Categories
Huldeblyke

Dirk Loots


15 Maart 1956 – 6 Januarie 2026

Gedagtes oor ons vriend, Dirk Loots

deur Jannie Rousseau

Op die eerste dag in Paul Roos Gimnasium (PRG) toe die onderwyser die klaslys opgestel het, het een nuwe koshuiskind se volle name en adres by my vasgesteek: Dirk Ernst Loots van Zwemkuil by Prieska.

Ek en Dirk het vriende geword in die kort tyd wat ek in PRG was en daarna sporadies kontak gehad. Sowat 15 jaar gelede het ek by Dirk en Anni, sy vrou, op Zwemkuil gaan kuier en het ons weer die vriendskapsbande opgetel. 

Dirk het op Zwemkuil geboer, geleef, gelag, vier kinders groot gemaak en ongelukkig ook gehuil toe Anni baie siek geword het.

Dirk was die derde geslag Loots op Zwemkuil, na sy pa en sy oupa. Sy pa en ma (Jannie en Aletta, gebore Van Zijl) het op Zwemkuil gewoon totdat Dirk se pa ‘n politikus geword het. Dirk en Anni se oudste seun, Jurie, boer nou op die plaas.

Jannie Loots was onder meer parlementslid vir Queenstown (tans Komani), minister van Beplanning met verantwoordelikheid vir metrisasie en speaker van die Parlement. Dit het baie verhuising tussen Queenstown, Kaapstad, Pretoria en Zwemkuil tot gevolg gehad en Dirk was vanaf sub A tot standerd 5 net vir ses maande aaneenlopend in enige skool. Die vyf jaar in PRG, waar sy broer Van Zijl (1970) ook in die koshuis was, was dus vir Dirk ‘n tydperk van stabiliteit. 

Dirk was passievol oor versamelbare oudhede en veral ou karre. Hy was altyd lus vir die lewe, reg vir ‘n grappie, vir goeie geselskap en vir reis. Ek kan baie van sy goeie kwaliteite opnoem, maar ek het nog nooit iemand ontmoet wat skaaptjops so goed as Dirk kon braai nie. Sy beskuit was ook baie lekker, maar die skaaptjops was tops.

Enkele jare gelede het Dirk vir hom en Anni ‘n nuwe huis op Zwemkuil teen die Oranjerivier gebou en dit Hooggenoeg genoem. Die naam is simbolies van Dirk se lewe. Hy het die hoogste pieke aangedurf en het bo uitgekom. Een van die hoogste pieke wat Dirk bereik het, wat die top van Kilimanjaro.   

Na Anni oorlede is, het Dirk lank in Pretoria kom kuier. Ons twee het elke museum besoek wat ons kon kry en ook oor die lewe gefilosofeer.

Vroeg in 2023 was Dirk weer in Pretoria voor ‘n besoek aan die VSA. Hy het met groot opgewondenheid vertel dat hy op 6 Januarie 2023 vir Elmarie Deetlefs op Strandfontein ontmoet het. Ons vriend was duidelik verlief en op 6 Januarie 2024 was ek en my vrou onder die gaste by die groot bruilof op Strandfontein.

Ongelukkig is die gevreesde “Prieska-siekte” (asbestose) kort daarna by Dirk gediagnoseer. Elmarie was getrou aan Dirk se sy in hierdie moeilike tyd en het hom selfs gehelp om steeds te reis. Ten spyte van Dirk en Elmarie se positiewe uitkyk in moelike tye, is ons vriend op 6 Januarie 2026, op sy tweede huweliksherdenking, oorlede.

Ons sal sy humour en sy glimlag onthou.

Dirk Loots se profiel:

https://prg1973.co.za/dirk-loots/