Categories
Profiele

Piet Van de Vyver

Ek beland in 1969 by Paul Roos… 1000km van die huis af (Cathcart). Ek ervaar voorts van die beste tye van my lewe.

Wie sal ooit Coetzenburg, Nuweland en al die goeie vriende vergeet? In Prima is my ‘roomie’ ene Sampie Loots. Ons is vandag nog vriende. Wie sal die ‘touchies’ onder die bome of die vele houe vir onwettige koffiemaak ooit vergeet?

Hoogtepunte

  • Wanneer ek die bal voor die eerstes se neuse kon steel (onwettig). Die traphale le nou nog oor my ribbes!
  • Ek en Apie Kock ‘hike’ huis toe na deelname aan W.P. Platteland atletiek op Moorreesburg! Nodeloos om te sê, Maandag (Prima se hoofseun of te nie) moes ons buk vir ses van die bestes by die hoof.

Na weermag (berede) is ek Stellenbosch toe vir my landbougraad. Simonsberg was my koshuis, met Harry Erasmus en Barry Pienaar as kamermaats.

Ek is in 1978 terug plaas toe, waar dinge goed verloop het.

In 1983 trou ek met Milda Blomerus, ‘n onderwyseres. Ons is geseën met 3 dogters (onderwyseresse) en een seun (’n geoktrooieerde rekenmeester).

Ons het nege kleinkinders (ek dink dis ‘n rekord vir die 1973-klas). In 1992 koop ek ‘n plaas by Middelburg in die Karoo en ons verhuis daarheen.

Sedertdien boer ek heeltyds daar en is baie geseënd, ten spyte van ongediertes, droogtes ens. Ek is dankbaar dat my beroep en my stokperdjie dieselfde kan wees.

Eer en dank aan God vir n geseënde gesinslewe en lewenswyse.

Ek hoop my aftrede lê nog ver…