Categories
Profiele

Johan Cillie (Gaika)

Ek op ouderdom 5 skool toe gestuur, na Bloemhof  waar Juffrou Helen my graad een- onderwyser was. Sy was ver langs familie en ek het nie te goed gevaar in graad een nie. Vandag glo ek dat ek nog nie skoolgereed was nie. Ek moes baie in die klas voor in die hoek staan met kleiborde bo my kop. My werk was altyd laaste klaar omdat ek te veel gepraat en gejol het. 

Dit het aangehou totdat Juffrou Helen my langs Martie Mostert (Frans Mostert se tweelingsuster) in die klas gesit het. Sy het pikswart hare gehad en was flink in die klas, ‘n regte klaskaptein. Van daai dag is ek voor in die koor klaar. Interessant maak ek nooit weer kontak met Martie nie tot in matriek toe ons en saam met Bloemhof ‘n tiekieaand hou en sy ‘n worsrolstalletjie beman het. Ek herken haar en vra of sy my onthou. Sy antwoord dadelik ja, ek het langs haar in graad een gesit. 

Ek onthou nog my ma se reaksie toe ek eendag huiswerk huis toe bring. “Gaan sê jy nou vir Juffrou Helen, as sy weer huiswerk vir my huistoe stuur sal ek (my ma) die hel in wees.” het die boodskap net so oorgedra.

Daar was weekliks nael- en sakdoek inspeksies gedoen. Ek het natuurlik gereeld my sakdoek vergeet. Dan het ek Martie se sakdoek gevat, die een punt by my inkgaatjie laat uitsteek en een by haar inkgaatjie. En siedaar albei “wettig”!

Na Sub B (graad 2) gaan ek na LPR (Laerskool Paul Roos) vir std 1 tot std 5. Hier besef ek dat daar sekere handelinge van my verwag word waarin ek geen belang of aanleg voor het nie. Dit sluit in blokfluit, resitasies en sang. Ek het altyd uitgesien na die standerd waar ons nie meer dit hoef te doen. Ek onthou vandag nog dat einde std 3 daar geen meer blokfluit was nie en in std 5 geen meer resitasies.  Ek dink die sang het in std 4 opgehou. 

In std 3 is daar ‘n sanggroep gevorm. Almal in die klas is natuurlik in die koor behalwe ek en George, ek wonder hoekom? Ons het in elk geval meer belang gestel in houtwerk as ‘n vak in std 5. Ek begin op tienjarige ouderdom in std 4 rugby te speel, om een of ander rede later in die seisoen en speel slot vir die H-span. Na die eerste week word ek opgeskuif na die C en D spanne waar ek na die eerste wedstryd vorder na die C span slot. Die laaste wedstryd van die seisoen speel ek vir die A span en ek voel ek het groot toekoms in die spel.

‘n Interessante storie oor die blokfluit is dat ek geen idée gehad het van note en ritme nie. Ek het twee note geken A en C en hulle net geblaas as ons by hulle kom. Gelukkig altyd in die groep. Ek het natuurlik gevrees vir die tye waar ons solo moes blaas. Dan “vergeet” ek my blokfluit. Indien jy dit dan die tweede keer vergeet gaan jy na die hoof se kantoor. Ek het dan net die onderste deel van my blokfluit gebring en my verskoning was dat my sussie (Anita) die boonste deel uitgetrek het (dit het uitgesteek uit my tas) om op te blaas en sodoende het dit tuis gebly. Problem solved!!

In std 5 word ek op verrassende wyse gekies as die 0nder 12A rugbyspan se kaptein, bo die afrigter. mnr Burger (Argie – afkorting vir Argus soos in Cape Argus ☺) se keuse, Danie van Niekerk. My ouboet word as onderkaptein van Paul Roos se onder 19A span gekies en maak ‘n groot bohaai daarvan. Ek kondig eers my kapteinskap aan net voor die eerste wedstryd. Ma Emcy baie chuffed, ek was haar Cherry.

Std 6 hou baie voordele in: baie bly dat blokfluit, resitasies, sang en kore nou vrywillig is, en houtwerk nou ‘n vak met een periode per dag is! Ek word ‘n Voortrekker in std 4 en as ‘n Verkenner raak dit lekker om Vrydagaande na die Laer te gaan en terug te ry na Loci. Ongeweer 7 km.

Ek kry egter in std 6 geelsug en geen rugby vir daai jaar. Dit was nie te sleg nie, aangesien ons O/13  by die laerskool moes gaan oefen het. Die siekte het my nogal hard getref en lank geneem om weer sterk te word. In std 8 is my  houtwerkprojek die maak van ‘n lessenaar. Sit vandag nog by hom en werk. Baie trots op die lessenaar, maar kan nie wag vir std 9 want dan kan ons metaalwerk neem as ‘n vak! 

My skoolwerk is nie te wonderlik as gemeet aan vandag se standaarde nie. Ek is wel ‘n bandopnemer belowe as ek meer as 80% in std 5 kry in die finale eksamen. Nou dit werk so, na elke vraestel kry jy jou punte en met nog net een vak Gesondheidsleer kort ek nog 13 punte uit 20 om my 80% te kry. A walk in the park aangesien Gesondheidsleer ‘n maklike vakkie is en my punte gewoonlik 18 of 19 uit 20 is. Ek besluit dat leer nie nodig is nie en gaan geniet myself op Loci. Die volgende dag is die vraestel ‘n riller en ek kry 12.5 uit 20. Gelukkig op die groot totaal word die half ‘n hele punt en my gemiddeld is 80% en die bandopnemer is myne. Pa Sybrand se kommentaar was “ook maar net”.

Die bandopnemer het vir ure se pret gesorg.  Een verhaal is ‘n budgie wat ons wou leer praat, toe maak ons ‘n “loop” van die band sodat dit wat op die band is heeltyd herhaal word.  “Hello Polly” word opgeneem en dit speel heeldag as ons by die skool is. Wat ons nie in ag geneem het nie, is die geluid wat die band oor die las maak. Na Polly se tweede les toe sê sy GRRR.

Op hoërskool gaan my bestaan oor rugby en metaalwerk. Na die geelsug kom my rugby eers weer op koers in die onder 16A span as nommer 7 flank. Ek speel van my beste wedstryde daar. In metaalwerk  gaan ek pouses werk aan my projekte en smiddae voor rugby ook. My projekte is almal klaar teen April en toe kan ek my eie goed maak, heerlik en daar maak ek ‘n stuurwiel en ‘n windmeter en tekeninge is ook vir my lekker. Ek hoop op ‘n A-simbool vir metaalwerk, maar mis dit met paar punte.

In std 9 begin ek dink dat ek dalk die leerlingraad kan haal maar met min dinge soos debat, sang en sulke goed wonder ek tog. Ek is self redelik verbaas toe ek as leerlingraadslid gekies word. Ek begin dink dat alles wat ek wil hê kry ek. Die Here is goed. 

In Std 8 vang my oog ‘n meisie, Mareli van Huysteen. Ek wil haar nooi vir die interskole in std 8 maar skraap my moed te laat bymekaar en sy gaan met Nico Marais. Ek en Mareli raak in ‘n verhouding daarna tot in matriek.

In my matriekjaar as leerlingraadslid moet ek die beste liedjie wat geskryf is beoordeel omdat my oom prof GG (Gawie) Cillié is. Ek weet natuurlik NIKS van musiek, maar die leerlingraad wys die finale drie songs aan wat die beste deur die ouens gesing word by die sing songs. Ek spring op my Solex gewapen met die drie songs na oom Gawie in my sak. In Minseriestraat aangekom kyk oom Gawie na die liedjies en wil weet hoe die melodie gaan. Oooo wee ek weet kol-kol maar eerder fokol van die melodiee af en hy is ook maar minder bekend met die nuwerwetse musiek. Tussen ons het ons darem by n wenner uitgekom en daar was geen reperkussies oor ons keuse nie. (Niemand stry met prof Gawie nie). As leerlingraadslid was my oggendtaak om te kyk wie laat is by die klein hekkie aan Dalsigkant. As ‘n reël was ekself gereeld laat en nogal ‘n showdown hoe ouens my gejaag het om net voor my by die hek te wees, want na my is daar moeilikheid.

Die matriekjaar was vir my baie lekker maar daar was laagtepunte ook: ek moes my beste vriend (Phillip Botha) begrawe en as een van die draers. As leerlingraadslid moes ons die verassing van een van die skoliere bywoon, dit was “hectic” soos vandag se kinders sal sê. Ek het ook ‘n ligte senuwee-ineenstorting gehad na die lewensredding wat ek die vakansie gedoen het. Het nie geweet van sulke goed nie, eers jare later besef.

Na matriek gaan ek Kaapse Tegnikon toe, George Bezuidenhout en Reinard Otto ook, en doen my eerste jaar daar. Vir prakties sluit ek by Evkom aan as leerlingtegnikus en voltooi my studies by Pretoria Tegnikon. Terwyl ek vir Evkom werk speel ek rugby vir Grootvlei en word een aand teen Springs uit die poel uit geduik en na twee maande geopereer vir n lumbale diskusletsel. My rugbyloopbaan word tegnies beeindig, hoewel ek weer en weer probeer het. 

Ek ontmoet my trouvrou, Sonja van Kasterop (‘n SA hoogspringkampioen), en op een van ons eerste dates, ‘n ski-uitstappie op Hartebeesfonteindam, beland ek tussen die motorboot se skroewe. Weermagopleiding volg by Tegniese Dienskorps en een jaar verander na twee met veertig dae oor.

Drie dae na my weermagopleiding trou ek en Sonja en vestig op Kriel kragstasie waar ek die instandhouding van dié 3 000 Megawatt kragstasie behartig. Groot ondervinding. Gaan werk in 1981 werk vir Airtech Davidson, n maatskappy wat waaiers en lugverwarmers vervaardig. Begin in 1986 my eie besigheid (Motorama onderdele) in Pietersburg tot in 1999. Trek terug Kaap toe en vestig in Somerset-Wes waar ek tans motors aanpas vir gestremde mense.

Ek en Sonja het drie kinders, die oudste (‘n dogter) is netbalorganiseerder by Girls High in die Paarl, die tweede (‘n seun) is ‘n siviele ingenieur en bly ook in Somerset-Wes en die jongste (weer ‘n dogter) is ‘n voedselwetenskaplike by Shoprite Checkers. Daar is tans 5 kleinkinders: 3 dogters en twee seuns: die bestes van alles.