Categories
Profiele

Radie Loubser

Gebore 4 November 1955 as die derde van vier seuns. Groot geword in Dennesigstraat 4, Stellenbosch.  My pa was ‘n landmeter en het ons broers van jongs af beurtelings saamgeneem op opmetings. Ek het al voor skool my eerste visstok gekry.  Drie gesinne van Stellenbosch (die Murrays, Perolds en Loubsers) het oor die jare heen elke paasnaweek Sederberge toe gegaan – toe dit nog wild en woes was. Voorskoolse maatjies (behalwe my boeties) was maar Pikkie Maree, Johan van den Bergh, die Vogese en enkele ander. Eerste maatjies op skool was Pietie, Eggie, Folkert, Bouwer, Hermanus, Craffords, Vissers en paar meisies.

Op laerskool was ek maar in die bondel. My ma was oortuig ek moet musiek talent hê en het drie jaar klavier geneem en nogal gevorder tot die destydse Graad III in musiek. In Standerd 4 is ek half gedwing om in Mej Sheila de Kock se koor te sing. Die liedjie was nog swakker as my musiektalent – “Santjie van Soendal, o nooi van my hart” – ek wou naar word. Laerskool het ons bykans elke oggend sokker gespeel teen die “ingelse”.  Julian Theron het gereeld maar aan die kant van die “underdogs” gespeel. Pouses gereeld “open gates” gespeel (daar waar die krieket oval nou is – heelwat klere geskeur).  Van ons huis in Dennesigstraat was net oor die Van der Stel parkie tot Du Toit straat 6 waar Folkert gebly het – redelik gereeld daar gaan “speel”. Ek het stadiger as my maats ontwikkel – my rugby is begin in die onder 11 F met ouens soos Tessie en Eggie – die laaste keer wat ek span gehaal het was O13 A in std 5 (grd 7) met Van  (mnr Van Rooyen) as afrigter. Ek weet nie wie in std 5 die meeste houe by skoolhoof Sam de Kock gekry het nie, maar dit was beslis tussen my en Johan Bouwer (hy het aanmekaar gelag). Skip toe al begin hardebaard kry, maar het op stadium uit ‘n boom in Die Laan geval en albei arms gebreek en met twee gips-arms steeds die atletiek gewen.

In std 6 het ek begin koerante aflewer, Voortrekker geword (meesal spanleier) en ook by CSV begin (ook hier meestal kringleier – niemand anders wou die joppies hê nie). Steeds het die families paasnaweek Sederberge toe gegaan en heel dikwels Sampie Loots saamgeneem.  Ons Voortrekker Offisier was ene Vincent Swart wat nogal baie moeite met ons spannetjie (Die Koedoes) gedoen het. Daar was aanvanklik drie spanne in ons jaar groep wat later opgeneem is in die Krokkodille. Dit was juis tydens ‘n Voortrekker kamp in Baineskloof toe die aardbewing van 1969 plaasgevind – dit was heerlik om die erg geskokte meisies daardie aand te troos! Die Voortrekker groepie het heel dikwels naweke na Skip se familie se plekkie by Hangklip gegaan en taamlik kreef en perlemoen uitgehaal – een keer was die net te swaar om te dra en swem drie van ons (Skip, Sampie en ek) met die tjoep kuslangs terug – sekerlik so 2-3 ure geneem. Weppie was toe visskiet champ. Ek het op hoërskool eers regtig bevriend geraak met Neil Visagie, Charlie Marais, Kobie Schonken, en Dawid van Niekerk. So std 8 met Eddie en Daniel meer bevriend geraak. Ons skoolhoof was “Chief” Dawie de Villiers (oom van Eddie) wat my heeltemal te maklik oor die hoof gesien het. Gereeld vanaf std 8 skool gebank om strand toe te ryloop en te gaan “surf”.

My ma is vroeg in 1974 oorlede en ek het toe eers studeer en na my studies vir 2 jaar diensplig aangetree. Ek het BSc Bosbou (Boskunde rigting) studeer met staatsbeurs. Het meer tyd in Kleinmond spandeer as in my studies en rekordgetalle hereksamens gedoen. Dit was juis op een reënerige naweek wat Eddie met ‘n kombie vol meisies op Kleinmond aankom.  Een meisie het dadelik my oog gevang (en later is ons getroud – verloof op Kleinmond). Toe in 1979 aangemeld vir diensplig. Tydens diensplig was ek meestal in die tuislande (KaNgwane) ontplooi in KOMOPS.  Na diensplig is ek na Sabie en in 1981 getroud met die liefde van my lewe. Na ‘n jaar in Sabie het ons 7 jaar in Eshowe (Zoeloeland) gewoon (waar beide ons seuns gebore is), toe vanaf 1988 vier jaar in Knysna en toe “afgetree” na twee jaar in George op ouderdom van 38 jaar. Ons het in George aangebly en gewoon vir 30 jaar, voor ons “laaste” trek na Kleinmond.  Ek was in die Dept Bosbou besonder bevoorreg om in baie streke te werk met baie uiteenlopende uitdagings en persoonlikhede. Die bestuur het ingesluit bou van algemene infrastruktuur en paar kwekerye, bergopvang gebied, denne plantasies, bloekom plantasies, inheemse bos, ontginning van produkte, kusduinbos, waaisandgebiede, saagmeulbedryf en vele meer.  Daarna het ek eers klas gegee by Saasveld en verskeie klein ondernemings “aangedurf” voor ek vir die laaste twintig jaar by die George Munisipaliteit gewerk het tot finale “aftrede”.

Mens kyk onwillekeurig terug en besef dat jou lewe besaai was met seëninge sowel as terugslae. My familie, my vriende, my skool, my onderwysers en die talle rolspelers agter die skerms wat die “sisteem”aan die gang gehou het – alles onverdiende seën en genade. Kan nie anders as om opreg dankbaar te wees nie.