Categories
Profiele

Harry Erasmus

As ‘n jong Suidwester het ek en my ouers in Junie 1969 gaan skool soek. Die keuse was tussen Paarl Boys High en Paul Roos Gimnasium. Gelukkig het ek plek gekry in Paul Roos. My Pa wou hê dat ek in Engels my opvoeding moes kry, want dit sou kwansuis in die langtermyn tot my voordeel wees as ek vlot kon Engels praat. Ek is toegelaat in Secunda en Phillip Louw was die man wat sy kamer met my moes deel. Mnr McFarlane was toe koshuisvader en mnr Okkie van Wyk het later by hom oorgeneem.

Ek het vinnig aangepas en gou in PRG en die koshuis tuis gevoel. Mede-koshuisbrakke wat ek nou so vinnig kan onthou, was onder andere Dirk Loots (later kamermaat), Piet van de Vyver, Sampie Loots, Barry Pienaar, Allan Penny, Pof Louw, Vito Bonafedo, Aubrey Baker en Pierre Le Clus . 

Touch rugby op die groot grasperk was amper elke middag gespeel. Gans Coetzee, Lieb Loots (ook later in matriek my kamermaat; matrieks moes ‘n kamer deel met ‘n standard 9 ou)), Agie Koch, George Rautenbach en Tielman Roos was die jaar net na ons en het altyd saam gespeel.

Vakansietye moes ek met die trein na Suidwes ry en terug. Dit was vir ons baie lekker aangesien ons altyd ‘n dag of twee vroeër moes vertrek om die trein te haal. Aldert Nieuwoudt het saamgery want sy ouers het toe ook in Suidwes gebly. Ek onthou goed hoe ons van die koshuis af tot by die Stellenboschstasie geloop en ons tasse gedra het. Was te arm vir ‘n taxi!

Daar was ‘n paar Bloemhof girls en ook van La Rochelle en Paarl Girls High op die trein. Dit was amper die lekkerste deel van die vakansie om saam met almal op die trein te kuier.

In die koshuis het ons dikwels deurgeloop onder die rottangs van Shorty de Vries, André Scheltema en soms Okkie van Wyk. Ek dink Shorty het dit die meeste geniet om ons te looi!

In 1973 was daar ‘n groot poging om geld vir Paul Roos se swembad in te samel. David Broughton, Pieter van Zyl, Kenny Spannenberg en ek van die 10E-klas het besluit dat ons die wêreldrekord gaan aandurf om die langste aanmekaar tennis te speel. Ons het ‘n nuwe rekord van 36 uur op Maties se tennisbane opgestel. Al het dit nie lank gestaan nie, het ons ‘n mooi bedrag geld ingesamel vir elke uur wat ons gespeel het. Die swembad is later gebou. Ons het net nooit daarin geswem nie.

Aangesien my ouers in Suidwes was, moes ek altyd soek na ‘n maat by wie ek ‘n uitnaweek kon spandeer. ‘n Paar naweke is saam met Vito Bonafedo en sy mooi susters by sy ouers in Somerset-Wes deurgebring. Ook by Sampie Loots en sy ma, wat koshuismoeder by Heemstede was. Ek het ook ‘n naweek of twee by Richard Murray en Johan Bouwer gaan kuier. Dit was baie lekker om weg te kom en ek het dit verskriklik waardeer.

Daar was ‘n paar naweke dat ons – ek, Aldert Niewoudt, Piet van de Vyver en Sampie Loots – Strand of Hermanus toe geryloop het en dan iewers daar slaapplek gevra het. Pietie Carinus-hulle het in Hermanus ‘n huis gehad en ‘n keer of twee uitgehelp. Een keer het ons sommer in die bos by Hermanus se strand geslaap. Goeie ou tye!

Na skool het ek in 1974 weermagopleiding as infanteris by 8 SAI op Upington gedoen en is later na 2 SAI op Walvisbaai uiteplaas. Die laaste 4 maande het ek grensdiens by Bwabwata in die Caprivi gedoen. 

In 1975 begin ek my studies op Stellenbosch. Na B.Com/B.Rek, doen ek Hons B.Comt deur Unisa, en terselfdertyd my klerkskap by die rekenmeesters- en ouditeursfirma Brink Roos Du Toit (later PWC) in Bellville.

Ek is getroud met ‘n matriekskoolkys, Alta Malherbe (Bloemhof, 1974) en Is baie geseënd om vandag nog net so erg oor haar te wees soos toe. Ons het drie kinders, twee dogters en ‘n seun, wat ook almal getroud en gelukkig is, met vyf kleinkinders (die 6de een word binnekort gebore).

Gedurende 1982 kry ek die kans om na Suidwes toe terug te keer en sluit aan by ‘n maatskappy waarin ons as bestuur ‘n “Management Buy Out” doen. Ek was betrokke by die stigting van Plastic Packaging en het die maatskappy gedryf en gelei tot met my aftrede en het nog steeds ‘n belang daarin. 

Ek en Alta het gedurende 1992 ‘n plaas naby Dordabis gekoop en boer sedert 2011 voltyds met Bonsmara-beeste. Om voltyds te boer was nog altyd ‘n droom.

Ons reis en kamp graag en het al onder meer Botswana, Zimbabwe, Zambië, Tanzanië, Malawi, Angola en Mosambiek platgery. Ek praat nie eers van SA en Namibië nie. Kon darem Amerika, Europa, Engeland, Noorweë asook Hong Kong besoek. Ons het al ‘n paar staproetes aangepak waarvan die Visrivier die eerste een was! Nogals nie van die maklikstes nie!

Ons is nou in ‘n fase waar ons dit baie geniet om tyd met ons kinders en kleinkinders te spandeer en ons is bevoorreg dat die meeste van hulle in Windhoek bly. Die jongste een is tans op Stellenbosch en dis baie lekker om daar te kuier en dan so bietjie “down memory lane” te gaan. Die Windhoek-kinders en kleinkinders kom gereeld plaas toe en dis ‘n voorreg om hulle te leer perdry, skiet, beeste aan te jaag, in die veld te stap en aan die natuur bekend te stel. Ons geniet dit om met vriende te kuier en jaag nie meer deur die lewe nie. 

Naas die belangrikheid van verantwoordelikheid vat vir dit waarmee ons geseënd en toevertrou is, ons kinders en hul families, is gesondheid ook vir ons ‘n prioriteit. Die afgelope 2-3 jaar met 3 operasies en Covid agter die rug besef ek elke dag wat ‘n voorreg dit is om te kan leef en gesond te kan wees.

As enige van my skool- of universiteitsvriende ooit in Namibië kom, is hulle baie welkom om ons op te soek. Ons het altyd ‘n slaapplek beskikbaar.