My lewenspad na 1973 was voorwaar interessant.
Julle sal my onthou as een van die kleinste en maerste outjies in die klas. Kon nie sport doen nie, asma het erg gepla daar in die bos. Het op die kleinhoewe Horama in Paradyskloof groot geword, reg langs ‘n denneplantasie. Ai tog, daai stuifmeel en asma het gebots. Dit sou ek eers jare later uitvind.
My “beste” prestasie by PRG was dat ek die Screuderbeurs gewen het met die hoogste punte vir houtwerk in std 8! Daai R5 tjek is gou gewissel. Daarmee het ek `n Stanley-houtskaaf by I Perel in Dorpstraat (nou Builders Warehouse) gekoop. Houtwerk en bou is steeds een van my stokperdjies, eintlik ‘n besigheid.
Tans is ek besig met planne vir my en Alma se aftreehuis in Lynnwood – 345 m2 met 4 garages. Natuurlik veels te groot, weer eens! Ons ou manne leer mos nie of hoe praat ons nou? My een vriend sê gister ek is mal om op dié ouderdom te bou!
Verder kon ek “sparks”maak met my 50cc Yamaha om die Poskantoorsirkel, met die foot pegs! Vra maar die Basson-tweeling, Tertius Kruger en die ander 50cc manne. Hulle kon dit nie doen met hul fifties nie. My ma se Valiant kon ook sideways om einste sirkel gaan. Spoed was in my bloed, mal oor wedrenne en tydrenne. Meer daaroor later.
Na my eerste jaar by CPUT in meganiese ingenieurswese saam met Johan Cillié en Reinhardt Otto het ek in 1975 by RMA (Rosslyn Motor Assemblers) of Datsun as student-ingenieur begin werk. Product Development, bekend as die British Parliament omdat omtrent al die manne uit Brittanje ingevoer was, was `n interessante plek. Sestig present van `n motor in gewig moes in SA vervaardig wees.
Hulle was nogal jaloers op die agt nuwe plaaslike studente wat begin werk het. Ons het almal managers geword. Gelukkig het ek gou bevriend geraak met een van die puik Engelse bestuurders wat my onder sy vlerk gehou het. Hy het my bevorder na Truck Makers wat Samil (Ivico) gebou het vir die Weermag. Ons moes die Deutz se lugverkoelde enjins met waterverkoeldes van ADE vervang. Alles vir Volk en Vaderland?
Truck Makers het op `n koste plus basis gewerk. Ons het goed verdien, beter as by Datsun/Nissan. Het gevorder tot hoofingenieur en toe gaan diensplig doen. Na dié gloriedae is ek terug Nissan toe om die plaaslike inhoud van Suid-Afrikaanse enjins op te stoot.
Dit het `n maand se opleiding en enjintoetse by Nissan in Japan ingesluit. Manne as julle vinnig wil gewig verloor, gaan Japan toe vir `n maand. Hoogtepunte daar was die Tokio Motorskou en die 1000km Japannese Toervoertuigwedren op die Berg Fudji-renbaan. Nissan Skyline GTR`s het die eerste vier plekke ingeneem. My dag na die strand was `n ander storie. Japan se verkeer het gemaak dat ons van seweuur in die oggend tot tienuur in die aand in knope vasgesit het. Het darem die strand uit die kar gesien.
Ek het goeie en moeilike tye in die motorbedryf beleef en toe op 54 vrywillig ‘n pakket aanvaar.. Gelukkig nooit teruggekyk nie. Net die lekker betaalde reise en maatskappymotors gemis.
Oor die jare het ek baie eiendomme gekoop en verhuur, vandag nog. By Nissan was ek ook verkoopsbestuurder by Nissan Forklifts. `n klein afdeling van Nissan SA. Verkope en wins was swak. My uitdaging was om dit reg te stel. Nissan het my op `n bestuurskursus by Unisa gestuur. Vurkhysers is unieke masjiene en ek kon sien daar behoort meer wins as in karre te wees. Vandag verkoop ek steeds vurkhysers en het ook my eie huureenhede.
Met baie lojale kliënte oor SA heen, is ons deur Covid en die verkope en wins bly goed, waaroor ons dankbaar is. Vir my is daar nog geen aftrede in sig nie, maar ek is jaloers op my maters wat dit kon doen of moes aftree.
Eiendomme hou my baie besig, te besig en besorg my te veel stress, om die waarheid te praat. My lot is dat ek sal moet werk tot die dood! Dit klink wreed of is dit? Moenie my verkeerd verstaan nie, ek sê net, ek kla nie. As ek tyd gehad het, sou ek en Alma graag saam Sederberge toe gegaan het.
Ek het in die Paasnaweek van 1987 met Alma Grobler op Bethal getrou. Dit was die enigste oop naweek in ‘n jaar vol wedrenne en werk. Ons vriend en SA tydrenkampioen Hannes Grobler het ons troukar gery. Sy is steeds `n engel in my lewe. Ons is al deur dik en dun.
Ons het drie kinders. Thomas, nou 34, doen sonkrag en het sy besigheid verkoop aan Murray & Roberts. Hy is steeds daar. Pieter, `n siviele ingenieur wat sy graad aan UP verwerf het, is getroud met Stephanie. Hulle het twee pragtige dogtertjies, die 2 en ‘n half jaar oue Ava en Clara, 4 maande oud. Hul ouma Alma en oupa George is mal oor hulle. Karen is ons jongste. Sy het by TUKS as bedryfsingenieur afgestudeer en werk by Imperial Logistics. Ons bly almal in die ooste van Pretoria.
My geluk was dat ek in Pretoria asma ontgroei het. Verandering in klimaat is goed vir asma. Ek het ook fisiek gegroei na skool en weeg nou 50 persent meer as toe. Skande, né? In matriek het ek gedink Skip is `n reus van `n man. So is ons almal uniek, nie waar nie?
Motorsport was 36 jaar `n groot deel van my lewe. Ek het dit ook as `n besigheid bedryf. Het die goue jare van SA Motorsport beleef, toe elke vervaardiger ‘n afdeling daarvoor gehad het. Lewende TV uitsendings met uitstekende persdekking het baie gehelp.
Ek het Iets van alles gedoen met die hulp van Nissan/Datsun. My eerste wedren op Kyalami was met `n Datsun 120Y. Daarna het `n 1600SSS, Datsun 6 silinder Laurel, Skyline, Stanza SSS, ‘n aangepaste Pulsar 1400 GX gevolg en ek het onder meer ‘n klaskampioenskap gewen. Toe volg die Nissan Exa, die Sentra 1600GX Coupé, die aangepaste produksiekar Senta 200STI, waarmee ek weer ‘n klaskampioenskap wen, en die Sentra 200STI toermotor.
Toe bou ons `n Primera 200STi Procar, wat met die Touring Cars meeding en waarmee ons die SA Procar Championship in 1999 wen. Wedrenne was groot in daardie jare, lekker man. Het `n voltydse ingenieur gehad en ‘n CAD in my garage vir die ontwerp en teken van renonderdele. Die UD trok was geborg. Toe vou alles einde 2000.
Daarna het ek aan die Super Saloon Cars reeks deelgeneem en menige wedrenne/kampioenskappe gewen tot Covid tyd. Goeie tye voorwaar. Uitstekende borge ook gehad, manne wat lief was vir die sport.
Maar kom ons praat meer daaroor, by die reünie. Sien julle manne daar!




