12 Junie 1955 – 26 April 2024
Ilse Krige: Lewenslange vriendin van Ed
Die Doodsiekte

Oor Ed kan ek boeke vol skrywe. Ek wil tog net nie hê hy moet gedefinieer word deur die kruis wat hy op die einde moes dra nie. Ed is wel weggevat deur Motor Neuron Disease, maar daardeur het hy ʼn ongelooflike invloed gehad oor almal in en naby sy lewenskring.
Vir die PRG73-blog kan ek ʼn uittreksel van my persoonlike sinmaak van hierdie ongenaakbare diagnose aanbied. My seun, JP, se eulogie is die ware huldeblyk aan Ed.
My eie skrywe lê nog steeds noodgedwonge toegedraai in onuitwisbare indrukke van hulpeloosheid, komende verdoemenis en die uiteindelike grootste groot verlies wat ons almal verwag het.
ʼn Uittreksel uit “Die doodsiekte”:
…Na maande se denial en selftroos het ek, al laat in sy siekte, by dr Isaacs die gevreesde doodsvonnis finaal gehoor. Ek het my sussie in Engeland gebel en saggies probeer huil want Ed was net ʼn venster ver. Maar ek het gesnik van die skok, gehyg van die skrik.
En Charlene het net bly volhou: “Ek weet nie wat om te sê nie. Wat wil jy hê moet ek sê? Maar jy kan nie nou inmekaarsak nie. Jy sal nou sy carer moet wees.”
Maar ek weet nie hoe nie, Charlene. Ek weet nie hoe ʼn mens jou lover, jou partner, jou lewensmaat moet help stap deur die dal van doodskaduwee nie.
Hierdie ene, hierdie walglike krankheid, hierdie ongenaakbare siekte kry niemand gekul nie. Want die gestremdheid raak so erg dat jy nie eens ʼn ekstra dag wíl hê nie. Jou lewenskwaliteit is grootliks geabsorbeer in ʼn onhoorbare gemompel. Tot ʼn kierie en ʼn loopraam later onbruikbaar.
Wat gevolg het op die neuroloog se amper argelose uitspraak, het ons lewens vir altyd verander. Nie net die die sware aanpassings, hartbrekende opofferings en vernederende kompromieë nie, maar ook, natuurlik, die ongenaakbare bel van die coroner, die kontant gaan trek, eenkant gesit vir die verassing, die in kennis stel van die printers vir die roudiensbriewe. Alles vooruitbeplan. Net die datum kort. Kil.
Dis vandag al net oor vier maande. Ek tel, my Lief, elke week. Dit voel nog steeds soos ʼn fliek, ʼn donker drama, ʼn kunsfliek waarvan jy weet daar is net een einde.
Ed, jou woorde daai eerste Sondag na die aankondiging van die doodsdiagnose het vir my ikonies geword. Ek kan onthou ek het by jou op die bed gekniel en gevra wat jou bucketlist was, wetende dat ʼn bucketlist in jou oë overrated was. Dalk wou jy nog in die strate van Burkina Faso gaan loop het. Of iets. Het ek gedink. Ek sou enigiets doen om jou emmerskoplysie vir jou moontlik te maak. Dit sou die laaste wees.
Want met Motor Neuron is daar net een pad, en dit is oor die afgrond.
En dan gaan jy dood.
Niks help nie. Niks. Nie bestraling nie, nie chemo nie, nie bottels vol pille nie. Geen voedselaanvullings nie. Nie ʼn enkele masjien nie. Ook nie kwaksalwers se weird varkblaas-konkoksies nie. Nie eens miljuisende rande se omstrede stamsel-oorplantings nie.
Jy het MND.
En dan gaan jy dood.
So toe dink ek nog nou sal jy ʼn kopswaai maak oor die bucketlys.
Maar jy sê: “I’m living it.”
My asem was weg. Ek weet daai sou ek nie kon doen nie. Ek sou rant en rave. ʼn Classic bucket list opstel. Maar “living it”?? Jô. Seker net ʼn mens oor wie ʼn doodsiekte klaar uitgespreek is wat so ʼn insig kan hê in homself en dit wat vir hom dierbaar is.
Eksentriek, diep wys oor die dinge wat hom interesseer, so het hy ook sy doodsvonnis benader. Ek het verwoed ge-google, het geen begrip gehad dat die tyd te min is om te baie te wil weet nie.
Sy mening: “I don’t want to fill my head with knowledge about an illness no on can do anything about. I would rather watch soccer. Or listen to the philosophers of the world. Or write while I can still move my fingers.”
Neurone verkrummel en so val spiere weg, groot spiere eerste en daarmee saam fietsry squash-bane toe, loop in ‘n winkelgangetije, later selfs skuifel van kamer tot badkamer. En dan raak die woorde weg. Die sluk verstik. Jou menswees word vir jou opgeoffer, die siekte vat en vat. Al waarop jy kan hoop, is dat jy so gou as moontlik sal kan gaan.
Joost was vervloek met sewe jaar se gestremdheid. Die ma van ʼn Grey-boytjie hier by ons al 22 jaar. Arme ou Stephen Hawking was vir 50 something jaar gebreklik, verbrokkel, gebroke.
Ed was gelukkig.
Een jaar en ʼn maand
Now, I’m living it, because you showed me how. But I miss you so, my Darling. I miss you so.

Brief van JP Lombaard, Ilse se seun:





