Ek is op Stellenbosch gebore en kom uit die dorp se Bottelary Krige-stal (een van elf takke).
My oupagrootjie, oupa, pa, broers en broerskinders was almal op PRG.
Ek het tot standerd 3 in Denneoord skoolgegaan en in standerd 4 by Sheila de Kock ingeval. Onthou julle nog die houe op die kuite!! Chris Kapp het waarskynlik die pak slae gegee wat ek die beste sal onthou.
Tjoepies se stories oor Europa het my gemotiveer om die wêreld in te vaar.
Stellenbosch bied al die geleenthede waarvan ‘n mens kan droom: die dorp, PRG, Maties, sport, wynlande en natuurskoon. Op skool, in die ‘army’ en op Maties was rugby ‘n prioriteit en het ek die land en sy mense gesien. Ek het onderwysvakke geswot en is vir twee jaar Oxford toe met Geografie as dissipline. Dit was ‘n verrykende ervaring.
Ek is ook daar in die laat 1970’s blootgestel aan die euwels van apartheid en dat ons president in die tronk sit: een jaar van kultuurskokke! Daarna beland ek in Bloemfontein waar ek by Kovsies doseer met die fokus om studente voor te berei vir die ‘nuwe’ SA en politieke verandering: weereens ‘n kultuurskok, ietwat langer as Oxford s’n.
Ek is met Barbara getroud (wat in 2014 oorlede is) en ons drie kinders het ons goed besig gehou, veral langs die sportvelde. Die PRG-Grey Derbies het gemengde gevoelens gehad.
Hoogtepunt by Kovsies was ons as gesin se ses maandelange studieverlof in Europa. Na sowat 20 jaar by Kovsies betree ek die wêreld van Faith Based Organisations (FBO) om deur middel van navorsing, fasilitering en netwerke ‘n gemeenskaplike visie vir die stad te ontwikkel.
Ons keer na 25 jaar terug na die Boland (Somerset-Wes) en ek besef die waarde om noord van die Hexrivierberge aan die ware SA blootgestel te wees.
Vir ‘n tyd lank was ek betrokke by die poging om aan internasionale toeriste die Kaap, die Wynlande, Tuinroete en ‘Best of SA’ te wys.
Sekerlik die grootste les wat ek tot dusver geleer het, was na Barbara se afsterwe: emosionele pyn wat sleg is, maar nodig om te groei. Ek het ‘n ‘mission statement’ en ‘personal score card’ (veertien temas) ontwerp wat my fokus gee, veral tydens die Covid-tyd.
In 2015 is ek deur Mergon Foundation aangestel om ‘n SA Christian Directory saam te stel en ek is steeds daarmee betrokke: wie doen wat waar? Ek is in 2017 getroud – met Alta (nuwe skop wat ek van universiteitsdae ken) en het ons behoorlik die wêreld platgetoer. Twee stelle kinders (vyf, plus vier aangetroud, wat almal nog in SA woon) en altesame nege kleinkinders hou ons goed besig.
Vir my was 2022 waarskynlik dié hoogtepunt ten opsigte van toerervaring, toe ons 17 van die VSA se nasionale parke besoek het: ‘awesome’ verby. Ons het ook saam met ‘n groep ‘n 4 x 4 toer tot in Ethiopië meegemaak (Afrika se infrastruktuur is besig om te gly en die oorsteek van grense is ‘n pyn); en die Skedelkus tussen Swakopmund en die Kunenerivier verken: sand, sand en nogmaals sand.
Verskeie verantwoordbaarheidsplatforms help my om genoeg brandstof in die tenk te kry. Met almal van ons wat aftrede of semi-aftreeouderdom bereik, is die groot vraag: wat gee jou energie? Die waarde van goeie gesondheid skiet die hoogte in en ‘n mens probeer om ‘n ‘ou toppie’-beeld te vermy.
Vir my is oorsese, Afrika- en binnelandse reise hoog op die agenda (terwyl die gesondheid hou). My motto is: ‘Kingdom first; enjoy who I am; live now; journey together; celebrate family life; love outdoors, travel & gardening; research; and love my town, SA & Africa’.
Op my wenslys: Kroasië, die Griekse Eilande, Machu Picchu, Amerikaanse Weskus vanaf Chile tot by Alaska.


