Categories
Profiele

Riaan Swiegers

Riaan of Swieg of Vlieg, gebore in De Aar, val na die eerste kwartaal van standerd 1 by LPR in, woon in Zwaanswykweg 9, Karindal en voltooi matriek by PRG in 1973.

As Karookind wat nie reën ken nie, was my eerste indruk die nonchalant wyse waarmee Paul Rosers met hul skoene deur water kon loop. Die tweede indruk was hoe sag die grond was. En dan, die groen omgewing. Daar was kuiers op Meerlust met Hannes se Ma, tannie Jean, wat binne vyf minute van Bruynzeel tot op die plaas kon jaag. En Magriet Badenhorst wat ‘n rugbybal hoër as ons almal kon skop.

Laerskool is deur mense soos juffrouens Du Plessis, Steyn en Sheila gevorm. Argie en Van het dit verder gestalte gegee. 

As ‘n sluiper (‘rock spider’ volgens Timothy Ward) was dit altyd lekker om die ‘main peanuts’ dop te hou. Volpunte vir suurlemoengooiers Pierre du Preez & Nico Marais. Pouse sokker met Julian se bal… In die troppe vriende deur is daar nie spesifieke herinnering van lojaliteite anders as teenoor alle spanmaats nie.

Gedagtes dwaal na die uitnemendheid van Daantjie as sportman; Sarel, Eggie, Dillie, John, Pieter en Kobus (Theron – daar gaan ‘n stil man) as die begaafdes. Tessie, die uitnemede spreker. Skip, Abie en Ferdie die veelsydiges.

Party dae blaai ek deur fotoalbums vol foto’s uit Ollie se kamera en tower slaaptydstories op om die kleinkinders en myself terug te voer na hintertyd. Wat het die lewe met ons almal gedoen? Waar is die stilles? Waarmee bly hulle besig? Die manne van die hoofstroom.

Gemoedelike verhoudings met onderwysers was nie algemeen nie – Okkie teister almal oor hul hare, Speedy die perfeksionis en Sparks se ‘bully’-gees. Elkeen ‘n produk van sy gene, so gemaak so laat staan. En hoe ouer die mens word, hoe meer word jy soos hy is. Benewens legendes soos oom At, oom Dirk, Pêre en Tjoepies is daar vandag ‘n besef dat die meeste onderswysers onder duidelike leiding van  Chief ons met ‘n groot mate van respek behandel het: mense soos menere  Richter, Vermaak, Grové, Dock, Kapp, Smith, De Vries, Du Toit, Scheltema en natuurlik  Os, Vollie, Maanskyn, Klaasvakie en Van. Ook juffrou Annie, Ant Siena en mev Fick. Later jare sou Grové en Vermaak ons kinders ook onder hande neem, en oom Piet, ‘n merkwaarde mens, ons seuns se koshuisvader by Eendrag. Eben Olivier se seun was ons brilman.

Na matriek was ses Paul Rosers, insluitende Weppie, Guise, Frank Terink en James Matthee saam op die trein Potch toe met Jacques Voges wat later met die Junie-inname gekom het, om vir diensplig by ‘n veldartillerie-eenheid in te klok. Daar sluit baie van ons rugby – en krieketteenstanders DF Malan, Tygerberg, Boys High en Paarl Gim hulle by ons aan. Frank oorleef ‘n erge motorongeluk waarin twee reisgenote sterf. Diensplig, waar menswees sin moes kry, was ‘n roekelose omgewing.

Terug op Stellenbosch is tandheelkunde die beroepsvisie, maar gelukkig kry ek na een week ‘n heldersiende oomblik en verruil ‘n toekomstige werksomgewing so groot soos ‘n appel vir een so groot soos die aarde: siviele ingenieurswese. Deur die vyf jaar op US neem geologie, vloei-meganika en die omgewing spesiale plekke in.

Pretoria word in 1980 die basis om studieskuld af te werk. Ek trou in 1981 op Upington met my huidige anderhelfte, Nina, en word mettertyd een dogtertjie en twee seuns ryker. Na ‘n aantal omswerwinge na Badplaas en Bloemfontein keer ons terug ‘Kaap’ toe en woon sedert 1985 in dieselfde huis in Proteavallei, Bellville.

Terug in die Kaap tree PRG OSU weer toe, maar prioritiseringskonflikte dien bywoning en deelname ‘n gevoelige slag toe.

In 1990 word formele indiensneming vir ‘n eenmansaak as ingenieurskonsultant verruil en na 2010 kom twee energie-besighede by, een in Namibië en een in die RSA. Die doel is om ‘n onderhoubare en ekonomiese lewe op aarde deur middel van hernubare energie op aanvraag moontlik te maak (‘sustainable economic life supported by dispatchable renewable energy’).  ‘n Groot gedagte wat nie werklik tyd vir iets anders laat nie.

Stokperdjies was nog nooit iets wat in ‘n ongestruktureerde lewe inslag gevind het nie, maar visvang saam met die kinders, ‘n kamera, lees, skiet, patrone laai, Etosha, Kgalagadi en Kruger is lekker doendinge. Vandag, met die kinders uit die huis en die land, is daar net te min tyd vir iets anders. Nou is sewe kleinkinders ‘the spice of life’. Saam met hul ouma en ouers is hulle die ‘main peanuts’ in die pakkie.

Die 1973-Stapklub en die PRG Lenteloop vervul die hunkering om deel te wees van ‘n groep met wie ‘n fundamentele verbondenheid bestaan. Met ‘n lewensbeskouing van ‘Swiegers Tevrede’ is my ‘claim to fame’ steeds dat ek in Paul Roos was en in die matriek-eindeksamen agter toppresteerder Sarel gesit het.