Jan Albert Van Rooyen
RIAAN SWIEGERS SE ONTHOU
Hoe skryf een mens ‘n artikel oor ‘n ander mens? Een wat self beter as die skrywer kon skryf en duidelik meer verstand gehad het. Elke indiwidu het ‘n eie diepgesetelde self, sy siel, en laat slegs enkele vertrouelinge toe om so dan en wan in te loer. Geen buitestander kan ooit ‘n lewe na amper 50 jaar terugroep nie.
Jan Bal, soos die altyd gereserveerde volwasse en stil Jan van Rooyen algemeen bekend gestaan het, het in die hoërskooljare by ons in Paul Roos aangeland. Hy het nie rimpelings gemaak nie. Min gepraat, nooit gebrag nie. Niemand geboelie nie. Slegs enkele kere werklike emosie gewys en eenvoudig ingeskakel om deel van die hoofstroom te word. Jan het in ‘n wye vriendekring beweeg. Verskeie staaltjies van kuier met stille oorgawe, laatnag verdwaal op die N1 oppad huis toe, wegsteek van kontroversiële proviand in die bospaadjie en die ongelukkige verlies daarvan.
Min was aanvanklik bewus van die werklike rede vir sy afwesigheid van die sportveld. Mettertyd het sy gawes bekend geraak. Akademies baie veelsydig, goed in tale en kon hy met woorde speel? Min woorde. Sy verborge besondere kunstalent het tydens die voorbereiding van die 1972 Matriekafskeid op makroskaal gestalte geneem toe hy leiding met die “opmaak” van die Stadsaal geneem het. Jan het sy troepe een vir een onder hande geneem en elkeen ‘n jop gegee. Plak die papier daar en vat daai kwas en verf daai verf op die onderste derde. Daar was drie breë bande, onder swart, donker rooibruin in die middel en bo ligte baksteen beige-pink.
In daglig het dit gelyk of ons oppad was na ‘n groot debakel. Toe kom Jan agterna, neem ‘n kwas en skilder kaktusse en al die ander goed wat jy in die agtergrond van ‘n cowboy-fliekdorpie sal aantref, lewensgroot en in perspektief. Kunstig belig het ‘n sonsondergang kunslewe gekry, voorwaar ‘n makro-meesterstuk! Daar het se identiteit lewe gekry, werklik lewe gekry en vandag leef dit nog so in die gedagtes van almal wat daardie aand sy werk onder oë gehad het.nog
Vir sy vriende was Jan ‘n stille inspirasie. Kuier was deel van sy lewe. Meeste fotos’s van hom is waar hy geleenthede, funksies en danse bywoon.
Eers na skool het sy gesondheidsuitdagings meer algemeen bekend geword. Lekhartprobleme het sy lewe intens beïnvloed. Kort na skool het ‘n groep van die 1973 Matriekklas Dwarsberg en die Kurktrekker agter in Jonkershoek aangedurf. Jan het saam gestap, lekhart en al. Swaarkry het hom nie gestop nie, ook nie laat kla nie. Hy het dit aangepak en klaargemaak.
Jan kon na ‘n tydperk van mediese intervensie nie die enigste realiteit van die lewe vryspring nie. Op XXX verloor hy sy lewenstryd.
Tog leef Jan voort in ons gedagtes.
