PAUL ROOS SE ANDER ” SPRINGBOK”
Noem die naam Julian Theron en die onmiddellike reaksie van jagters en wildboere, wyer as net in Suid-Afrika, is “o, dis die ou wat rekordpryse vir sy Springbokke kry en ook al wildteler van die jaar was”.
Dis die einste, beskeie, vyfde geslag Karooseun van Wonderboom tussen Richmond en De Aar (in die middel van die Karoo soos hy altyd sê) wat tereg Paul Roos Gimnasium (PRG) se waardige “Meneer Springbok” genoem kan word. Julian is die derde van vier seuns van Izak en Judy (néé Hobson) Theron wie se voorsate bekendheid verwerf het vir die suksesvolle Merinoboerdery wat op Wonderboom gevestig is.
Vandag boer hy en sy seuns, Izak en Jozua, steeds met Merino’s, maar het Julian se liefde vir wild en spesifiek Springbokke, hom en Martisan, sy vrou, die wildbedryf laat uitbrei en Jules of the Karoo laat vestig met ‘n pragtige lodge en chalets, wat jaarliks die wenslysbestemming van buitelandse trofeejagters en uitgesoekte korporatiewe groepe is.
Julian het van jongs af ‘n matelose liefde vir die plaas en diere getoon. Hy’t sy skoolloopbaan by die Convent in De Aar onder die wakende oog van Sister Ellerica begin en is op 10-jarige ouderdom na die Western Province Preparatory School. As gevolg van sy disleksie is hy verwys na prof. (oom) Koos Smit en so het hy in graad 5 paaie met PRG gekruis.
Terugskouend was dit ‘n keerpunt in sy lewe! Ver van die huis moes hy egter verstaanbaar vele moeilikhede oorkom. Hy het op skool uitgeblink in rugby en atletiek en baie van wie en wat hy vandag is, is aan sy alma mater te danke. Na skool en sy Weermagopleiding is hy na die Grootfontein Landboukollege, waar hy as Dux-student (praktiese werk) aangewys is en ‘n staatmaker vir die rugbyspan was.
Sedert hy voltyds gaan boer het, was sy passie die teling van Merino’s en Springbokke. Hy het met noukeurige studie en seleksie top genetiese teelresultate bemeester wat hom wêreldrekords vir springbokkategorieë volgens SCI en Roland Ward maatstawwe laat behaal het.
Hy’s op sy gelukkigste in die veld met ‘n verkyker, ken wild (hulle boer met verskeie spesies) en hulle gedrag en sy oë blink as hy sy kennis op ‘n beskeie wyse deel met almal, selfs kinders, wat aan sy lippe hang.
Julian is getroud met Martisan, ‘n onderwyseres, en hulle het drie kinders, Izak, Jozua en Lize-Mari en vyf pragtige kleinkinders wat die Theron tradisie voortsit. Voorwaar ‘n trotse, op die aarde, Paul Roos Springbok!
Kyk ook by In die Nuus: Jules van die Karoo. https://prg1973.co.za/jules-van-karoo/


