Categories
Profiele

Jannie Smit

Na vele versoeke van Kobus en ook ou Mossie van die Paarl, met wie ek soms kontak gehad het, skryf ek graag ‘n paar woorde. 

Jul omgee vir ‘n ou wat net een jaar – 1973 –  in Paul Roos Gimnasium was, is bemoedigend. Ja, seker een van my moeilike jare veral oor vakkeuses. Ek het standerd 9 in Transvaal gedoen en moes toe rekeningkunde los en standerd nege en matriek se geskiedenis opvang. Ook skeinat was ‘n probleem: ons het fisika in standerd 9 gedoen en julle chemie, so ek het chemie nooit gesien nie. Ons het in Somerset-Wes gebly en ek kon ook nie by die rugby aansluit nie. Op geestesvlak daai jaar was Mossie se pa se ongeluk en sy dood vir my ‘n groot skok en baie sleg.

Op 31 Desember 1973 kom die uitslae. Ek bel Kaap toe want ons is in die Transvaal vir ‘n kuier en wonder-bo-wonder slaag ek met toelating! Wat n welkome oomblik. 

My pa het nie geglo aan stilsit nie. Een van die dinge wat hy ons geleer het, was as jy sweet gaan jy nie dood nie. In afwagting van my weermagopleiding (Junie 1974) het ek op n vrugteplaas gaan werk te Firgrove. Ek moes trapfiets ry van Helderberg af by oom Koos de Waal verby en saans weer terug. Nodeloos om te sê, ek het my eerste fiets se raam heeltemal krom gebuig en my pa moes vir my ‘n ander fiets kry, ‘n dikwiel Philips met ‘n 3 spoed archer. Hy het die pyn gevat! Min het ek besef ek gaan die grootste deel van my lewe in vrugteboorde en wingerd deurbring.

Ek besef nou opnuut hier waar ek vieruur in die oggend aan die kombuistafel sit, 180 km noord van Tete in Mosambiek in die bos: my VADER se opleidingspad! Hy het vir my en Susan (Oom Flip Lochner van Eikendal se oudste dogter) met wie ek al 46 jaar getroud is, geskool om uiteindelik in 2011 permanent hier op die sendingstasie te kom dien – heeltemal buitekant die boks!

Junie 1974 klim ons trein, groet ons astertjies, hulle huil lekker maar ons mag nie want ons in nou manne. 5 SAI toe by Ladysmith in KZN. Nog `n buite die boks ervaring wat ek dink ons almal nooit sal vergeet nie! Aan die einde van basies en reeds aangeteken vir 18 maande, sou ek Oudtshoorn toe gaan, maar op ‘n Vrydag woon ek die hondeskool se keuring by, uitsluitlik om die dag se aktiwiteite (90% PT) te mis. 

Ek word gekeur vir ‘n operasionele groep en wel verkenning. My plan het gewerk, maar my toekoms het heeltemal verander: Voortrekkerhoogte toe. Ja, ten spyte van my antwoorde aan kaptein Grobler, wat volgens my in die kol was om my nie geskik te maak vir die hondeskool nie, was dit presies wat hy gesoek het: niemand met vorige ondervinding van honde is gekeur nie. Hulle wou hul eie stempel afdruk. Agttien maande later, waarvan 6 maande op die Angola-grens, kom ek in 1975 nadat ek my hond en ‘n pel begrawe het, huis toe om te kom swot.

Dit is nou 04:30 en die dag breek rooi deur die kombuisvenster, en ek besef die storie kan baie lank word. My gedagtes le ook by die dag wat voorle: ek moet Vila Ulongwe toe ry om diesel te kry. Dit is so 65 km noord op pad na die Dedza-grens met Malawi. Ja, ook ‘n kontantgeldjie te kry wat ‘n groep by my inbetaal het vir ‘n ou man, Secondry, wat jare op die bouspan gedien het op die Chandame-sendingstasie. Hy is oud en swak en moet na sy kinders toe in Malawi. Baie van die mense wat by die ring van Tulbagh se uitreike betrokke was en permanent op Vila gewerk het, soos Tannie Helen Meyer, wat die insameling gelei het, ken hom. In dieselfde asem besef ek as ‘n 1956 model, ons stap almal die pad!

Nou wil ek graag aangaan maar die verhaal van die Here en Sy pad met my en Susan sal vervolg as dit julle goedkeuring wegdra. Dit is goed en is vir my spesiaal om  die stowwerige blaaie oop te slaan van die pad tot hier. Seen eers vir almal.

Riaan Swiegers se onthou: Jannie Smit se storie lees soos ‘n storieboek. Amper 30 jaar gelede is ons deur daai geweste van hom. Eers deur Tete en later van die Malawi-meer op met die Golomoti-pas na Dedza. By Chongoni en Nkoma vir Hennie Smit, ‘n bosbouer wat vir Coastal City Adaptation Programme (CCAP) gewerk het, raakgeloop. Jare later het ons meisiekind vir ‘n vakansie by Vila Ulongwe se hospitaal saam met die Tannie Helen, sout van die aarde, gewerk. Dis ‘n fantastiese wêreld … Dis baie hard om daar te lewe … as jy nie iets self kan maak nie moet dit “uit die Republiek kom”. Geleenthede is maar min. In die tyd dat ons meisiekind daar was, het sy siek geword, net sy, niemand anders … later het hulle ‘n ontbinde dooie rot in die drinkwaterstelsel gekry. Daai lewe temper jou liggaam en siel werklik.

Leon Mostert se onthou: Hier is net ietsie wat ek van Jannie Smit weet wat hy my vertel het so einde 1980s tot middel 1990s. Hy het Teologie geswot maar nie geld gehad om Kweekskool toe te gaan nie. Hy besluit toe om vir 1 of 2 jaar te gaan werk om geld bymekaar te maak. Kry werk by ‘n chemiese maatskappy wat spuitstowwe aan boere verkoop. Van alle plekke op Rawsonville, die hoofstad van brandewynverbruik in SA. Nodeloos om te se, Jannie is NOOIT kweekskool toe nie!! Klompie jare gelede het die sendingveld hom geroep. Vandag is Rawsonville Boerevereniging sy groot borg. Dit kos so iets soos R15 000 vir brandstof om 1 x per jaar terug te kom Rawsonville toe. Hy kom gewoonlik teen einde November tot middel Februarie. Dalk kan ‘n paar van ons een Saterdag oor die klip ry en vir hom gaan kuier met ‘n ietsie kouds. Hy het in sy Stellenbosch dae ook vir Van der Stel se 1e span slot gespeel saam met Dirk Naude (Tiny se broer). Die recovery trok het Rawsonville se manne ook help koop. Hy is die enigste ou daar rond met lorries en recover trokke.