1974
Radie Loubser onthou
Gedagtes loop nou ver terug – ek was redelik goed bevriend met VISSIE deur ons hoërskooljare. Die ander “lede” in die omgewing van Molteno, Paul Kruger- en Dennesigstraat was my broer Piet, Charlie Marais, die O’Connors, die Craffords, die Vissers, die broers Voges, Johan Bouwer (wat toe nog in Paul Krugerstraat gewoonhet) en Riaan Carstens.
Vissie se pa (Oom Vissie) het AVBOB in Birdstraat reg aan bopunt van Dennsigstraat bestuur. Vissie het twee susters gehad – hy was maar ‘n laatlam – dus redelik bederf! Vissie het weggekom met erge kwajongstreke waaraan ons mildelik meegedoen het.
Daar was redelike wedywering oor wie eerste ‘n langbroek by sy ouers gaan kry – Vissie was natuurlik die eerste in std 7 en al te spoggering en vermaaklik. As ek reg onthou, het hy sy Pa se arm gedraai om een te kry as hy ‘n bokskragmeting sou wen – was nogal rats en bedrewe met die “appels”, en so het hy sy langbroek gekry. “Jong seuns” het eenvoudig nie langbroeke gedra nie – jy het selfs kortbroek kerkpakke gekry!
SPOKE EN GEESTE
Voor AVBOB was ‘n groot akkerboom, waaruit daar veral op Vrydae gereeld klerehangers met wit lakens uit die boom neergedaal het (met die hulp van visstok en katrol) om voetgangers die skrik op die lyf te jaag. Soms is daar met opgestopte dasse die Slang van Eden tot groot ontsteltenis van verbygangers oor die sypaadjie gesleep.
Toe die “slagoffers” later hul roetes verander, moes ons dit een stap verder neem. Ons eie bygeloof het ons per geleentheid ingehaal. So vier van ons was in die “lykskouhuis” waar gestorwenes in staatsie gehou was vir famile vir laaste groet. Terwyl ons daar doenig was, hoor ons “iets of iemand” in aantog. Ons het onmiddelik alle ligte afgeskakel en weggekruip – pikdonker.
Die deur het oopgegaan en ‘n gees in ‘n wit gewaad het verskyn. Vissie het eerste gereageer deur ‘n silwer skinkbord wat in die skoukamer was na die gees te gooi. Die wit gewaad het verskriklik gegil en uitgehardloop. Dit was Vissie se suster, Iris, wat net kom kyk het of alles in orde want hulle het bo in die huis geluide gehoor. Nodeloos om te sê – almal was wit geskrik – gelukkig kon Vissie ons uit die een loslieg
LYKSWA ESKAPADES
AVOB se lykswa was ‘n groot pikswart V8 Lincoln. Aanvanklik het Vissie en ‘n paar van ons net die wa geleen om Trinity-flieks in die Strand te gaan kyk – flieks het eerste daar gewys. Later kry ons die om in woonbuurte rond te ry met ‘n klankversterker sodat ons met die mense kon praat – die doodsengel wou net verneem waar so-of-so bly. Oom Vissie het ons uitgevang en ‘n pynlike strafsessie het gevolg (foeitog – hy was al oud).
BOMME
Op hoërskool het ons bietjie te maak gehad met chemie en geleer om “bomme” te maak. Ek het gereeld saam met wyle Waldo Rust buskruit formules getoets. Saam met Vissie het ons verskillende verhoudings van “Jeyes Fluid en Swembadchloor” getoets. Dit was algemeen beproef deur baie, maar met Vissie is dit natuurlik verder gevoer. By geleentheid is ‘n ou suurknol in die buurt se hele opwipgaragedeur uit sy raam “geblaas” – die SAP soek nou nog die skuldiges.
Daar is nog vele meer staaltjies. Vissie het nie waagmoed en durf gekort nie.
Rus in vrede ou maat