Categories
Profiele

Dirk Loots

Dis vir my ‘n voorreg om te kon deel uitmaak van die geskiedenis van ‘n besonderse skool.

My lewe het ‘n paar standvastighede gehad: die feit dat ek van my geboorte tot en met die hede dieselfde adres kon hê, naamlik  die plaas Zwemkuil in die Prieska-distrik, my huwelik van 41 jaar met my oorlede vrou, Anni, wat ek op Maties ontmoet het en saam met wie ek ons vier kinders kon grootmaak; en laastens, maar nie die minste nie, my vyf jaar in Paul Roos.

Waarom noem ek dit? Ek was van sub A tot standerd vyf net vir ses maande aaneenlopend in enige skool. Ek het nie een jaar van Januarie tot Desember dieselfde skool bygewoon nie, en daarom was my tyd in PRG vir my ‘n fees, al het ek my ouers verskriklik gemis. Op laerskool moes ek Juliemaande die volgende skool se leerplan deurgaan en probeer inhaal dit wat nie by die vorige skool behandel is nie.

Net ‘n kant-aantekening oor my huwelik. Ons het vier kinders binne vyf jaar gehad. Mense het ons gespot en gesê dis omdat ons nie ‘n ander tydverdryf gehad het nie, maar die eintlike “rede” was dat ons moes skoolkar ry vir 17 jaar en as ‘n mens 70 km (een rigting) skool toe moet ry, moet jy maar sorg dat die kar vol kinders is.

My vrou het die Camino in Frankryk saam met ‘n vriendin gaan stap en dit so geniet dat ek en sy dit daarna nog vier maal gaan stap het, elke keer darem ‘n ander roete.

Vir my was my tyd in PRG onlosmaaklik verweef met my verblyf in Secunda, later Prima. My broer Van Zijl Loots was ‘n goeie atleet, eerstespan rugbyspeler, ens, ens. Hy was bv in standerds 9 en 10 lid van die koshuisprefekte en in matriek was hy op die leerlingraad. Daarom het sy vriende my tot my ontsteltenis klein Vannie genoem. Ek was eintlik maar ‘n tipe sluiper en was nie op die leerlingraad nie, maar darem koshuisprefek. Ek het ook vir onder 19 D en E rugby gespeel. In die beginjare het Sparks my “Tortoise” genoem en het ek  in die skrum gespeel. Later het ek darem vinniger geword en as vleuel geëindig. In standerd ses was Jannie Rossouw een van my beste maats, maar ‘n jaar later moes hy na sy grootouers in Pretoria verhuis met die afsterwe van sy ouers. Ek moet hom krediet gee vir die feit dat hy van toe af tot vandag gesorg het dat ons kontak behou en vriende kon bly.

Reinhardt Otto-hulle se plaas was so twee plase weg van ons Kalahariplaas. Ek het hom dus geken en ons was ook vriende. Hy het my geleer hoe ‘n mens sakgeld kan verdien, hy het vir ons radio’s gebou uit niks en hy het 50cc-motorfietse opgekoop, herstel en weer verkoop.

Hoe meer ek die whatsapp-boodskappe op die reünie-groep lees, hoe meer besef ek hoe min ek van my mede-Primate/-Secundane geweet het.  Ek was van standerd 6 in Secunda en daarna, met die naamsverandering, was ek skielik in Prima! Toe Deon (is dit die Gideon Landman wat ek geken het?) in Prima intrek, het ek en hy op af-middae by sy Ouma daar naby Bloemhof gaan pasteitjies eet, nou moet ek op whatsapp lees dat hy ook ‘n ander kant gehad het waarvan ek nie geweet het en waarvan ek nie deel was nie. Ek’s BAIE beïndruk met wat ek lees oor hul stoutigheid.!

Aubrey Baker, Piet van de Vyver, Lappies Labuschagne en Harry Erasmus was van my kamermaats. Toe ons in die kamer net bokant die hoofingang gewoon het, het ons van tyd tot tyd, wanneer hulle die kamers geïnspekteer het om te kyk of daar nie kos in die kaste weggesteek word nie, ons proviand in die balkonnetjie net bokant die deur versteek. Jy moes deur die venster hang na buite om die goed daar te kan inpak, maar dit het gewerk. Ons het ook ‘n onwettige indompelaar gehad waarmee ons water gekook het om die koppies FRISCO te kan maak.

Die beleef van die Tulbagh-aardbewing terwyl ons in die studiesaal sit, was ‘n onvergeetlike gebeurtenis. Alles het ge-‘rattle’ en ons het uitgestorm, totaal oorbluf. Die vrugte-steel by die proefplaas met dikwels die daarmee gepaardgaande pak slae deur Okkie van Wyk, Andre Scheltema, “Shortie” de Vries om maar net ‘n paar te noem, as ons gevang sou word. Dit was eintlik net George Dock wat ons nie halfpad ‘dood’ probeer slaan het met die rottang nie. Met hom as afrigter, het ek nogal ‘n bietjie hokkie ook probeer speel. Mnr Scheltema het meer as een Renault gehad en Okkie van Wyk ‘n Peugeot 404. Braam Joubert-hulle het weer ‘n Citroën (‘n stasiewa, en ook ‘n Messersmidt, volgens Jannie Rossouw) gehad waarmee sy broer Pippin eendag gegly het in die reën toe die kar ge-‘aquaplane’ het. Daarom dat ek  ook lewenslank ‘n affiniteit vir hierdie fabrikate behou het.

Kort na sy aankoms by PRG was Sparks ons klasonderwyser, en ek was hoogs beïndruk daarmee dat hy aan die begin van die jaar ‘n handstand gedoen het op die stoel voor in die klas terwyl hy ‘n langbroek en sportbaadjie aangehad het.  Sy realistiese beskrywing met die nodige byklanke oor die hond wat voor sy Vauxhall Viva ingehol het, het ons lekker laat lag. Ongelukkig was daar  ook  na my mening ‘n skadukant in sy mondering en het hy soms onvanpas opgetree teenoor vroue.

Mnr Muntz, die Duits-onderwyser met sy swart 500cc BMW-motorfiets en lang baard het ook ‘n groot invloed op my gehad: tot vandag toe is daar vir my net een fabrikaat motorfiets, ‘n BMW met die Boxer-enjins.

Randall Wicomb was ‘n briljante onderwyser. Hy het vir ons Biologie gegee en by ons ‘n liefde daarvoor gekweek.  Ek onthou my eerste dag in sy klas. Hy het ons beveel om die banke te skuif sodat dit ‘n sirkel om die tafel vorm. Die tafel het hy in die middel van die klas gesit, daar (seker) ‘n gat geboor en sy hout ‘pointer’ daarin laat staan. Hy het ons gevra om plakkate en ander prente te bring sodat ons die borde reg rondom daarmee kon toeplak. Van sy briljante sangtalent hoef ek nie eens te praat nie. Hy het die sang in die saal ‘n belewenis gemaak.

Van jongs af wou ek in my pa se voetspore volg en regte gaan swot. Daarom het ek in Juffrou Fick se  Latynklas beland saam met Jean Questeau, John Donald, Jan van Rooyen, en die ander kan ek nie meer onthou nie Sy het ‘n besonderse kort rokkie gedra. Wanneer ons nie in stilte kon selfstudie doen in haar klas of die werk wat sy gegee het, in stilte kon afhandel nie, het syons, as straf, onder haar tafel laat sit, met die bene en die kort rokkie saam met jou hormone in ‘n baie beperkte ruimte. Indien jy dit sou waag om nie tjoepstil te sit terwyl jy jou straf uitdien nie, het sy jou met ‘n briefie na die hoof se kantoor gestuur. Dit was direk langs haar klas en hy het dan die nodige lyfstraf toegedien.

Daarna het mnr Potgieter by haar oorgeneem as Latyn-onderwyser. Sy klas was verder weg van die hoof se kantoor. Hy het ‘n baie dik bril gedra, eintlik maar net twee vergrootglase op sy oë. ‘n Kind is maar wreed. Hy het aan ons spesifieke plekke in die klas toegewys en toe gememoriseer waar elkeen van ons vyf leerlinge sit. Dit was seker nie te moeilik nie. Dan het ons op kritieke tye plekke geruil, die twee met ligte hare (Ek en Jean) ruil byvoorbeeld of twee met donker hare en dan wil ons  ons vrek lag omdat hy dit nie kan sien nie. Jare later loop ek sy seun Sakkie op Carnarvon raak, waar hy predikant is by die VGK, en voel tog skuldig oor hoe ons met sy pa aangegaan het.

Ons leuse, Semper Splendidior, het my lewenslank inspireer.

Mooi loop

Dirk Loots 15 Maart 1956 – 6 Januarie 2026

Huldeblyk: https://prg1973.co.za/dirk-loots-2/