
Ek is op 3 Augustus 1955 in Stellenbosch gebore, Crusestraat 7, Krigeville. Ek was die jongste van 7 kinders, met drie broers en drie susters. Daar was op ‘n tyd ‘n foto van my en my oudste broer in die Burger, ons het die grootste verskil in ouderdom gehad tussen twee kinders van dieselfde ouers in die Wes-Kaap. Ek en my oudste broer se dogter is saam deur my pa gedoop. My pa was natuurlik een van die ouer pa’s en is gebore op 17 Augustus 1900. Hy is in 1977 oorlede. My ma is n maand voor haar 100ste verjaarsdag oorlede waar sy haar laaste jare in Geluksoord, onder Papegaaiberg deurgebring het.
Ek was nie n voorstaander van die akademie nie en het uitgesien daarna om met skool klaar te maak. My pa moes erg wal gooi toe ek dink Std 8 is ver genoeg. Wonderwerke gebeur en ek byt vas tot matriek. My een suster het spesiaal haar tekkies aangetrek toe sy my opmy eerste skooldag Bloemhof toe geneem het in Sub A. Dit was om seker te maak dat sy my kon inhaal as ek dalk dink om weg te hardloop.
Ek onthou nog goed hoe ek met my fiets vanaf Laerskool Bloemhof by Outspan aangegaan het om lemoensap te drink. Die Outspan was onder die CSV gebou wat vroeer jare deur my pa opgerig is. Hy was vir jare die Hoofsekretaris van die CSV en het vir ‘n paar jaar as NG predikant in die Moederkerk Stellenbosch gedien, voor sy aftrede.
Ek onthou ook hoe ek en Dillie gereeld van die skool af geloop het, ons het dalk ook nog in dieselfde meisie belanggestel. Coetzenburg-swembad was n groot uithangplek en ook die plek waar ek amper verdrink het in die klein swembadjie se diepkant. In daardie stadium kon ek nog nie swem nie, maar het baie gou daarna geleer! Later was die groot uitdaging om van die hoogste duikplank in die groot swembad te spring. Daar was Nollies een van die eerstes wat dit gewaag het, die res van ons het daarna gevolg. Ek was darem so nou en dan op die podium vir 100 meter en verspring. Dit was moeilik om vir Skip te wen. Tweede en derde plekke het my nogal te beurt geval.
In 1966 moes ek vir ‘n jaar Humansdorp toe om by my een suster te gaan bly. Dit was die jaar toe my ma en pa oorsee is om een van my broers in Londen te gaan trou. Dit was ‘n moeilike jaar en ek het my maats en ouers baie gemis. In 1967 keer ek terug na Stellenbosch, na ons plaas, Dagbreek, in Koelenhof. My pa verhuur ons huis in Krigeville aan ds Bell. Aangesien my ma nooit ‘n motorlisensie gehad het nie het ek maar min op die dorp gekom en het die plaas my uithangplek geword.
Ek kom nou die dag op n tekenboek af waar ek vir Tiny Naude se skop pale toe en Dawie de Villiers se duikgooi geteken het (ek vermoed ons was so in Std 4 of 5). Ek onthou ook nog Eggie se tekenverhale en sy foto op die Burger se voorblad toe hy op John Vorster se skoot gesit het. Ek en Hannes Myburgh het lekker albaster op die skoolgrond gespeel. Ek verneem hy het ook by my “comics” gekoop.
In standerd sewe tree my pa af en hulle verhuis Strand toe. Ek gaan bly by my oudste suster op hul plaas, Vrede, regoorkant ons plaas. Die Tamatie-bus was ons vervoer skool toe en het aan Reyneke behoort. Die jare tot en met Matriek op my suster se plaas was die hoogtepunte van my grootwordjare. Dit was hier waar ons met Willis Jeeps (toegerus met Volvo enjins) ons vernuf in die Bloekombos getoets het. Die Bloekombos het gegrens aan Simonsig. Vito sou trots wees om te sien hoe ons kon ‘rally’ ry in daardie bos. Vito het darem eendag vir my in Kusweg Strand gewys wat kan gedoen word met ‘n motor. Was nogal skrikwekkend.
In 1975 word ek opgeroep om Julie van daardie jaar aan te meld. Ek werk egter eers 6 maande lank by Rovic en ek dink Johan Cillie se broer, Gawie, was my baas. Interessante tye en ek leer baie van landbou implemente. My eerste voertuig, na my 50cc Honda, was ‘n 1969 Toyota Corona bakkie met 26 000 myl op die klok. Die koopprys was R 650.00. Ek ry vandag nog Toyota.
Na Weermag begewe ek my in die onderwys en studeer aan Wellington Onderwys Kollege. Keer ook weer terug Stellenbosch toe om klaar te maak wat ek nie in 1974 gedoen het nie.
Ek trou in 1982 met Dalien en het verlede jaar ons 40ste huweliksherdenking saam gevier. Uit die huwelik word 3 pragtige kinders gebore. Twee dogters en ‘n seun. Sover is daar darem al 3 kleinkinders, almal seuns en die bydrae kom van my dogters. My seun neem maar sy tyd om vrou te kry.
In 1983, sewe dae na my eerste dogter se geboorte, kry ek n aanstelling by Ou Mutual op Stellenbosch, maar vra uitstel om eers n maand as LO onderwyser af te los by Hoër Tegniese Skool Bellville. Mnr O’Kennedy (ex PRG Biologie onderwyser) het toe daar afgelos as hoof. Na ‘n maand van langverlof keer die LO onnie terug en ek begin by Ou Mutual, ‘n wonderlike loopbaan wat my na baie dele van ons land sou neem. Ons gemiddelde tyd in ‘n dorp was sowat 3 jaar. Begin op Stellenbosch, daarna bevorder na Darlingstraat, Kaapstad, Worcester, Caledon, Upington, verdere bevorderings na Krugersdorp (verantwoordelik vir takke in die Wes-Transvaal en Bophuthatswana) en Port Elizabeth (verantwoordelik vir die Oos-Kaap en Transkei en dele van die Wes-Kaap).
Verplasings het ons lewe interessant gehou waartydens ons baie vriende oor die land heen gemaak het. Na al die uitdagende, maar goeie ervarings, tree ek af op 61 in 2017 na 33 jaar in die tuig. Op 1 Maart 2022 trek ons terug Strand toe na waar ek groot dele van my kinderjare deurgebring het. So word die sirkel voltooi en dis lekker om weer tuis te wees.
Deesdae poog ek om weer by my ou voorgee uit te kom van die jare toe ek onder-kaptein van Caledon Golfklub was. Ek en my vrou laat ook nie ‘n kans verbyglip om nuwe plekke te ontdek nie, ons geniet veral die natuurskoon van die Kgalagadi en Namibië. Ons spandeer ook meer tyd in die buiteland en toer lekker saam met ons kinders.
Ek is dankbaar dat ek nog so paar goed kan onthou en besef net weer eens hoeveel genade ek in my tyd ontvang het en ook hoe bevoorreg ek was om deel te kon wees van ons Alma Mater.
Semper splendidior!
