Van my skoolloopbaan onthou ek nie veel nie; dus sal ek eerder die jare na 1973 opsom.
In 1974 doen ek my weermagopleiding, eers basies by Youngsfield, gevolg deur 8 SAI by Upington, en daarna by 2 SAI in Walvisbaai. Die laaste twee maande van daardie jaar het ons peloton in Windhoek deurgebring. Natuurlik het daar verskeie kampe daarna plaasgevind, en dus was ek nie verlos van PW Botha en Kie se wysvingers nie. Een van hierdie driemaande-kampe het my vir die eerste keer laat kennis maak met die grensoorlog.
In 1975 begin ek Geologie swot by die Universiteit van Stellenbosch, verwerf my BSc-graad in 1977, en my Honneursgraad in 1978.
Vroeg 1979 begin ek werk by die Amandelbult-platinummyn naby Thabazimbi. In 1982 bedank ek om verder te gaan swot by die Universiteit van die Oranje-Vrystaat. My MSc-tesis het gehandel oor die uraan- en thorium-inhoud van sekere Wes-Kaapse graniete, asook in gebiede soos die Richtersveld in die Noord-Kaap/Namakwaland. Dit was my eerste kennismaking met daardie pragtige klip- en sandwoestyn met sy unieke plantegroei, en ek het sedertdien verskeie kere teruggegaan.
In 1986 verlaat ek die UOVS en sluit aan by die Rand Mines-myngroep. Die werk het my teruggeneem na Namakwaland en Boesmanland. Die projek het egter gou doodgeloop, en einde 1987 keer ek terug na die Amandelbultmyn. Daar het ek gebly tot in 2012, waarna ek verplaas is na die Driekop-eksplorasiekamp naby Steelpoort/Burgersfort. Ons was in beheer van verskeie platinum-eksplorasieboorprojekte in die oostelike dele van Mpumalanga en Limpopo. In 2016 kom alles tot ‘n einde na my 60ste verjaardag, omdat ons verplig was om af te tree op daardie ouderdom.
Tussen dit alles deur het ek ‘n ietwat wyer reislus ontwikkel. In die jare tussen 1990 en 2002 het ek altesame ses keer na die Nepal-Himalaya gereis om na verskeie van die wêreld se veertien pieke hoër as 8 000 meter te gaan kyk, en lang staptogte in die omgewing te onderneem. Natuurlik was Everest die nommer een-attraksie, maar Lhotse, Annapurna, Dhaulagiri, Manaslu, Cho Oyu en Makalu was ook op die spyskaart. As ‘n mens eers een keer in die Himalaya was, is dit verby; jy is vir altyd verslaaf aan die plek en sy mense – insluitende die beroemde Sherpas.
Het ek enige van hierdie berge aangedurf? Nee. ‘Common sense’ en al die boeke wat ek verslind het oor die onderwerp, het anders gedikteer – ken jou beperkinge. Dis nou afgesien van die astronomiese koste verbonde aan klimtogte in Nepal. Pleks daarvan was ons heel tevrede om staptogte (‘trekking’) rondom en tussen hierdie berge te onderneem – enigiets van so 8 na 28 dae. En dit was duur genoeg, behalwe die noodsaaklike fisieke fiksheid en akklimatisering om tot hoogtes van 5 600m te kon gaan. Die bopunt van Everest is 3 250m hoër!
Verdere reise na ander afgeleë plekke soos Patagonië (Argentinië/Chile) en (veral) Ysland is ook suksesvol afgemerk op my ‘bucket list’ – altwee met asemrowende gletsers, mere en fassinerende geologiese verskynsels soos vulkane.
En nou, vyftig jaar later, is ek terug waar alles begin het: Stellenbosch, die plek van Paul Roos, en die Pieke. Met ‘n sak vol goeie herinneringe.




