Categories
Huldeblyke

Citto Olwage

Christo (Citto) Olwage

Gebore 16 Maart 1956 te Stellenbosch

Gesterwe 18 September 2021 in Bellville

Na Citto in 1973 aan Paul Roos Gimnasium gematrikuleer het, is hy vir sy dienspligjaar na die Lugmag en was hy onder meer ‘n hondehanteerder by die lugmagbasis Ysterplaat in Kaapstad.

Die jaar daarna begin hy werk by die bekende Stellenbosch Distriksbank, wat later Boland Bank geword het. Soos hy in senioriteit in die bankwese oor twintig gevorder het, bekleer hy poste  op Stellenbosch, Worcester, Somerset Wes en Bellville. 

Citto was altyd jeukerig om op sy eie te gaan en het in die jare negentig met sy eie besproeiingsbesigheid in Welgemoed (Bellville) begin. Dit het gegroei het om ook landskapsdienste in te sluit. Met Secure Landscaping and Irrigation het hy vir hom naam in die Bellville-omgewing gemaak. 

Ons het hom geterg dat hy ‘n “legend in his own lunchtime” was, maar inderwaarheid was hy in die Noordelike voorstede met sy onderneming alombekend! Een van sy jare lange kliënte was die hartchirurg Carl Vogts, PRG hoofseun van 1972.  In 1980 trou hy met ‘n oud-Bloemhoffer, Marianna Theron, en hulle het 2 seuns, Marc en Jacques. Marc bou vandag voort op sy pa se nalatenskap, Secure Irrigation and Landscaping! Met sy afsterwe in 2021 was Citto en Marianna 41 jaar getroud.

Citto se entoesiastiese en energieke persoonlikheid word in dié foto vasgevang! Van links staan hy, sy broer Ollie, Richard Murray (op besoek uit die VSA in die negentigs) en Nollies Heunis. Voor is Richard se seun, Marc, wat vandag al so om en by 40 jaar oud moet wees.