Categories
Profiele

Carl Christiaan (Callie) Theron

Gebore op 26 Maart 1956 in Ithaca, New York State, Verenigde State van Amerika. Kom op eenjarige ouderdom na Stellenbosch. Laerskool van sub A tot standard 5 aan Denneoord Laerskool voltooi. Hoërskool van standard 6 tot matriek aan Paul Roos Gimnasium voltooi. Matrikuleer in 1973.

Doen 12 maande diensplig in 1974 as lid van 11 Kommando Infanterie Batteljon  in Kimberly. Spandeer 3 maande op die Suidwes-Afrika grens by Babata.

Begin BA studies aan die Stellenbosch Universiteit in 1975 met hoofvakke Sielkunde en Geografie met die oog op nagraadse studies in Stads- en Streeksbeplanning. Verander my fokus aan die einde van my derdejaar van Stads- en Streeksbeplanning na Sielkunde. Voltooi Sielkunde honneurs in 1978. Prakties by De Novo en Stikland bring my tot ander insigte. Besluit om oor te skakel na Bedryfsielkunde.en registreer vir ’n magister in Bedryfsielkunde met aanvullende voorgraadse werk. Verwerf my MA (Bedryfsielkunde) in 1987 en die graad DPhil (Bedryfsielkunde) in 1999.

Word in Januarie 1980 aangestel as junior lektor in die Departement Bedryfsielkunde aan Stellenbosch Universiteit.  Word in 1988 bevorder tot lektor en in 1999 tot senior lektor. In Julie 2001 word ek bevorder tot mede-professor en in 2014 tot professor. Einde 2017 het ek (effe vroeg) afgetree maar my betrokkenheid in die Departement behou waar ek as as emeritus-professor steeds studieleiding aan magister en PhD studente verleen.

Die loopbaan in die akademie was onbepland en onvoorsien. Desnieteenstaande was dit die mees betekenisvolle en verrykende voorreg om mee te werk aan die soeke na geldige kennis en om die voorreg gegun te wees om jong mense se lewens positief te beïnvloed.

In 1984 trou ek met Antoinette Blanckenberg (nee Scholtz). Sy bring vir my twee dogters saam (Michelle en Anelle). Hulle skenk my die voorreg om Vati te mag wees. Ons bou ’n huis in Helderberg Somerset-Wes. Trek na enkele jare terug na Stellenbosch waar ons bevoorreg was om ’n huis in Simonswyk (Kommandeurslaan 31) te bekom waar ek en Antoinette na bykans 40 jaar steeds woon. Michelle is getroud met Rian en woon op George. Karma en Kian  is twee kleinkinders wat die voorreg gebring het om Oupa te mag wees.

Die lewe was en is baie goed vir my
Niks van al die goeie wat my toegeval het kon ek egter op aanspraak maak nie
Ek het dus baie om voor dankie te sê