Categories
Profiele

Johan Bouwer

Veral toe ek hoor dat daar ook hulde gebring word aan die gestorwe alma maters het ek besluit om  ietsie te vertel; en net sodat Skip nie ook oor my verslag hoef te doen nie. Ek leef nog en ken my verhaal baie goed. Ek het 100 jaar se avontuurervaring ingeprop in 50 jaar. En ook op skool ‘n baie avontuurlike lewe gehad.

Vroeg reeds het ek agtergekom dat ons ‘n besonderse groep seuns bymekaar was en die feit dat ons net jong seuns bymekaar was vir omtrent tien jaar of meer, het bande gevorm en ondeundhede en kattekwaadstreke was aan die orde van die dag. In standerdd 5 by Jan Maartens se verjaarsdagpartytjie het ons binne die bestek van twee ure die bekfluitjie-koshuis gaan beskree. Ek en Skip was die laastes wat toe probeer weghardloop. Dit was swottyd vir predikate in Wilgenhof en Springbokke soos Gert Muller, Andy van der Watt en Johan van der Merwe het ons agternagesit. Een man is gevang en geteer en geveer, maar niemand vang sommer ‘n adrenalien-geaktiveerde twaalfjarige groep kinders nie. Veral nie as ons net voor die petalje ook die vryers in die Laan lastig geval het nie!

Akademies was ek alreeds ‘n briljante intellek, dink ek, want ek het op laerskool nooit onder 90% ge-‘score’ in die eksamens nie. Maar niemand het dit eintlik agtergekom nie, want ek was  in die klas saam met Sarel Steel en Egmont Sippel, twee van die grootste breins van ons land. My ..akademiese prestaties het gou die loop geneem toe ek op my op hoërskool ten volle toegewy het aan sport. Sparks moes gereeld dissipline in ons in ‘Josephine’, maar steeds was dit my lekkerste klas op skool. En ek het vir atletiek en rugby gelewe.

My vader wou graag hê dat ek goed tweetalig moes wees en vra die hoof of ek na die Engelse klas kan gaan. Hy weier, want die Broederbond en die NP was sterk ingestel op die Afrikanergemeenskap. My vader stuur my toe na Rhodesië, waar ek in 1971 met Engels as onderrigtaal skoolgegaan het.  Daar kom ek agter dat die skoolstandaard besonder hoog is en die Cambridge-skoolstelsel is ons met minstens  een skooljaar vooruit. Ek doen standerd 9-werk terwyl ek in standerd 8 is. Ek presteer deur eerstespan rugby te speel en keer terug na Paul Roos, dié keer in die Engelse klas, saam met John Donald, Pieter van Zyl, Richard Murray, Danny Spangenburg en ‘n paar ander kriminele.

Pieter Coetzee raak my ‘idol’ en ek oefen dag en nag atletiek. Later het ons vriendskap sodanig gegroei dat ons tot vandag huisvriende bly. Sy inspirasie het veroorsaak dat ek Jokkel swot en toe ‘n driejaarkursus ingrop in vyf jaar. Later het ek ook n B. Phil (hons) gedoen op Stellenbosch.

My skooltyd het my geleer dat dit om die vriende en ‘n alma mater gaan en nie eintlik die skool nie. Ek het wonderlike bande gevorm met die Voortrekkers, die rugbypelle en die hele klas van 1973. Ook met vriende in Fort Victoria High School in Zimbabwe.
My avontuurlike lewe het my gelei na ‘n werk as diamantduiker, werk in die handel, werk as entrepreneur, onderwyser en uiteindelik my werk as natuurgeneeskundige terapeut, waar ek sedert 2015 werksaam is in Nederland. Saam met my Nederlandse vrou het ons ‘n praktyk in Driebergen, digby Utrecht, en kan ek met my dubbele burgerskap werk so lank ek wil. Die idee is om te werk totdat Jolanda aftree-ouderdom bereik. Omdat sy elf jaar jonger is as ek, kom ek nou die dag agter dat ek tot 79 in die tuig sal wees! Wat n plesier om dan in 2033 ons 60-jarige reünie te kan bewoon in SA! Dan kan ek my kinders en kleinkinders ook sommer besoek!

Ek kan nie die ode afsluit sonder om ook die naam van Riaan Swiegers te noem nie . Riaan ken ek die langste in my lewe. Ons was van geboorte saam in De Aar. As jeug en peutervriende het ons, en ook sy broer Gerhard, baie sterk bande gevorm. Hulle het toe ook na Stellenbosch gekom. Al verloop daar jare tussenin, is dit merkwaardig hoe vriendskap net weer ‘gebeur’ wanneer ons mekaar kontak of sien.

Johan Bouwer, 28 Mei 1955 – 29 September 2024

Huldeblyk: https://prg1973.co.za/johan-bouwer-2/