





Ek is in Windhoek op 17 November 1955 gebore en het daar 60 jaar lank gewoon. Met my aftrede in 2016 trek ons plaas toe. Die plaas, Kakus, is so 23 km suid van Gobabis op die Leonardvillepad – beeswêreld!
Buiten vir standerd 9 en 10 aan Paul Roos Gimnasium (PRG) en een jaar diensplig (ses maande by 1 Spesiale Diensbataljon in Bloemfontein en die ander 6 maande op die grens) was ek ‘n Windhoeker deur-en-deur. Laerskool was Emma Hoogenhout (saam met Harry Erasmus) en tot met st 8 was ek in Jan Mohr Hoërskool. My diensplig het in Julie 1974 begin, so ek moes tydelik vir 6 maande werk.
Die 6 maande by Windhoek Munisipaliteit het toe permanent geword tot my aftrede. Het altesame 41 jaar en 11 maande by een werkgewer gebly, maar verskillende poste beklee: Personeel, Eiendomme en Eiendomswaardasies. Ek het ook eiendomsontwikkeling in Windhoek gedoen en deeltyds geboer sedert 1995.
Ek is getroud met Riana (Moolman), wat van julle op ons 2023 reunie ontmoet het. Riana was ‘n onderwyseres in Windhoek en het saam met my afgetree. Ons het een seun, Daantjie. Hy het Personeelbestuur aan die NWU studeer, ‘n paar jaar in Windhoek gewerk en boer nou saam met my.
Ons boer met bees. Boerdery is lekker, maar het sy uitdagings, soos droogte. Tans beleef ons ‘n droë tyd met min reën. Ons is bevoorreg om ‘n strandhuis te hê op Hentiesbaai, waar ons vakansies gaan kuier, lekker afkoel en rus.
My twee jaar by PRG was ‘n aangename tyd. Ek het ‘n nuwe omgewing beleef, wat baie anders was as Suidwes. Die uitnaweke en gasvryheid saam met vriende, soos die Basson-tweeling, was ‘n hoogtepunt en ook om Stellenbosch se natuurskoonheid te kon ervaar. Die koshuislewe in Prima Nova saam met baie vriende was ook lekker.
Na skool en diensplig is ek terug Windhoek toe. Ek het by Wanderers Klub rugby en krieket gespeel vanaf 1975 tot 1988.
Dankie vir mooi herinneringe en 2 jaar se skoolgenot. Goeie gesondheid word julle almal toegewens en mag ons mekaar weer sien op die volgende reunie!
