
deur Danie van Niekerk
Nadat die grendeltyd in April 2020 afgekondig is, bel ek in Mei ‘n ou klasmaat van 1973 om hom geluk te wens met sy verjaardag.
Dit was ‘n lekker lang gesprek, want hoewel ons op dieselfde dorp woon, het ons vir baie jare kontak verloor.
“Kom braai môreaand by my,” sê hy.
”Dankie vir die uitnodiging, maar ek is bang vir Covid. Wag eers tot die winter, en hopelik Covid, verby is,” sê ek.
‘n Week later bel hy my terug.
“Jy doen mos niks; jy sit net heeldag op die stoep. Jy het my opgespoor. Vind uit waar is ons vriende wat saam met ons in die Voortrekkers was en dan kom braai julle by my,” sê hy.
“Dankie vir die uitnodiging, maar ek is bang vir Covid. Miskien in September.”
‘n Week later bel ek hom.
“Ek het ‘n ander plan. Ons het baie gekamp en gestap as Voortrekkers. Ek sal kyk wie ek kan opspoor en dan stap ons, as Covid verby is, ‘n kort roete in die Helderberg-natuurreservaat en eet daana saam ‘n ontbyt.”
In September stap sesstuks, Johan Cillie, Skip Krige, Pierre Vosloo, Hannes Myburgh en Danie van Niekerk, toe die Protea-roete in die Helderberg-reservaat. Citto Olwage se gesondheid het dit nie toegelaat nie, maar hy het by ons aangesluit vir ontbyt by Henri’s, Pierre se restaurant.
In hierdie aanvanklike grendeltyd (tussen Mei en September 2020) het die idee ook ontstaan dat ons 1973-klasmaats gereeld terugstap op ons ou spore en dat die oud-Paul Roosers wat in die laat sestiger- en vroeë sewentigerjare die Lentelope (destyds deur die Departement van Sport en Ontspanning geïnisieer) gestap het, weer terugstap op hul spore van dekades gelede. “To take a trip down memory lane” — letterlik en figuurlik.

Die eerste van hierdie seisoenstappe was kort daarna, in Oktober 2020, toe Nols Heunis en Leon Mostert ‘n groep van sestien 1973-ers opgespoor het wat in die Jonkershoek-natuurreservaat na Tweede Waterval gestap, ‘n lekker sjampanjeontbyt geniet, ou vriendskappe hernu, ou herinnerings opgeroep en nuwe ervarings gedeel het. (Die aanvanklike idee om op ou spore terug te stap, het egter nie beperk gebly tot ou roetes nie.)
Seisoenstap Tweedewaterval Okt 2020:




Stappe by die Taalmonument, Tafelberg via Constantianek, Groot Drakenstein, die Leopard’s Loop-roete in Helderberg, van die Bergpad na Blaauwklippen in Stellenbosch, Fernkloof in Hermanus, ‘n 10 km-stap op die strand by Dwarskersbos, Majik Forest in Durbanville, Swartboskloof (in Jonkershoek), Palmiet (in die Kogelberg-natuurreservaat), asook die voetpad van Fick se Poel tot by die See-en-Sand-terrein langs die kuslyn van Hermanus, het gevolg (sien fotos onder).
Vir elke stap het iemand verantwoordelikheid aanvaar. Nols Heunis, Jannie Hanekom, Pierre Vosloo, Sarel Steel, Cobie Schonken, Riaan Swiegers, Kobus Theron, Skip Krige en Johan Cillie het al ‘n beurt of twee gehad. Piper Oosthuizen, Frank Meaker en Pieter van Zyl sal die res van vanjaar se stappe beplan.
—
Lentelope 2021:



Die eerste PRG-OSU-Lenteloop om die Lenteloop van 1971 te herloop, te herdenk en te her-denk is in September 2021 gehou. David Cluver en ‘n groep van sy 1971-klasmaats het die sirkelroete in Jonkershoek vyf dekades later weer gestap; party teen ‘n flinker pas as ander. Benewens ons 1973-ers, ‘n paar oudleerders van ander jare, ‘n groep huidige leerders en twee onderwysers, asook ‘n paar amptenare van Cape Nature, het David Taylor, oud-Engelsonderwyser van die vroeë sewentigerjare, ook saamgestap. Danksy Pieter van Zyl wat vroeër die Departementshoof van Omgewingsake by die Wes-Kaapse regering was, is met Cape Nature se topbestuur vergader en is besluit dat die Lentelope gesamentlik deur die PRG-OSU en Cape Nature georganiseer sal word. Elza van der Walt van die PRG-OSU het veral in 2021 baie moeite gedoen om die Lenteloop weer op die been te kry of, anders gestel, terug op sy voete te help.
Lentelope 2022:




Die tweede PRG-OSU-Lenteloop is in 2022 in die Assegaaibosch-reservaat gestap. Hoewel die roete korter was, was dit steiler. Die ouderdomme van die stappers het gewissel van 14 tot 81. Almal het egter nie die volle roete gestap nie. Die plan is om jaarliks ‘n paar bome (en boompies) by Assegaaibosch te plant, hoewel die roete, verkieslik in die Jonkershoek-omgewing, elke jaar sal wissel.
Soos genoem, organiseer die PRG-OSU en Cape Nature die jaarlikse Lentelope. Enigeen is welkom om saam te stap, hoewel die meeste deelnemers aan die 2021- en 2022- Lentelope een of ander verbintenis met Paul Roos of Cape Nature het. Indien jy hierdie insetsel lees en hou van stap in die natuur, moet jy nie die geleentheid misloop om jaarliks in September met voorlopers, meelopers en rondlopers saam te loop nie. Jy mag ook drentel of draf en daar is nie ‘n beperking op die afstand wat jy wil/kan stap nie. Wie weet wie jy gaan raakloop? Ons gaan ook bome langs die rivierloop plant. Na afloop van die Lenteloop kan jy wegloop of jy kan ‘n ontbyt saam met klasmaats, skoolmaats of ander saamlopers geniet en hoor hoe hul afgelope jaar of vyftig verloop het, en ook hoe dit tans met hulle loop.
Indien die seisoenstappe en die Lentelope nie lewensvatbaar is nie, sal dit doodloop. Met die skrywe hiervan het 43 persone (wat vyf oudonderwysers insluit) van die 1973-groep alreeds aangedui dat hulle die Bergpad of ‘n gedeelte daarvan, gaan saamstap op Saterdagoggend 4 Maart 2023. Hopelik is dit ‘n teken dat die seisoenstappe en die Lentelope, soos die bome en boompies wat ons tot dusver geplant het, sterk sal groei.
Mooiloop!
Lentelope 2023:








Lentelope 2024:




Seisoenstappe 2022 – 2025
Dwarskersbos Maart 2022:




Magic Forest, April 2022:


Swartboskloof, Junie 2022:






Kogelberg, Oktober 2022:










Hermanus, November 2022:

Blouberg, April 2023:







Wellington, Oktober 2023:








Mooiplaas, November 2023:







Strand, Maart 2024:





Simonsberg, April 2024:









Paarlberg, Mei 2024:







Kirstenbosch, September 2024:







Champagne, November 2024:















Kleinmond, Maart 2025:





Klein Helderberg plaas, April 2025:







Groenberg, Wellington Mei 2025:






Koopmanskloof, Mei 2025:













Nieuwedrift naby Piketberg, September 2025:













Paarl Arboretum, Paarl November 2025









Meerensee, Desember 2025:












Hermanus, Maart 2026:











Tafelberg, April 2026:









