Categories
Profiele

Jannie Hanekom

Nadat ek by Laerskool Vredelust in Bellville was, is ek na PRG vir my hoërskooljare.

Dit is moeilik om gunsteling onderwysers uit te sonder, maar miskien sou ek sê Rustelle Taute (klavier) en Ters van Huyssteen (Duits) het ‘n blywende indruk op my gelaat.

Ek het grootgeword op die kleinhoewe Woerden buite Kraaifontein, net af van die Bottelarypad, en het met die Bottelarybus skool toe gery. Vir diensplig is ek opgeroep na Leërgimnasium, Heidelberg, en na ‘n paar weke oorgeplaas na Lugmaggimnasium by Valhalla, Pretoria. Ten spyte van al hierdie gimnasiums, was ek nooit ‘n gimnasium-besoeker met die oog op oefening nie!

Na ‘n paar draaie het ek in Aptekerswese gestudeer en was so gelukkig om op soek na Saterdagoggend- en vakansiewerk, by Joernings Apteek op Stellenbosch ‘n intern-pos te kry en het so 20 maande later daar ingeval. Daar het ek nie net baie klasmaats se ouers as kliënte ontmoet nie, maar ook van ons onderwysers as kliënte gehad, onder andere Chief de Villiers, mnr van Huyssteen, juffrou Annie du Toit (tant Fith), mnr Os Loedolff – en ek kon nie glo dat werk so lekker is nie. Later het ek drie jaar lank in die Bellville-area gewerk, toe weer terug na Joernings, tot hy einde 2009 toegemaak het.

Die laaste tien jaar en ses maande het ek by T. C. Newman (tevore Paarl-Oos Hospitaal) gewerk, tot ek einde Februarie 2021 op 65 moes aftree uit die staatsdiens. Tans bly ek besig met tennis, stap, rondry en kuier by familie en vriende en ek woon steeds op Stellenbosch.

Hoogtepunte in my lewe was onder meer die uitvoering in Teatro Colón in Buenos Aires, Argentinië, orreluitvoerings in die St Matthiaskerk in Boedapest en in die St Nicolaskerk in Praag.

My lewe se oppe en affe het my dankbaarheid geleer vir die kleinste dingetjies, ook vir my skool, werk, gesondheid ensomeer en om nie mense te oordeel vir enigiets nie (sukkel wel soms hiermee). Ek probeer mense behandel soos ek graag behandel sou word.

Ek bly vol hoop vir ons mooi land, só baie buitelanders het al vir my gesê ons is baie bevoorreg om hier te woon.

Beste groete.