Categories
Huldeblyke

Johan Bouwer

28 Mei 1955 – 29 September 2024

Video van broer, Cronje:

Huldeblyk oor Johan Bouwer deur Klasmaats olv  Riaan Swiegers

Jolanda, Cronje, Lötter, Rohan en familie,

Baie dankie vir die rol wat julle as die ankers in Johan Bouwer se lewe gespeel het… sterk ankers teen stormwinde en ook in die sonskyndae. Oor die laaste 18 maande van Johan het ons almal saam met hom sy laaste aardse pylvak aangedurf.

Hy het geveg soos wat hy altyd kon. Maar, soos een van ons skoolvriende die anderdag sê: “Daar kom ‘n tyd wanneer jy eintlik weet dis verby. En dan is dit dié wat agterbly wat swaarkry.”  Ons glo ons verstaan waardeur julle gegaan het en steeds sal beleef in die dae, weke, maande en  jare van verlange na jul Johan, ‘n man, broer, vader en oupa.

Ons skryf die briefie ook namens die Oumense van De Aar van die 50’s en 60’s, wat nie meer hier is nie maar tog diep in al die harte en gedagtes lê, en ons vriende uit De Aar en Stellenbosch, Stellenbosch se ouer garde van die 60’s en 70’s, en die beste maats sedert die 50’s.

Johan was ‘n ongelooflike mens en ons hoef nie al sy wonderlike eienskappe hier te herhaal nie, en ook nie die meer interessante dinge wat altyd rondom hom gekristalliseer het nie; julle ken hom oneindig maal beter as wat ons hom geken het.

Ons glo ook dat die meeste mense sal saamstem dat Johan se lewe baie vol was. Dit sal moeilik wees om geregtigheid te laat geskied deur mense op te noem wat as sy beste vriende beskou kan word. Tyd is daar nie. Johan se kuns was om beste vriende op sy pad deur die lewe bymekaar te maak en hulle almal te laat glo hulle is spesiaal.

Alles in die oortreffende trap aangepak. Besig. Wanneer hy raad gevra het, was hy vuur en vlam om dit uit te voer, ongeag of hy dit as waardevol al dan nie, beskou het. Johan het werklik al sy beste vriende laat goed voel. Almal.

Baie vriende het die afgelope paar weke gevoel hulle moet iets uit die verlede met Johan deel maar het nooit daarby uitgekom nie. Ons eie lewens is net te deurmekaar. Ons wou almal sê: “Johan, jy is waarlik ‘n held uit ons geledere”. Sodat jy dit kan weet. Ons het almal jou lewenslus, lewensvreugde, energie, positiewe – ‘it can be done’ – en – ‘let’s do it’- bewonder, jou uitsonderlike sin vir avontuur, jou vriendelikheid en humor, daardie lag, daardie afslaerskuns. Die middelpunt van die paartie. Jou lag was altyd gereed vir enige geleentheid, in deernis, vreugde, humor en ook in medelye met jouself.  Jy was ‘duidelik’ vir almal wat ooit jou pad gekruis het. Dankie vir die before tears party in Somerset Wes. Soos jy was, so het jy gegaan …

Daar is baie stories wat ons persoonlik saam met Johan beleef het, en daar is baie waarvan ons gehoor het. Tussen alles staan stories oor die see, Kreeftebaai en die Weskus uit. Daar waar jy een van jou beste vriende genooi het om soveel kreef te eet as wat hy kon, net om later in sy oor te fluister:  “…, jy kan nou maar stadiger, die kreef raak op”. Hoe later hoe kwater!

Ons onthou die Bouwer-gesin as super-vriendelik; Oom Jannie se glimlag wat ook op die kinders se gesigte vasgevang is,Tannie Una wat ‘n hond uit ‘n bos kon gesels… altyd gasvry en vriendelik.

Soos Johan, is ons almal wie ons is. Ons was bevoorreg om die Bouwers so goed te ken met Johan as ons beste pêl. Werklik ‘n unieke  uitsonderlike mens om te ken. Soos hy ons lewens verryk het, dink ons aan die ongelooflike verlies vir die wat saam met hom kon leef. Maar, nou is hy verby. Jul verlies is ons s’n. Ons deel jul smart en pyn, maar ook die genade van verlossing dat hy nou rustig kan wees na die laaste pylvak in die aardse resies tot by die goue lint.

Ter afsluiting, Johan sou gesê het: – “Sterkte en seën, saam met Hom is jy nooit alleen”.

Mooi loop Ou Maat, gemaak van yster en plaat!

Johan Bouwer se profiel: