‘n Terugskouing
Pieter van Zyl
Die Aanloop en Agtergrond
Die Paul Roos Gimnasium Klas van 1973 het sedert ons skooldae al ‘n sterk samehorigheidsgevoel gehad, met ‘n kerngroep wat gereeld – in 1993, 1998, 2003, 2013 en 2018 – by wyse van reünies bymekaargekom het. Sedert 2020 het ‘n groep van ons ook ‘n gereelde kwartaallikse staptog iewers in die Boland of Overberg aangepak – tot op hede was daar tien sulke uitstappies gewees.
Dit is dus geen wonder nie dat die vooruitsig van ons 50ste Reünie in 2023 ‘n wekroep tot aksie was vir die beplanning om die Goue Herdenking van ons 1973 Matriekjaar ‘n baie spesiale geleentheid te maak.
Die reëlingskomitee (RK) is byeengebring en beplanning en organisasie het in Junie 2022 met Pieter van Zyl, Nols Heunis, Michael Prins, Riaan Swiegers, Kobus Theron, Frank Meaker, Leon Mostert en Danie van Niekerk afgeskop. Die RK het ten nouste met Elza van der Walt in die OSU Kantoor saamgewerk.
Daar is besluit om ‘n “modulêre” benadering in die opstel van die reünieprogram te volg, Die onderliggende gedagte was dat elke persoon dan self kon besluit watter modules en/of aktiwiteite hy (en sy gade) wil bywoon. Na oorlegpleging met die 1973 manne via Google vraelyste, het die RK op twee modules besluit: ‘n “Sederbergmodule” van 24 tot 27 Februarie 2023 en ‘n “Kernmodule” op Stellenbosch tussen 28 Februarie tot 5 Maart 2023.
Die “Kernmodule” sou die hoofaktiwiteite van die reünieaktiwiteite rondom die skool en sy kuier/onthaalfasiliteite behels. Die “Sederbergmodule” sou uit meer as net ‘n kuier die naweek vooraf by die Sanddrif-vakansieoord op die plaas Dwarsrivier in die Sederberg Wildernisgebied bied.
Die RK het in die laaste kwartaal van 2022 die program van aktiwiteite vir die twee modules gefinaliseer en ‘n blokbespreking is vir akkommodasie by Sanddrif-vakansieoord gemaak. In Januarie en Februarie het die manne flink hulle deposito’s betaal en EFT’s in die OSU bankrekening gedoen om aan die verskillende programaktiwiteite deel te neem..Teen die middel van Februarie het dit al duidelik begin blyk dat ons Reünie 50 iets baie spesiaal gaan wees en dat ou vriendskapsbande weer hernu sou word.
Die Sederberg-Wildernisnaweek
Altesame 20 manne met 10 van hulle se gades het bevestig dat hulle die Sederbergnaweek gaan bywoon. Rondom middagete op Vrydag, 24 Februarie, het die naweekgangers by Sanddrif-vakansieoord begin opdaag, van so vêr as Kentucky VSA (Richard Murray en broer Johann), België (Vito Bonafede), Namibië (Harry Erasmus en Guise Laurie), die Oos-Kaap, Noord-Kaap, Weskus, Boland en Kaapse Skiereiland. Wat ‘n blye geleentheid en hartlike gegroet was dit nie vir almal van ons om weer mekaar te sien nie – vir sommige die eerste keer in 50 jaar!
Die middag het afgeskop met ‘n bierproe by Cederberg Brewery, waar Gerrit Smit (Cederberg Brewery se Sake-ontwikkelingsbestuurder) ons vertel het hoe hulle brouhuis-stokperdjie, wat in 2009 200 liter gebrou het,uitgebou het tot ‘n volskaalse “Craft Beer Revolution” wat nou 10 000 liter produseer. Hul missie is: “From Vioolsdrift to America – Cederberg Brewery is committed to bringing you hand-crafted natural beer made with the purest ingredients”. Met volkseie name soos Boggom Blond Ale, Voertsek India Pale Ale, Cederberg Lager, Cederberg Pale Ale en Chatterbox Weiss, produseer hulle heerlike “Beer with an Attitude”, wat op ‘n warm middag deur die 1973-manne en hul dames geniet is. Die naweek het gewis goed afgeskop.
Die aand is daar heerlike saamgebraai en gekuier op Sanddrif, met as kulinêre hoogtepunt Riaan Swiegers se krummelpap en shebasous. Soos te verwagte, het van die manne tot ounag toe gekuier, met baie “onthou jy nog” stories en lekker saamlag.
Saterdagoggend se program is effens aangepas nadat Vito Bonafede die manne Vrydagaand uitgedaag het om saam die Wolfberg-skeure te gaan uitklim en deurskuur. Avontuurlustiges soos Skip Krige, Ferdie Gerber, Dirk Loots, Danie van Niekerk en Johann Murray het die uitdaging aanvaar en net na dagbreek die staptog aangedurf. Die manne het almal die klim en deurskuur oorleef, maar volgens Ferdie was dit deurgaans ‘n gebedsaak – vasbyters almal van hulle, al was dit vol lyfskrape!
Die res van die groep het in twee verdeel vir veel rustiger uitstappies die oggend: een groep onder leiding van Jannie Hanekom na die Truitjieskraal-staproete langs Kromrivier en die ander groep per motor na die Stadsaalgrotte en Rotskunsterrein. Op albei uitstappies kon ons ons verwonder aan die Sederberg-wildernisgebied se manjefieke sandsteenformasies en uitgestrekte vlaktes. Voorwaar ‘n natuurlike gesig wat altyd aangryplik is.
–
Laatoggend het die Wolfbergskeure-, die Truitjieskraal- en die Stadsaalgrottegroep weer bymekaargekom vir ‘n wynproe by Cederberg Wines. Net 274 ha van die plaas se totale 5 500 ha in die hart van die Sederberg-wildernisgebied is onder wingerd. Die plaas, sowat 250 km uit Kaapstad, is die hoogsgeleë wynplaas in die Wes-Kaap, op 1 036 meter bo seevlak en ook in ‘n virus-vrye gebied. Die kelder was al die wenner van talle toekennings in die afgelope twintig jaar onder huidige eienaar David Nieuwoudt, wat die vyfde geslag van die Nieuwoudt familie is wat aan die stuur van dinge staan.
Pieter du Toit, Cederberg Wines se Bemarking-en-Kliënteverhoudingsbestuurder, het ‘n uitstekende wynproe aangebied, wat ingesluit het Cederberg Chenin Blanc, Cederberg Sauvignon Blanc, Cederberg Rosé, Cederberg Bukettraube, Ghost Corner Bowline, Ghost Corner Semillon, Ghost Corner Pinot Noir, Cederberg Shiraz en Cederberg Cabernet Sauvignon. Eienaar David Nieuwoudt het ook ingeloer en ‘n Magnum (1,5 liter) Cederberg Shiraz 2019 aan ons geskenk, wat tydens die braai Sondagaand deur almal geniet is.
Na ‘n Saterdagmiddagbraai, waartydens ons weer van Riaan se krummelpap en shebasous genuttig het, het die groep die aand die Cederberg Astronomical Observatory (geleë op die plaas Dwarsrivier) besoek. Dit is ‘n private inisiatief en die NPO het sewe vennote. Een van hulle is Malcolm Cerfonteyn (PRG 1969), wat ook ons gasheer vir die aand was. Malcolm se voorlesing was leersaam en met behulp van die teleskoop kon ons die kraters op die maan waarneem, asook Venus, Jupiter, die Suiderkruis en die Melkweg.
Vroeg die Sondagoggend is die hele groep na Cederberg Park op Kromrivier om die 10 km lange Disa Pool-staproete saam te doen. Hoewel dit as ‘n vlak 1-staproete geklassifiseer word, met matige blootstelling aan hoogtes, was dit nietemin uitdagend. Twee belonings het op ons by die draaipunt gewag: Die waterval met sy swemkuil, asook rooi disas (die Wes-Kaap se provinsiale blom) in volle blom.
Na ‘n heerlike afkoel in die swemkuil is die terugtog in warm sonskynweer aangepak – yskoue biere by die eindpunt was ‘n welkome lafenis. Die aand is daar vir oulaas in die Sederberg gebraai en saamgekuier deur die groep. Ons kon nog smul aan die laaste van Riaan se krummelpap en shebasous vir die naweek en het almal aan David Nieuwoudt se geskenk, die Magnum Cederberg Shiraz 2019, geteug.
Maandagoggend, 27 Februarie, was tyd vir oppak en koers kry na Stellenbosch, vir ons week-lange reünieprogram by ons Alma Mater.
Die Stellenbosch Reunie-week
Op Dinsdag, 28 Februarie, het die getal manne wat die reünie bywoon, verdubbel tot 41 toe ons die Skoolverjaarsdag-saalbyeenkoms in die Paul Roossentrum bywoon. Manne wat ver gereis het om by ons aan te sluit was Johan Bouwer (Nederland), Abe Bardin (Frankryk) en Danie Davin (Namibië).
Ons 1973-groep het die sentrum laaste binnegegaan onder ‘n erewag en ritmiese PRG handeklap van 1 300 leerders. Ons almal se gewaarwording en ervaring van dié byeenkoms word pragtig verwoord deur Dirk Loots:
“Toe ek vanoggend in daai saal afstap vorentoe, was ek baie baie trots om deel van die geskiedenis van ons roemryke skool te kan wees. In elke wedloop, so het my ouers my geleer, is daar ook dié wat deelgeneem het, maar nie op die podium staan nie, die “also ran’s”, waarsonder daar nie n wedloop kan wees nie! In PRG se annale is baie van ons in daardie kategorie, maar ons is steeds baie trots op die feit dat ons oud-Paul Roosers is. Dankie dat ons onvoorwaardelik deel van die span uitmaak.”
Skip het namens die Klas van 1973 ‘n paar gevleuelde woorde met die skool se onderwysers en leerders gedeel. Ons passie en trots op ons Alma Mater is onwrikbaar en ons hou steeds vas aan die waardes wat PRG meer as 50 jaar gelede by ons ingeskerp het.
Die gasspreker was Pieter du Toit (Old Boy 1997), wie se jongste boek “The ANC Billionaires” onlangs verskyn het. Hy het ‘n oorsig gegee oor die drie dekades se politieke, ekonomiese en tegnologiese veranderinge wat die skool en die land ervaar het sedert hy in 1993 in Graad 8 by PRG begin skoolgaan het. Hy het afgesluit deur leerders aan te moedig om hulle opvoeding te gebruik om positiewe veranderinge en oplossings vir Suid-Afrika en die wêreld te weeg te bring. Ten slotte, het rektor André van Staden ‘n besielende verjaarsdagboodskap gelewer oor die sleutelvraag: Gaan jy die skool as ‘n beter plek agterlaat nadat jy hier klaargemaak het?
Na die Saalbyeenkoms het die 1973-manne vir ‘n boomplantseremonie langs die PRG Krieket Ovaal vergader. Ons groep het twee wildepruimbome en ‘n waterpeerboom aan die skool geskenk wat om die Ovaal geplant sal word as inheemse en immergroenspesies. Ons groep het daarna koffie en tee by Aunty Sophie’s langs die Eersterivier genuttig.
Dié middag het Richard Murray, Nols Heunis, Boksie de Clercq, Ferdie Gerber, Vito Bonafede, Danie Badenhorst, Egmont Sippel en Pieter van Zyl balletjies op Stellenbosch Gholfbaan rondgejaag.
Op Woensdag, 1 Maart, is PRG se 157ste verjaarsdag gevier. Vyftien 1973-manne het ‘n kransleggingseremonie deur die Leerlingraad en Graad 8 leerders by die standbeelde van die PRG stigters Murray, Hofmeyr en Neethling in die tuine van die Kweekskool en NG Moedergemeente bygewoon.
‘n Besoek aan die PRG Argief het daarna gevolg. Argivaris Mariena Kotze het met entoesiasme en oorgawe die “kroonjuwele” van die skoolgeskiedenis met ons gedeel. Argiefstukke van talle sportmanne, politici, kultuurmense en beroepslui is gebruik. Sy het ook spesifieke uitstallingstukke met betrekking tot die Klas van 1973 onder ons aandag gebring.
Met koffie en tee in die Skoolvierkant (nou “PRG Plein”) is ons deur die rektor verwelkom, waarna adjunk-rektor Frans van Niekerk ons met groot trots op ‘n begeleide toer van die skool en al sy fasiliteite geneem het. Ons kon die opgradering en uitbreiding van die koshuisfasiliteite sien en hoor van die planne om addisionele koshuisgeriewe te ontwikkel. Die Anthonij Rupert Akwatiese Sentrum en die PRG Krieketovaal met sy binnenshuise oefengeriewe is wêreldklasfasiliteite. Die gimnasium en “High Performance Centre” (tans in aanbou) bied ongelooflike ondersteuningsfasilteite vir al die sportsoorte en –manne. Die Marköttersportgronde met sy pawiljoene, klubhuis en binnenshuise oefengeriewe is eweneens wêreldklasgeriewe. Die skool het ‘n wenformule gevind om fasiliteite met Stellenbosch Universiteit en Stellenbosch Academy of Sport (SAS) te deel. Lank mag PRG nog voortbou op sy tradisie van uitnemendheid op alle terreine van die opvoeding. Die dag is afgesluit met middagete in Roosinbosch, die kafeteria wat ingerig is in die destydse fietsloods onder die Japie Krige-saal.
Op Donderdag, 2 Maart, hergroepeer ons by die Simonsig-wynlandgoed net buite Stellenbosch. Simonsig is sinoniem met die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse wynbedryf, die Stellenbosch wynstreek en die Malan-familienaam. Dit is hier waar wyle Oom Frans Malan die vlagskip Kaapse Vonkel, Suid-Afrika se eerste Méthode Cap Classique in 1971 gemaak het in die klassieke bottel-gefermenteerde styl. Oom Frans was ook een van die drie stigterslede van die Stellenbosch Wynroete, in 1971, destyds ‘n eerste in Suid-Afrika. Vandag word die Malan nalatenskap voortgesit deur ons tydgenote Francois (PRG 1974) and Johan (PRG 1976), asook hulle kinders.
Na ‘n keldertoer, waartydens ons ‘n oorsig gekry het oor die produksie van die Kaapse Vonkel en ook die huidige oesjaar se produksielyn daarvan kon aanskou, is die groep getrakteer deur Jannie Rossouw met ‘n demonstrasie onder luide toejuiging van die klassieke kuns van “sabrage”. Soos die offisiere in Napoleon se weermag in the laat 1700’s, het hy ‘n bottel Kaapse Vonkel met ‘n sabel oopgemaak.
Daarna was Johan Malan ons gasheer tydens die wynproe, waar ons onder meer die Simonsig Chenin Blanc, Mediterraneo, Mr Borio’s Shiraz, Pinotage, The Garland, Redhill Pinotage, Cabernet Sauvignon Shiraz Blend en Labyrinth Cabernet Sauvignon geproe het – inderdaad voortreflike wyne vir elkeen se smaak en voorkeure.
Ons besoek aan Simonsig is afgesluit met hulle smaaklike “mixed cheese and charcuterie platters”, wat genuttig is terwyl die manne en hulle gades ‘n hond uit die bos gekuier en gesels het.
Twee krieketspanne saamgestel uit die manne van 1973 het op Vrydag, 3 Maart, aangetree vir ‘n eiesoortige wedstryd op die PRG Ovaal, gespeel volgens ons eie unieke stel reëls wat Ferdie Gerber opgestel het:
- Slegs een kolwer kolf op enige tydstip.
- Elke kolwer ontvang 10 balle.
- Een lopie as balkontak maak word met kolf [kolwer hoef nie te hardloop nie].
- As kolwer wil hardloop (byv 2 lopies) mag hy, maar hy kan uitgehardloop word!
- ‘n Vier is ‘n 4 [verby grens] en ‘n 6 ‘n ses [oor grens], soos in gewone krieket, met ‘n bonuspunt ook vir raakslaan van die bal.
- As jy uit is, geboul of gevang, kry jy -2 (vir die bal), maar jy gaan voort om te kolf vir jou volle 10 balle.
- Geen BVP nie!
- Na 10 balle gee jy oor aan volgende kolwer.
- Die boulspan kies (minstens) 6 boulers.
- 5 boulers kan elk 2 boulbeurte van 10 balle boul.
- 1 bouler sal 1 boulbeurt van 10 balle boul.
- Bouler wat ‘n wydloper boul moet die bal oorboul [1 lopie vir kolwer].
- Bouler het ‘n maksimum 3 meter ‘run-up’.
- 1 x Paaltjiewagter vir elke span.
- 1 x Skeidsregter.
- 1 x Tellinghouer.
Hoewel dit nie ‘n skouspelagtige wedstryd was nie, het dit vir groot pret gesorg. Jannie Hanekom het hom moeg gehardloop as “runner” om te kompenseer vir talle knie- en heupongevalle onder die manne. Abe Bardin se span (met heelparty 1973 Eerste XI-tal spelers in sy geledere) het ‘n baie skaflike teiken van 170 lopies gehaal, met Ferdie Gerber, Nols Heunis en Egmont Sippel as die grootste bydraers. Na die “drinks break” wat geborg is deur Michael Prins, het Andre Benkenstein se span gekolf – Schalk Liebenberg, Jannie Hanekom en Pieter van Zyl het skaflike bydraes gemaak om uitendelik ook by 170 lopies uit te kom. ‘n Oudit van die kolflys van die Benkie XI het ongelukkig uitgewys dat daar 16 kolwers ingespan is in plaas van die toegelate 11. Die Bardin XI was dus die amptelike wenner van hierdie spesiale wedstryd.
Na die krieketwedstryd is die groep by die Markötter Klubhuis op snoekbraai en patat deur Riaan Swiegers getrakteer. Hy is deur Kobie Schonken en Michael Prins bygestaan om dié voortreflike en eg tradisionele Kaapse middagete voor te sit. Almal het lekker tot laatmiddag toe saamgekuier.
Saterdag, 4 Maart, het ‘n groep van 55 manne, gades en oud-onderwyser David Taylor vroeg by Coetzenburg die Bergpadstap van 6 km aangedurf. Dit was perfekte stapweer. Die roete, veral die eerste lang bult, het baie heimweë gebring van swoeg en sweet tydens ons skooljare en fiksword vir ons verskillende sportaktiwiteite. ‘n Paar manne het ook volgens tradisie afgekoel in die kleidam bokant Coetzenburg.
Daarna het die groep afgesit na Aunty Sophie se Kombuis op die oewer van die Eersterivier, oorkant die Kweekskool, vir ‘n heerlike brunch – waarskynlik een van die mees bekostigbare eetplekke op Stellenbosch, met ‘n wonderlike ligging. Oud-onderwyser Pieter Coetzee en sy gade, Liedie, het hier by ons aangesluit. Sertifikate van waardering is oorhandig aan Pieter en David en soortgelyke sertifikate sal nog aan oud-onderwysers Jan Vermaak en Mariette Meyer besorg word.
Die hoogtepunt van ons Klas van 1973 se 50ste Reunie was ongetwyfeld die dinee in die Markötter-klubhuis se suite Saterdagaand. Die getal 73gers by die dinee het aangegroei tot 66, terwyl die volgende spesiale gaste ook teenwoordig was: rektor Andre van Staden, oud-onderwysers David Taylor en Henry Ekron, Elza van der Walt en Mariena Kotze. Twee manne wat van ver af spesiaal ingevlieg het om daar te wees vir die aand, was Jean-Marie Questiaux (België) en Dillie Malherbe (Londen, VK). Daar was ook ‘n hele aantal plaaslike manne en gades wat moeite gedoen het om die dinee by te woon.
Ons verrigtinge is roerend geopen deur Johan Bouwer met sy uitvoering van “Amazing Grace” op harmonica, gevolg deur ‘n tafelgebed. Daarna het Nols Heunis ons gelei in ‘n gewyde seremonie, “Ons Onthou/We Remember”, waartydens herdenkingskerse aangesteek is vir die 14 klasmaats wat ons reeds ontval het: David Broughton, Nicola Freidberg, Walter Huisamen, Andre Momberg, Citto Olwage, Waldo Rust, Anton Scalabrino, Niel van der Spuy, Dawid van Niekerk, Jan van Rooyen, Danie van Tonder, Niel Visagie, Pieter Wehmeyer en Johan Wepener.
Ten spyte van beurtkrag wat ingeskop het tussen 18;00 en 20:00, is daar hartlik saamgekuier en gesels. Tussendeur die smaaklike voorgereg en hoofgereg is elkeen van die RK lede bedank vir hulle entoesiastiese deelname en bydraes tot die baie suksesvolle Reunie 50.
Skip Krige is bedank vir sy uitsonderlike bydrae met die skepping van ons dinamiese en interaktiewe aanlyn “PRG 1973 Blog” (www.prg1973.co.za). Met die kreatiewe hulp van Solid Stuff Creative Studio is die Blog platform geskep en is dit beslis iets wat die Klas van 1973 baie trots op kan wees. Skip en Abe het elke lid van die RK beskenk met ‘n bottel uitsoekwyn. Michael Prins het namens die RK ‘n geraamde sertifikaat aan Pieter van Zyl oorhandig as ‘n blyk van waardering vir sy leiding tydens die beplanning en implementering van die reëlings om die reünie te laat realiseer.
Johan Bouwer het toe oorgeneem as die afslaer van twee van ons gedenkpakwyne. Die gedenkpakke bestaan uit ses uitsoekwyne wat Frank Meaker van die volgende landgoedere/wynkelders verkry het: Meerlust, Kanonkop, Alto, Mooiplaas, Bosmans (Wellington) en Simonsig. Die wyne is aangekoop van die produsente en verkoop aan die manne teen R900 per gedenkpak. Die kleinhandelwaarde van die wyne in die sespak was R 1,670.
Daar is besluit om die wyne afsonderlik op te veil. Johan het gewoeker met die aanbiedinge en kon daarin slag om ‘n bedrag van R 60,300 in te samel, danksy ruimhartige bydraes van Dillie Malherbe, Eddie de Villiers, Niel du Bois, Jean-Marie Questiaux, Harry Erasmus, Gaika Cillié, Francois Cillié, Danie Davin, Boksie de Clercq, Dirk Loots en Kobie Schonken.
Weer eens is daar tot laataand gekuier– amper asof om vas te hou aan hierdie baie spesiale gebeurtenis waarvan ons almal deel kon wees.
Op Sondag, 5 Maart, is die reünie op ‘n gewyde manier by die erediens in die NG Moederkerk afgesluit. Heel gepas so aan die einde van ons tien dae van reünie-aktiwiteite, neem leraar Irénée Heyns sy boodskap uit 1 Korintiërs 13:8-13 –
“Ons kyk nou in ‘n spieël met ‘n dowwe beeld…”
1 Korintiërs 13:12 praat oor hoe ons die lewe sien. Ons kyk soos in ‘n dowwe spieël en sukkel soms om sin te maak van die realiteit. Die Griekse woord wat hier vertaal word as ‘dowwe beeld’, is aenigma. Wat jy in die spieël sien is enigmaties, raaiselagtig, onduidelik. Jy sien ’n beeld, maar jy weet nie of dit wat jy sien die volle storie vertel nie. Om nie alles te weet nie, is wat elke dag ‘n heilige enigma maak. Soos G.K. Chesterton sê:
“The riddles of God are more satisfying than the solutions of man”.
Ons word soos Paulus en Job en vele ander geroep na ‘n lewe van verwondering; om midde die geheimenisse en groot vrae van die lewe bewus te raak van God se liefdevolle teenwoordigheid. ‘n God wat ons uitnooi: “Maak oop jou hart, kom neem deel en kyk!”
Terugskouend, het 50 van ons oorlewende 91 Klasmaats ten minste een van die reünie-aktiwiteite bygewoon, dus ‘n bywoningspersentasie van 55% – heelparty van ons het die volledige program bygewoon. Inderdaad, het die lede van ons Klas van 1973 wat deelgeneem het aan die Reünie 50 ons harte opnuut oopgemaak vir ons Alma Mater en ons klasmaats van destyds – dit wat ons gesien en ervaar het was baie goed en dit was indrukwekkend om in die Paul Roos Gimnasium van 2023 steeds ‘n tydlose opvoedkundige instelling van die hoogste gehalte op die oewers van die Eersterivier op Stellenbosch te vind.
SEMPER SPLENDIDIOR
