Daniel (Pice) Blignault;
  • 1951 – 1958: Mnr A.K. (Koch) de Jager;
  • 1959 – 1969: Mnr Gert (Chief)  Smit;
  • 1969 – 1974: Mnr David (Chief) de Villiers;
  • 1975 – 1977: Dr Japie Coetzee;
  • 1977 – 1984: Mnr Johan Slabbert;
  • 1985 – 1992: Mnr John Galloway;
  • 1993 – 2007: Mnr Jock de Jager;
  • 2007 – 2017: Mnr Jannie van der Westhuizen; en
  • 2017 – tans: Mnr André van Staden.